Wil Jy Regtig Hoor Wat God Sê?

David Wilkerson

‘n Paar weke gelede het ek diegene op ons poslys gevra om vir ons te skryf en te vertel van hulle kerk. Met ander woorde, is jou kerk ‘n goeie kerk, vertel ons dan daarvan  - of, as jou kerk ‘n moeilike tyd beleef, vertel ons waarom. Ek het gevra dat niemand die kerk of die herder se naam noem nie, en dat die inligting sonder skinderstories, haatdraendheid of bitterheid sal wees. Ek wou bloot net die geestelike pols van Amerikaanse kerke voel.

Duisende briewe het ingestroom van oral oor die Verenigde State en Kanada. My vrou, Gwen, en ek het dit dae lank gelees. Om die hartsgeroep van so baie Christene te hoor, was van groot hulp, maar neerdrukkend – insiggewend en tog skokkend!

Dank God vir al die skitterende berigte van beide kerke en herders. ‘n Tipiese reaksie (weerspieël in ongeveer een uit elke ses of sewe briewe) het gelees:

“Alles gaan goed in ons kerk. Ons herder is ‘n ware man van God wat nie bang is om die Woord te verkondig nie. Hy is liefdevol, tog vreesloos. Ons inkomste het gestyg en ons groei. Die aanbidding is opbouend. Ons kan skaars wag vir die volgende diens!”

Maar die oorweldigende meerderheid van die briewe wat ons ontvang, was van mense wat geestelik ly. Hulle het hartverskeurende briewe geskryf oor die doodsheid van hulle kerk. Amper sonder uitsondering het hulle begin: “Ons het ons herder lief, maar...”

Hulle het verder gegaan om te sê: “Ons kerk is vervelig. Baie mense slaap gedurende die preek! Die herder is bang om iemand aanstoot te gee, en hy preek selde enigiets negatief...

“Ons is geestelik besig om dood te gaan en ons kan nie ‘n kerk kry wat beter is nie. Ons verlang daarna om ‘n uitstorting van die Heilige Gees te hê – om ‘n oortuigende, roerende woord uit die hemel te hoor! Die herder hou aan preek, ‘Liefde, liefde, liefde’ – maar ons het mekaar ‘lief’ reguit tot in geestelike koudheid in!”

Herders het ook vir ons geskryf: “Ons het bemoediging nodig! Die werklas is oorweldigend. Ons mense sê hulle wil die waarheid hoor, dat hulle tugtiging en openbaring van sonde nodig het. Maar wanneer die Gees my aanraak en hulle wel tugtig, loop hulle uit!”

Een herder het gesê, “Ek is uit drie kerke geskop die afgelope twee jaar. Die mense het vir my gesê hulle wil hê ek moet preek sonder kompromie. Maar as ek dit gedoen het (en ek het dit in liefde gedoen) het hulle geweier om te luister! Dit het my laat wonder of daar enigeen oor was wat regtig die waarheid wil hoor.”

Jeremia was skerp in sy bestraffing van sekere herders!

Ek glo God het ‘n leër van goddelike herders vandag. Maar die profeet Jeremia het hierdie bestraffing aan huurlinge gerig: “Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die HERE” (Jeremia 23:1). “Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE” (Jeremia 23:11).

Jeremia het hierdie mans “profete van Sodom” genoem – en hy het die soort goddeloosheid wat hy in hulle gesien het, gelys:

1. Bo aan die lys was owerspel – herders met oë vol wellus! Hulle is sensueel, vleeslik en het dwalende oë.

2. Hulle wandel in leuens – die waarheid is nie in hulle nie.

3. Hulle versterk boosdoeners in hulle goddelose weë. Hulle sal nie die sonde van hulle prominente lede openbaar nie, omdat hulle die risiko loop om hulle tiende-inkomste te verminder!

4. Hulle verkondig visioene wat nie van God af is nie – maar liewer, vleeslike visioene ontwerp om hulle eie ego’s en reputasies op te bou.

5. Hulle bemoedig kompromitteerders en is bang om toegeneëntheid en ondersteuning te verloor.

6. Hulle bevorder persoonlike drome en sê, “God sê so,” wanneer God nie het nie.

7. Hulle gebruik ligsinnigheid (grappe) op die kansel – nie gesonde humor wanneer dit pas nie, maar oppervlakkige grappe!

8. Hulle leen boodskappe van ander – hulle het geen woord van hulle eie van God af nie.

9. En die ergste van alles, dit is ‘n selfdiendende boodskap. Jeremia het van hulle gesê: “So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir hulle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge: gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie” (Jeremia 23:16-17).

Geliefde, jy kan hierdie boodskap op kansels dwarsdeur Amerika hoor: “Moenie bang wees nie – Amerika gaan weer geseënd wees! Ons gaan voorspoedig wees, alles gaan reg wees. Ons doen goed! Amerika sal altyd spesiaal wees vir God...”

Maar die hartseer waarheid is dat baie wat hierdie sagte boodskap verkondig, hulle salwing verloor het. God praat nie meer met hulle nie – omdat hulle in sonde lewe!

Talle herders, evangeliste en leraars het geen reg om op die kansel te staan nie, omdat hulle onrein is! Hulle sluip videowinkels binne, en sit dan in hulle studeerkamers en kyk gemors uit die put van die hel. (Ek weet dit is waar omdat ons treurige briewe van hulle vrouens kry!) Hulle oë en gedagtes is altyd aan die brand met naaktheid en hoerery van allerhande soorte. Die meeste van hierdie onheilige huurlinge moet uit die bediening gejaag word – hulle verdoem menigtes van vertrouende skape en stuur talle jongmense hel toe!

Maar Jeremia het ook van ‘n ander soort herder gepraat: “Sy knegte, die profete!” Hulle was mans van gebed, vol van die waarheid en die Heilige Gees. Hulle was ware herders – heilige, onberispelike, vreeslose dienaars “na julle gestuur, vroeg” (Jeremia 25:4).

Die Bybel sê hierdie manne van God “het in die raad van die HERE gestaan” (Jeremia 23:18). Die woord vir “staan” beteken, met ander woorde, om ‘n gee-en-neem gemeenskap met die hemelse Vader te hê! Oor en oor in die Bybel, sal jy hierdie eienskap in elke man van God kry. Elia het voor goddelose Agab gestaan en gesê, “Ek het na u, koning, gekom, omdat ek voor die Here gestaan het!”

“Wie het sy woord beluister en gehoor?” (Jeremia 23:18). Die profete het raad van God gehoor – en hulle het dit verstaan en verkondig! God sê hierdie soort diensknegte “moet...my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hulle handelinge” (Jeremia 23:22). Hulle is nie bang om sonde te openbaar in die huis van God nie, maak nie saak wie van sonde oortuig word nie!

Die geestelike dood en kompromie in die kerk vandag kan nie heeltemal op afvallige herders geblameer word nie!

Jeremia self was alles wat ‘n honger gemeente voor kon gevra het in ‘n herder. Hy het homself afgesonder met God; hy kon teen geen prys omgekoop word nie; hy het geween oor die sondes van God se volk. Hy was gereed om sy lewe neer te lê vir die kerk – en hy was inderdaad in die tronk en in ‘n dodelike modderput gegooi omdat hy die waarheid gepraat het!

Keer op keer, sê die Skrif dat Jeremia in die Here se teenwoordigheid gewag het totdat “die woord van die Here tot hom gekom het.” (Hierdie frase verskyn meer as vyftig keer in die boek Jeremia!)

In daardie dae, was daar geen tekort aan ‘n ware woord van God nie. Die Here het inderdaad nog altyd sy ware profete en herders gehad selfs in die tye van kompromie en verval. Keer op keer lees jy: “En die woord van die HERE het gekom tot Jesaja...tot Jeremia...tot Esegiël....” Dit het gekom tot Daniël, Hoséa, Habakkuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maléagi.

En God se woord was altyd ‘n duidelike waarskuwing – vol oordeel teen sonde, maar tog vol hoop vir die wat hulle bekeer het. Dit was ‘n oproep tot afsondering van goddeloosheid – en vir ‘n voortdurende lewe van heiligheid!

Gewoonlik was daar drie soorte reaksies tot die woord van waarheid. En jy sien dieselfde drie reaksies onder Christene vandag:

1. Baie mense wil eenvoudig nie hoor wat God sê nie!

Die Israeliete was glad nie van voorneme om hulle sondige weë te staak nie. In plaas daarvan, wou hulle ‘n sagte, gerusstellende woord hê. Die profeet Jesaja het van hulle gesê:

“Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; want aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry” (Jesaja 30:9-10).

Aan die begin, was dit vir my moeilik om hierdie gedeelte te aanvaar. Ek het gedink, “Is daar vandag kinders van God wat werklik van hulle herders ‘n misleidende boodskap sal afeis?”

Ja, daar is! Jy mag hulle dalk nie hierdie woorde hoor sê nie – maar jy kan hulle reaksie sien wanneer die herder ‘n sterk profetiese boodskap bring. Hulle verlaat die kerk terwyl hulle dink, “Ek kan nie hierdie soort preke verdra nie – dit ontstel my! Ek verkies eenvoudige Bybellering oor hoe om met my probleme klaar te speel.”

Geliefde, dit is amper ‘n parafrase van wat Jesaja gesê het wat Israel wou hê: “Wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jesaja 30:11). Hulle het enige woord wat sonde ontbloot, so verag, dat hulle geëis het dat enige so ‘n boodskap gestop word!

Die Here waarsku diegene wat nie die ware Woord van God wou hoor nie: “En die HERE het gesê: Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na my stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie, maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart en agter die Baäls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het, daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek gee aan hulle, aan hierdie volk, wilde-als om te eet, en Ek laat hulle gifwater drink” (Jeremia 9:13-15).

God waarsku: “Jy kan kies om onder daardie soort prediking te sit – glad, vertroostend, sag en gemaklik. Maar dit is gif! Jy drink dood in!”

 2. Ander sê in die geheim dat hulle wil hoor wat God sê – maar hulle trots verhoed hulle om te hoor!

Koning Sedekia illustreer hierdie soort mens die beste. Hy was ‘n man van groot krag, invloed en gesag. Sy vader, Josia, was ‘n goddelike man – so ons weet Sedekia het ‘n agtergrond in heiligheid en die dinge van God gehad. Toe hierdie man die troon opgevolg het, het hy geen tyd vir die Here gehad nie – dit is, totdat ‘n krisis toegeslaan het!

Jerusalem was skielik beleër – omsingel deur ‘n genadelose Chaldeërse leër, sterk en magtig! Uiteindelik was daar ‘n tekort aan brood, en water het min geword. Sedekia het die profeet Jeremia laat roep, en by hom gesmeek, “Bid tog tot die HERE onse God vir ons” (Jeremia 37:3). Soos so baie mense wat moeilike tye beleef, het dit voorgekom asof Sedekia die waarheid wou hê. Hy het so opreg geklink – en die volk tot gebed opgeroep!

Maar Jeremia het verwoesting vir die koning geprofeteer. Omtrent daardie tyd, het die woord die omliggende Chaldeërs bereik dat Farao uit die weste in aantog was met ‘n groot leër. Paniek het die Chaldeërse laer oorval – en hulle het begin vlug: “Toe die Chaldeërs wat besig was om Jerusalem te beleër, die tyding aangaande hulle hoor, het hulle van Jerusalem af opgetrek” (Jeremia 37:5).

Verbeel jou die gejuig op Jerusalem se mure terwyl die Israeliete sien hoe hulle vyand vlug! Jy kan al die leiers, regters en magistrate hoor: “Ons mure is nie afgebreek nie – ons stad brand nie. Jeremia se onheilspraatjies was verniet!”

Ek glo die wyn het gevloei en kos was oorvloedig daardie nag terwyl hulle die poorte oopgegooi het en ‘n week van amptelike feesviering afgekondig het: “Die krisis is verby – laat ons feesvier!” Eie aan die menslike natuur, het almal van die krisis vergeet en teruggegaan na hulle daaglikse take. Koning Sedekia moes verleë gewees het oor sy oproep tot gebed en het waarskynlik gedink, “Hoe kon ek so verskrik en geïntimideer gewees het deur daardie profeet?”

Wie dink jy was nou die mees bespotte, uitgetarte man in die stad daardie nag? Die een wat verwoesting geprofeteer het! Terwyl Jeremia alles gade geslaan het van ‘n eensame dak af, moes hy gedink het, “Here, U het my beveel om oordeel te profeteer – maar kyk net wat het gebeur! Die Chaldeërs is weg, die ekonomiese krisis is verby. U het my beveel om te waarsku dat ons vroue en kinders doodgemaak en die stad afgebrand sou word. Maar daar is geen bloedvergieting nie, geen tekorte nie. Was dit alles my verbeelding?”

Skielik sê die Skrif, “Die woord van die Here [het] tot Jeremia gekom” – weer! Hy was beveel om na Koning Sedekia te gaan en te profeteer dat die Chaldeërs sou omdraai – en dat hulle sou terugkom om die saak af te handel!

Jeremia moes uitgeroep het, “Nee, Here – nie weer nie! Wie sal my nou glo?” Maar hy het teruggegaan na die koning se hof en uitgeroep: “Sedekia! Die Chaldeërs kom terug – en hulle gaan Jerusalem afbrand!”

Sedekia moes sy kop in ongeloof geskud het – hy het dit alles al tevore gehoor! So hy het Jeremia bloot afgesit en teruggegaan om fees te vier saam met al die ander. Maar nie veel later nie, het ‘n verkenner opgedaag met die nuus: “Die Chaldeërs is terug!” Die besetting het voortgegaan – en hierdie keer het die Chaldeërs nie weggegaan nie!

Sedekia het weer beveel om Jeremia te laat kom – hierdie keer in die geheim – en hom gevra, “Is daar ‘n woord van die HERE?” (Jeremia 37:17). Met ander woorde: “Ek wil regtig weet wat die Here sê!”

Jeremia het geantwoord, “Ja, daar is ‘n woord vir jou. Jy gaan gevangene geneem word deur die koning van Babel!” Maar Sedekia het dit steeds nie aanvaar nie. Hy het homself net verhard – omdat dit nie was wat hy wou hoor nie!

Uiteindelik het toestande in die beleërde stad erger geword. Verhongerde moeders het hulle baba’s gekook en geëet. Daar was niks oor nie – en die einde was in sig. Terwyl die koning in sak en as geloop het, het hy na die verlies gekyk – en hy het een laaste keer vir Jeremia laat haal. Hy het die profeet in sy kamer deur ‘n privaat ingang laat inkom: “En die koning het vir Jeremia gesê: Ek wil jou iets vra: steek niks vir my weg nie” (Jeremia 38:14). Met ander woorde, “Gee vir my die harde waarheid, met geen mooipraatjies nie. Ek wil hierdie keer regtig hoor wat God sê!”

Geliefde, daar is so baie wat sê, “Ek wil die Woord van God hoor! Ek wil dit reguit, ongekompromiteerd en suiwer hê.” Maar jy kan verseker wees: Hulle sal nooit aanvaar wat God sê nie, omdat trots hulle verhoed om te hoor wanneer die waarheid kom!

Jeremia het die koning aangesê om oor te gee aan die Chaldeërs – en dat hy, sy familie en die volk sou leef. Selfs die stad sou gespaar word. Maar as hy nie oorgegee het nie, sou dit alles verwoes word – en hy sou sterf!

Sedekia het geantwoord, “Ek kan dit nie doen nie – ek is bang vir die Jode wat reeds oorgegee het. Hulle sal met my spot, my beskaam – hulle sal my uitmekaarskeur!” Duidelik het hy God se woord aan hom verwerp. Hoewel almal in die stad besig was om te sterf en die stad om in duie te stort, was sy trots was steeds ongeskonde!

Sedekia het op die ou end in die middel van die nag probeer ontsnap, maar hy was gevange geneem. Sy seuns was doodgemaak voor sy oë, sy vrou was verniel, en sy oë was uitgebrand in hulle kaste – alles weens trots!

3. Baie roep uit en skree vir ‘n ware woord – maar dit is alles om die geheim van ‘n lang, verborge afgodery in hulle harte toe te smeer!

Toe ek die treurige briewe van Christene gelees het wat sê, “Ons het ‘n sterk, suiwer woord uit die Here se hart nodig,” het ek gebid, “O God, waar is ons hedendaagse Jeremia’s? Waar is al die herders wat nie bang sal wees om heiligheid te verkondig nie?”

Maar ek was geskok en verras deur die Here se antwoord aan my. Hy het gesê, “David, baie sê hulle wil My woord vir hulle hoor – en daar is ‘n heilige oorblyfsel wat sug en huil oor die goddeloosheid in die land. Hulle smag na die waarheid en sal My gehoorsaam. Maar menigtes sal nie luister wanneer die waarheid gebring word nie! Hulle sal enige boodskap wat hulle troetelsondes aanraak, verwerp!”

Hoe duidelik word dit geïllustreer in Jeremia 42! Slegs ‘n oorblyfsel was oor en Jóhanan was nou die leier. Hulle het besluit om na Egipte te vlug – en daarom het hulle laer opgeslaan by Bethlehem en Jeremia geroep om by hom ‘n woord van die Here te probeer kry:

“Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die HERE u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel...dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen...Laat die HERE ‘n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die HERE u God u na ons sal stuur nie. Laat dit goed of sleg wees – ons sal luister na die stem van die HERE onse God na wie ons u stuur” (Jeremia 42:1-6).

Het jy al ooit ‘n volk gehoor wat meer ernstig geklink het om ‘n ware woord van God te hoor? Hulle het gesê, “Ons wil regtig die waarheid hê! Wat jy ook al vir ons sê, sal ons gehoorsaam – of ons daarvan hou of nie!”

Daarom het Jeremia homself met God afgesonder vir tien dae. Hy moes gebid het, “God, U het gehoor hoe hulle roep vir ‘n ware woord. Gee vir my ‘n woord uit U hart!”

Maar die Here het hom geantwoord, “Hulle lieg! Hulle wil nie My woord hê nie. Hulle is vol afgodery! Hulle sê net hulle wil die waarheid hê – maar hulle het reeds besluit om hulle eie koppe te volg!”

Jeremia het na hulle gekom met God se woord: “As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie...Vrees nie vir die koning van Babel...nie...want Ek is met julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red....

“Maar as julle sê: Ons wil in hierdie land nie bly nie...maar ons sal na Egipteland trek...dan sal die swaard waar julle voor vrees, julle daar in Egipteland inhaal...en julle sal daar sterwe” (Jeremia 42:10-16).

Die leiers het Jeremia beskuldig dat hy vals spreek – en, net soos God vir Jeremia gesê het, het hulle besluit om hulle eie pad te gaan. Hulle het gesê, “Nee, maar ons sal na Egipteland trek waar ons geen oorlog sal sien of basuingeluid sal hoor of honger na brood sal hê nie” (Jeremia 42:14).

Hulle het God se Woord verwerp omdat hulle moeg was vir die geklank van die basuin – moeg van geestelike oorlogvoering!

Die leiers van die oorblyfsel het gesê, “Dit is te ‘n groot gesukkel hier. Ons is moeg daarvan om al die basuine en die gedonder te hoor!” Daarom het hulle hul eie hardkoppige pad gegaan – en hulle het deur die swaard omgekom, soos God gesê het, behalwe vir ‘n klein groepie.

Dit is ‘n beeld van baie laaste-dag Christene: moeg om profetiese basuine te hoor wat aankondig dat oordele op pad is, moeg van geestelike oorlogvoering en die lewe se gesukkel. Hulle sê, “Asseblief, laat my alleen! Geen byeenkomste of preke meer wat oortuig van sonde om my te ontstel nie. Ek wil net lekker, sagte, vertroostende plek hê om te aanbid.”

Is jy moeg om dit alles te hoor? Het jy so moeg geword dat jy dink, “Ek wil net bietjie vrede hê – ek kan nie in hierdie soort spanning leef nie!” Of wil jy regtig die eerlike waarheid hoor? Wil jy ‘n profeet van God hê wat ‘n vinger na jou hart wys en sê, “Jy is nie ywerig om God te soek nie – jou hart word koud! En jy sal nie in staat wees om enige woord van Hom te kry totdat jy met jou afgodery afgereken het nie!”

Ek moes daardie vraag eerlik beantwoord: Wil ek regtig hoor wat God sê? My eerlike antwoord is: Nee, Here – ek wil regtig nie weet of ek wil hê U moet so diep delf as wat U wil nie – omdat ek nie weet of ek dit kan hanteer nie. Ek weet nie of ek nog meer wil hoor van U verskriklike oordele wat oor Amerika gaan val nie. Ek het soveel gehoor dat slegs U genade my bo sal hou!”

‘n Jong herder het onlangs vir my gevra, “Waarom moet ons weet wat voorlê? Kan ons dit nie maar alles in God se hande plaas en op ons pad gaan en juig nie?”

Geliefde, die Here waarsku ons om ons gereed te maak! Jy sien, Hy kom vir ‘n voorbereide Bruid – en met die wete dat daardie vuur op die punt is om uit die hemel te val, waarsku Hy ons in liefde: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (2 Petrus 3:11). Ons moet nie paniekerig raak wanneer oordeel toeslaan nie – ons moet opgebou word en gereed wees!

‘n Profetiese waarskuwing aan New York Stad!

Ek glo God praat huidiglik met ‘n waarskuwing aan New York Stad. En ek het geworstel met Sy ernstige woord terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, “Here, gaan dit regtig gebeur? Weer en weer, het ek die kalm, sagte stem gehoor: “Verkondig dit – waarsku! Diegene wat die waarheid wil hê, sal dit aanvaar!”

Dierbare heilige, hierdie waarskuwing is nie bedoel om enigeen af te skrik nie. Dit is slegs bedoel vir jou om na die Here te neem en te bid. Dit is wat ek glo die Here vir my wys:

Dertig dae van kastyding sal oor New York stad kom soos die wêreld nog nooit gesien het nie. God gaan die mure laat val! Daar sal ondenkbare geweld en plundering wees – meer as ‘n duisend vure sal terselftertyd brand dwarsdeur die stad en sy munisipaliteite. Times Square sal aan die brand wees, en die vlamme wat na die hemel reik, sal myle ver gesien word. Brandweerwaens sal nie in staat wees om dit alles te hanteer nie!

Treine en busse sal vir ‘n paar weke stilstaan. Biljoene dollars sal verlore gaan. Broadway vertonings sal heeltemal gestaak word vir weke aaneen. Dit sal veroorsaak dat besighede uit die stad uit sal vlug in ‘n onkeerbare stroom. Die geweld sal so wreed wees dat dit die hele wêreld sal skok. Ons strate sal nie net vol wees met die nasionale beveiliging nie, maar ook met ons land se burgermag. Los Angeles se vure sal beperk wees tot ‘n paar gebiede van daardie stad – maar New York sal aan die brand wees in al sy munisipaliteite!

Sulke dinge kan verwag word in Derde Wêreld lande, maar nie in ‘n beskaafde land soos die Verenigde State nie. Maar kort daarna, sal New York Stad bankrot raak – die wêreld se “koninging stad” in die stof neergewerp! Dit sal waarlik ‘n Derde Wêreld stad word – ‘n stad van armoede!

Wanneer sal dit alles gebeur, vra jy? Al wat ek kan sê is, ek glo ek sal hier wees wanneer dit gebeur! En wanneer dit gebeur, maak nie saak waar ons is nie – in ons woonplek of by die werk – moet ons nie paniekbevange word of vrees nie!

Een van die mees hartroerende dinge oor wat Jeremia geprofeteer het, was die volgende: Hy was dáár toe dit alles gebeur het – en hy was veilig!

Jeremia het die verskrikking oorleef wat hy geprofeteer het sou kom! “En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is” (Jeremia 38:28). Hy moes in stille verskrikking gekyk het agter ‘n tronkmuur terwyl die Chaldeërse leër in die stad binnegestroom het. Vir drie-en-twintig jaar het hy gewaarsku, maar niemand wou luister nie – en nou het die bloed gevloei!”

Die koning se huis was in vlamme. Al die leiers was uit hulle skuilplek uitgesleep. Die gesig en geluide was ondraaglik; hoe moes Jeremia vir genade uitgeroep het! “O God, ek het dit alles gesien – ek het dit geprofeteer! Maar Here, kan U nie spaar nie?”

Hier is die goeie nuus egter:

Jeremia was daar om te sien hoe die stad afgebreek is – maar hy was veilig! En nie net hý was veilig nie, maar so was Ebed-Meleg, die man wat hom uit die dodelike modderput uitgetrek het! Toe alles in duie gestort het, het Jeremia ‘n boodskap aan Ebed-Meleg gestuur, wat vreesbevange weggekruip het: “Maar Ek sal jou in dié dag red, spreek die HERE; en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie. Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ‘n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die Here” (Jeremia 39:17-18).

Kan jy jou indink Ebed-Meleg se vertroosting toe hy hierdie woord gehoor het? Ons het egter dieselfde boodskap wat vir Ebed-Meleg gegee is: Diegene wat God se Woord liefhet en wandel in getrouheid en gehoorsaamheid, sal bonatuurlik gespaar word deur die Here in die swaar tye! “Ek sal jou verlos! Moenie bang wees nie – jou lewe sal gespaar word omdat jy op My vertrou!”

Tans skud God Californië met aardbewings, vanaf San Fransico en Los Angeles tot by San Diego. Die hele nasie voel die pyne van oordeel!

Maar wanneer jy hierdie dinge sien, en jy hoor dat New York Stad in vlamme gehul is, kan jy op jou knieë neerval en begin om te juig – nie weens die oordeel nie, maar weens God se belofte: “Here, ek wou hoor wat U te sê gehad het – en U het my gewaarsku! Ek het U Woord gehoorsaam – en nou hoef ek nie bang te wees nie!”

Halleluja!