WIE HET JY ONLANGS GESEËN?

David Wilkerson (1931-2011)

Die sekerste bewys dat die Here se hand van seën op jou is, is wanneer ander deur jou geseën word. God het vir Abraham gesê, “Dat Ek jou ryklik sal seën...En in jou nageslag sal al die nageslagte van die aarde geseën word...” (Génesis 22:17-18). Met ander woorde, “Die rede waarom Ek jou seën, Abraham, is sodat Ek al die nasies kan seën!”

Baie min van ons is geroep om hele nasies te seën. Maar elkeen van ons het ‘n kring van familie, vriende en kollega’s. Hoeveel van hulle in jou kring word geseën deur dit wat die Here in jou doen? Loop Jesus se heerlikheid oor in jou verhouding met Hom na ander rondom jou? Word jou vriende en familie geseën deur Christus in jou? Wie het jy onlangs geseën?

Wanneer jy ander begin seën te midde van jou beproewings, sal jy weet dat God se hand van seën op jou is. Dit is wat met Dawid gebeur het. Toe sy vyande geen genade aan hom bewys het nie, het hy getuig, “Laat húlle vloek, maar U, seën U. Hulle het opgestaan en beskaamd geword, maar u kneg is bly” (Psalm 109:28). Dawid het tot God om hulp en seën uitgeroep, terwyl sy vyande hom gevloek het.

Jesus beveel ons, “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat jvir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:44). As jy hierdie woord kan onderhou, is jy sekerlik geseënd deur die Here!

Nog ‘n seker teken dat jy geseën word, is dat jy al nader kom aan die Here. God seën nooit sonder om daardie persoon nader aan Homself te trek nie. As jy rondom jou kyk en agterkom dat jy nie sekere gawes het wat jy in ander sien nie, kan jy gerus wees dat, soos jy tot Hom nader, sal Hy jou seën met talle geestelike seëninge. Kom na Hom toe in geloof. Hy verheug Hom daarin om jou te seën!