Dit is tyd om met God reg te maak.

"Kyk nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2 Korintiers 6:2).

Hierdie boodskap is vir almal wat afvallig geword het van die Here. Hierdie woord “afvallig” beteken om jou rug te draai, weg te keer, om jou geloof te misken teenoor die Here. Volgens Paulus wat die bostaande vers geskryf het, “nou is dit die dag van redding,” met ander woorde: As jy ooit van plan was om te glo dan is dit nou die tyd.”

Hierdie woorde van Paulus is sowel’n uitnodiging as ‘, waarskuwing Die waarskuwing is: “Moenie die genade van God tevergeefs ontvang nie. Moet dit nie ignoreer nie. Moet nie God se offer van genade verontagsaam of verwerp nie. Reageer nou, terwyl dit vir jou aangebied word.”

Jesus het gewaarsku dat baie gelowiges sal wegdraai en koud sal word: “Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde van baie verkoel”(Matteus 24:12). Die boodskap is duidelik: Baie wat aan die brand was vir die dinge van God gaan wegval. Hulle sal in geestelike koudheid verval. Baie sal na hulle ou geestelike wee terugkeer. Wanneer sal dit gebeur? Dit sal gebeur soos Jesus sê:” (Matteus 24:8)

Al hierdie afvalligheid wat ons vandag beleef, die wegdraai van geloof na ongeloof - sal op ‘n tydstip gebeur as ons dit die minste verwag. ‘n Mens sal in so ‘n tyd verwag dat mense nader na God toe sal kom. Ons is aan die begin van daardie tyd, wat Jesus noem die begin van die smarte.” Selfs bekende stemme in die wêreld stem saam: Hierdie is die dae van ongehoorde boosheid, gekenmerk deur onbeteuelde hebsug, onbeheerde seksuele perversies, menigtes wat hulleself oorgee aan allerlei verslawings van verdowingsmiddels, alkahol tot pornografie.

Ek vra u: Is dit vandag die tyd om jou verlossing te veronagsaam? Verseker nie! As jy ooit vir Jesus liefgehad en Hom gevolg het, maar nou koud en onaangeraak is, dan praat die Heilige Gees nou met jou. Hy nooi jou om terug te kom na die genadige arms van Christus. Met deernis, pleit ek by jou om te luister na wat die Heilige Gees sê: “Hy wat ‘n oor het om te hoor, laat hom hoor.”

Party wat afvallig geraak het, sê vir hulle self, “Ek kan enige tyd wanneer ek lus het, regmaak met die Here. Ek is net nie gereed nie.Ek is nie kwaad vir God nie, ek het net tyd nodig vir my vriende, tyd om myself te geniet. Ek weet God is liefdevol en genadig. As ek reg is, sal ek kom. Ek sal weet as die tyd reg is.” Ek hoor hierdie woorde gedurig van jongmense wat wegdryf.

Die Heilige Gees het my gedwing om vir julle die gevaar van koudheid uit te wys. Dit beteken nie dat God Hom wegdraai van hulle wat afvallig geraak het nie, sy genade word gedurig aangebied. Die Bloed van Christus vir sondaars sal nooit sy krag verloor nie, maar koudheid het ‘n kragtige en voorspelbare uitwerking.

Geestelike koudheid veroorsaak ‘n verharding van die hart.

Die term “verharding” dui ‘n toestand aan wat buite bereik is van die invloed van genadige pleidooie, enige oortuiging van die Heilige Gees. Dit begin met koudheid – ‘n self opgelegde wegdraai van God, met geen plan om die roepstem van die Evangelie te gehoorsaam nie. Vir hulle wat in koudheid teenoor God se stem volhard – wat wegdraai van die Heilige Gees af - is verharding onafwendbaar.

Paulus verwys hierna as hy sê: voordat Christus terugkom, “sal daar ‘n afval plaasvind.” Hy praat van ‘n massa afvalligheid, wat deur die loslating van die Antichris gevolg sal word (sien 2 Tessalonisense 2:3). Hulle wat nie die waarheid liefgehad het en tot hulle redding aanvaar het nie (2:10) sal onder ‘n groot misleiding verval; hulle sal die leuen glo en nie die waarheid nie. En hulle wat hulle afgerwend het van Hom wat die waarheid is, sal verval in “gruwelike misleiding van die wat verlore gaan.”(2:10)

Hebreërs gee hierdie waarskuwing: “Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar ‘n “vandag”is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.”(Hebreers 3:12-13.)

Geliefde ek vermaan jou nou soos Hebreërs sê. Ons het vroeër in hierdie hoofstuk gelees: “Luister daaarom na wat die Heilige Gees sê: Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders … “ (Hebreers 3:7,8) en (Hebreërs 4:10) “laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.”

Dat ons aan die geloof moet vashou is deurslaggewend, want die sonde wat die meeste volharding bring, is ongeloof. Israel het hulle harte verhard “in die dag van verbittering… in die woestyn”(3:8). Dit het gebeur tydens die tyd van hulle toetsing, toe versoeking oor hulle gekom het.Tydens daardie moeilike tyd lyk dit asof God se beloftes hulle gefaal het. Toe dit lyk asof God nie na hulle uitroepe luister nie, het hulle kwaad geword vir Hom.

Iets dergeliks gebeur vandag met baie Christene. Ek het met baie eenmaal – geesdriftige christene gepraat, wie se harte vandag verhard is. Dit is mense wat eenmaal getrou aan God was. Hulle het sy Woord geglo, hulle lewe gelei volgens Bybelse waarhede hulle was vurig vir God.Toe kom daar ‘n krisis. Hulle het tot God uitgeroep in hulle nood, maar hulle gebede is nie - op hulle tyd — beantwoord nie. Boos het hulle God beskuldig, “U het my teleurgestel!” Vandag wil hierdie mense nie ‘n woord hoor wat ek sê nie.

Andere het hulle pad verloor deur goddelose vriende. God se genade is steeds beskikbaar vir hulle, sy barmhartigheid is nog daar, maar na ‘n tyd het die plesier van die sonde hulle verhard.

Mag God ons help in hierdie moeilike dae dat ons waaksaam sal wees, sodat niemand in sy hart verhard sal raak in die dag van sy toetsing nie! Jy mag dink dat jy nooit jou hart sal verhard nie. Maar moeilike tye sal na almal kom wat Jesus volg, niemand is uitgesluit nie. Daarom, “Vandag, as julle sy Stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie.”(Hebreers 4:7)

Dit is nou die tyd om met God reg te maak, want die huidige geslag het hulle vrees vir Hom verloor.

Hier is die weg na verval: as daar geen vrees vir God in die land oor is nie. Die Skrif praat gedurigdeur daarvan: “… dien die Here en vermy wat sleg is.” (Spreuke 3:7). “Om die Here te dien in om te haat wat verkeerd is” (Spreuke 8:13). “Liefde en trou bring versoening waar daar verkeerd gehandel is; kwaad word vermy deur die Here te dien” (Spreuke 16:6).

Jare gelede was ek uitgenooi om by Yale Universiteit te praat. Met my aankoms is ek gewaarsku dat ‘n groep oproermakers beplan om my te onderbreek tydens my optrede. Toe ek op die verhoog stap het ek party van hulle met plakate in die gehoor gesien.

My boodskap daardie aand was: “Hel, wat is dit? En wie gaan soontoe?” Ek het presies gepreek wat Jesus gesê het: “Daar sal geween wees en gekners van tande.” Terwyl ek gepraat het, was daar absolute stilte in die gehoor. Die atmosfeer was gelaai met skuldoortuiging. Na afloop het die gehoor die auditorium in doodse stilte verlaat.

Ek sal daardie diens nooit vergeet nie. Daar was ‘n vrees vir God in daardie plek. ‘n Goddelike ontsag, selfs onder hulle wat die meeste weerstand gebied het, teen die Evangelie. ‘n Bekende joernalis van die “New York Times” het verslag gedoen. Hy het later vir my gese: “Die plek was so stil, dat my pen ‘n geraas gemaak het.”

Terwyl ek deur die voorportaal gestap het, was sommige van die voorgenome oproermakers daar. Toe hulle my sien, het hulle weggedraai. Hulle het geen verklaring gehad vir die majesteit en heiligheid van God wat hulle so pas ervaar het nie.

Ek moet sê daardie dae van vrees vir God is verby. Vandag het die Satan ‘n evangelie van gemak en gerief losgelaat. Daar is betaalde advertensies advertensies op die New York busse wat sê: “Daar is geen god nie – Geniet jouself!” Op die Londonse busse is daar soortgelyke advertensies, “Daar is geen god nie – laat ons jol!”

Waarom hou sulke verwysings na God hardnekkig vol? Dit is omdat die mensdom nog nooit die vrees vir die gevolge van sonde kon afskud nie. Die wêreld word geteister deur die werklikheid van die Oordeelsdag, die dag van afrekening en die hel. Die Heilige Gees is getrou om elke geslag te waarsku, hoe verdorwe ookal. En Hy is besig om nou te praat.

As daar geen vrees vir God is nie, skep die mense ‘n evangelie van gerief.

Die wêreld het ’n evangelie saamgeflans waarin daar geen God is nie, en geen hemel of hel nie. Daar is geen hiernamaals en geen tyd om verantwoording te doen nie.

Waar pas Jesus in hierdie gerieflikheids-evangelie? Hy is deel daarvan – maar dit is ‘n heeltemaal andersoortige Jesus! Dit is ‘n ander Jesus, ‘n verdraagsame mens wat geken word deur sy menslike liefde. Hy omhels alle gelowe, asook eenslagtige huwelike, en verklaar dat daar geen goed en sleg is nie. Daar is geen sondaars vir hierdie Jesus nie – sonde en afwykende gedrag word nie eers genoem nie. Sy boodskap is dat jy nie eers hoef te verander nie, want daar is niks verkeerd met jou nie. Daar is eenvoudig geen veroordeling en wraak in hom nie.

Paulus noem dit ‘n “ander evangelie” (Galasiers 1:6). En hy waarsku dat hulle wat dit preek “die evangelie van Christus verdraai” (Galasiers 1:7). Soos julle kan verstaan is dit ‘n verleidende evangelie, wat baie mense aantrek. Menigtes, veral jongmense word hierin vasgevang. Dit verklaar waarom toenemende getalle christen –jeug in eenslagtige huwelike betrokke raak. Baie evangeliese kerke neem hierdie verleidende evangelie aan. Dit gebeur netsoos Paulus voorspel het: “Baie sal mislei word, ‘n leuen in plaas van die waarheid, glo.”

Die wêreld mag die Bybel verwerp asook die ware Jesus die Seun van God. Die wêreld mag ook ontken dat daar ‘n hemel en ‘n hel is. Daar sal altyd ‘n ontkenning wees van Christus se opstanding, sowel as ons eie opstanding uit die dood, deur die krag van God.Maar Jesus se self dat daar na die dood ‘n dag van oordeel kom. Hy waarsku teen ‘n letterlike hel waar daar geween en gekners van tande sal wees. Hy sê dat duisternis in die hel gevoel kan word, dat die wurm nooit doodgaan nie, bedoelende die gewete.

U sien, om te sê dat daar geen God is nie, geen hel en geen oordeelsdag nie, verander die werklikheid nie. Wat ‘n ondenkbare skok moet dit wees om in die ewigheid wakker te word en uit te vind dat dit tog waar is. Paulus gee hierdie waarskuwing: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toergeskroei is” (1 Timoteus 4:1-2).

Hier is ‘n duidelike waarskuwing van God aan alle afvalliges. Dit is ‘n genade-roep. Dit is asof ‘n boodskapper langs die breë weg van vernietiging staan en uitroep: “Draai om! Draai om! Die pad waarop jy loop, lei na die verderf.” Die boodskap is ware liefde en genade.

Dit is nou tyd om reg te maak met God, want Jesus kom baie binnekort.

Almal wat in Jesus glo, weet in hulle harte dat die tyd naby is. Christus het baie daaroor gesê. Dit is waar dat niemand die presiese tyd ken wanneer Hy sal terugkom nie. Jesus sê self so. Tog beskryf Hy duidelik wat vooraf sal gebeur: “Pasop dat julle nie mislei word nie… Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie” (Lukas 21:8-9).

Lukas 21:10-11, 27 sê: “Die een nasie sal teen die ander een te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal groot aardbewings wees; hongersnood en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af… En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ‘n wolk sien kom.”

Wanneer sal ons Hom sien kom? Jesus sê dit sal gebeur, “want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word” (Lukas 21:26). Sommige geleerdes sê hierdie gedeelte verwys na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. Maar dit kan nie wees nie, want die wêreld het Jesus in daardie tyd nie sien kom op die wolke met groot heerlikheid en krag nie.

Die waarheid is dat hierdie gedeelte een van die sekerste tekens is dat Jesus spoedig gaan kom. Die wêreld word geskud op ekonomiese, morele gebied deur rampe, terrorisme en met ‘n kernbedreiging deur korrupte nasies. Wat is die uitwerking van hierdie groot skudding? Dit is onmiskenbaar: Mense is vreesagtiger as ooit tevore.

Dit is verbasend dat ons nie baie preke oor die wederkoms hoor nie. Sommige preek dat Hy sal kom, maar nie in ons tyd nie. Andere preek, “Die kerk moet eers die heerskappy kry en dit kan duisende jare neem.” (Hierdie siening is die fondasie van die lering van “heerskappy teologie”).

Jesus waarsku teen so ‘n denkrigting. Hy sê: “Maar as dit ‘n slegte slaaf is, sal hy by homself dink, my eienaar bly lank weg”. Paulus herhaal dit: “Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. By die laaste trompet sal dit in ‘n oomblik, in ‘n oogwink gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52).

Al hierdie gedeeltes praat van “verwagting”. Volgens Paulus is dit hierdie verwagting wat ons aanspoor om die werk van God te doen: “Daarom, liewe broers, wees standvastig,onwankelbaar altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Korintiers 15:58) Ons moet altyd oorvloedig wees in die werk van die Here, standvastig tot Hy kom.

Toe ek as ‘n tiener begin preek het, het ek gepreek oor die koms van die Here. Toe ek na New York gekom het in my twintiger jare, het ek op straat vir die verslaafdes en bendelede gepreek oor die koms van Christus. Ek het gepreek oor die regverdige vrees vir God, dat die Here nie bespot sal word nie, en om daagliks te lewe met die besef dat Jesus sal kom as ek dit die minste verwag. Sedertdien het ek die boodskap oor die wêreld verkondig. En ek sal daarmee voortgaan tot my sterfdag, of tot Christus weer kom.

Jesus sê baie duidelik vir ons: “Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag totdat hy van die bruilof af terug kom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy aanklop.Gelukkig is die slawe vir wie hulle eienaar as hy kom wakker sal aantref. Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie.Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie”(Lukas 12:36,37,39-40).

Die Heilige Gees roep ons op om wakker te wees en om alles aan Jesus oor te gee – nou, vandag!

Dit is dieselfde oproep wat aan Israel gedoen is, jare gelede: “Word wakker, word wakker, ruk jou reg, Sion. Trek mooi klere aan. Skud die stof van jou af en staan op, Jerusalem, jy wat ‘n gevangene is. Maak los die toue om jou nek, Sion, jy wat ‘n gevangene is. So sê die Here: Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie; julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie”(Jesaja 52:1-3).

Hoor wat die Heilige Gees vandag vir jou sê: Jesaja se boodskap was vir Israel, maar dit is ook vir elkeen in die Messiaanse eeu. Dink daaroor na: Soos Israel is ook God se geliefdes - en jy was ook lank genoeg gevange gehou. Jy was lank genoeg in kettings gebind. Die duiwel het geen reg op jou nie. Hy het nie vir jou gesterf nie.

Dit het tyd geword dat jy sal opstaan uit die stof. As jy ‘n geloofstap neem - as jy na die genadetroon kom - sal hierdie kettings van jou afval. Ek vermaan julle vandag: Staan op uit die stof van vrees! Uit die stof van wanhoop! Uit die stof van ongeloof!

Jy behoort aan Jesus. Hy het reg op jou. Maar jy moet die eerste tree gee. Hy sal jou nie dwing om op te staan nie. Jy moet opstaan en jouself losmaak. Staan vandag op!

‘n Paar jaar gelede het ek van aangesig tot aangesig voor die boosaardige Mau Mau bende in Brooklyn se Fort Greene projekte, gestaan. Terwyl ek vir daardie verharde jongmense van Jesus vertel het, het ‘n jong bendeleier, by name Nicky Cruz, my gevloek. My eerste woorde aan Nicky was: “Nicky, Jesus het jou lief.” Dit is altyd die eerste oproep van die evangelie van Christus:”Jesus het jou lief.” Daar is genade, vergiffenis, gesondmaking beskikbaar vir almal wat in geloof wil kom.

Maar daar was ‘n tweede oproep aan Nicky en sy bende. Later by ‘n samekoms van verskillende bendes by die ou St. Nicholas Arena, het hierdie oproep gekom. Ek het vir die jongmense wat daar bymekaar was gesê: “Julle het die evangelie gehoor. Nou weet julle dat Jesus julle lief het. Maar juller moet ook weet dat julle verander kan word. Ek vra dat julle sal opstaan – nou, vandag. Kom vorentoe en gee alles aan Jesus.”

Dit was die begin van groot verandering in baie jongmense se lewens. Veranderinge met verreikende gevolge deur geslagte heen, tot vandag toe.

Laat ek vir julle die hoop wys wat ons ontvang het. Die Here sê van Israel, “Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en party sal die slawejuk moet dra.. Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? (Hosea 11:7-8) “Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig” (Hosea 14:4).

Dit was alles gesê voor die Kruis, voordat Jesus sy bloed gestort het. Vandag is hier ‘n uitnodiging. As jy dit te vore gehoor het, luister weer: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig”(Matteus 11:28-30).

Ek vermaan julle vandag, nou: Kom net. Glo. Vind rus vir jou vermoeide siel. God beloof om jou te ontmoet. Amen.