WIL JY GEREED WEES?

David Wilkerson

Petrus was verseker ‘n Godvresende man en deur hom wys die Heilige Gees vir ons presies wat God sê oor hoe ons in die laaste dae moet leef. Petrus sê vir ons baie duidelik, “Jou belangrikste voorbereiding is: Kry jou hart reg. As jy dit nalaat, is al die ander voorbereidings nutteloos. Moenie ophou bid nie. En bo alle ander dinge, betoon onophoudelike barmhartigheid en liefde teenoor jou broers en susters. Vergewe hulle en bedek hulle oortredinge.”

BEDEK DIE SONDES VAN ANDER

God gee ons opdrag om die sondes wat teenoor ons gepleeg is te “bedek” – en dit beteken ons moenie ander mense se sondes openbaar nie.

“Want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek” (1 Petrus 4:8).

Wie het jou seergemaak of skade aangedoen? Wie het skinderstories van jou versprei? Volgens Jesus, as jy nie vergewe en daardie sonde bedek nie, is jy net soos die man vir wie ‘n groot skuld kwytgeskeld is, maar later ‘n man, wat hom net n bietjie geld geskuld het, gewurg het.

"Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Petrus 4:10).

VREUGDEVOL TE MIDDE VAN ONRUS

Petrus se boodskap hier het in der waarheid alles te doen met die toekoms van die Kerk van Jesus Christus. Jy sien, God is besig om sy kerk voor te berei vir die laaste-dag uitstorting van die Heilige Gees. Soos voorspel deur die profete kom daar ‘n vloedgolf van sy Gees op die aarde wat sy kinders met vreugde sal vul terwyl die wêreld in onrus is. Dit sal egter nie gebeur as mense wrokke hou en wonde onopgelos laat nie.

DIE VRAAG: Wil jy gereed wees vir wat kom? Wil jy ten volle voorbereid wees wanneer alle dinge geskud word?

DIE ANTWOORD: Maak dan seker dat daar niks in jou hart is wat die vloei van sy Gees verhinder nie.

Iets wonderlik is oppad, so maak seker jy is deel daarvan en word nie uitgesluit nie.