Wegval na die Antichris!

David Wilkerson

Die apostel Paulus praat van twee vreesaanjaende dinge wat die kerk sal tref net voor Jesus se wederkoms. Die Here sal inderdaad nie terugkom totdat hierdie twee vreeslike dinge gebeur nie. En ek wil vir jou wys dat beide hierdie dinge op hierdie huidige oomblik besig is om te gebeur – voor ons oë!

Eerstens sê Paulus vir ons dat daar in die laaste dae ‘n groot afval sal wees. En tweedens, waarsku hy dat ‘n bose gees van die antichris talle gelowiges wat afdwaal, sal oorwin!

Natuurlik verkondig en leer die kerk al vir jarelank oor die koms van die Antichris. Ons verwag die verskyning van die Mens van Sonde, die seun van van die verderf. Sommige spekuleer dat hy geopenbaar sal word in ons tyd – dat, hy inderdaad reeds gebore is en êrens op die aarde woon.

Is daar so ‘n mens? Ja, ek glo daar is – en hy word heeltemal beset deur Satan. Wanneer hy egter verskyn, sal hy goed ontvang word. Hy sal die toewyding van die hele mensdom vereis – en homself as God voor die wêreld stel!

Die enigste rede waarom die Antichris nog nie geopenbaar is nie, is omdat die tyd nog nie aangebreek het nie. Maar eendag sal die Heilige Gees se teëhoudende hand opgehef word en die Mens van Sonde sal in volle krag geopenbaar word. Die Bybel verseker ons egter, dat wanneer hierdie bose man se tyd verby is, sal hy deur God verdelg word:

“...hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thessalonicense 2:8).

Daar is ‘n Antichris – en daar is ook ‘n Antichris Gees!

Ons het ‘n Verlosser wat tans in die hemel bestaan as ‘n mens. Hy is ‘n lewende persoon – met vlees, bene, hare, oë – hoewel Hy God is. En hoewel ons hier op die aarde is, woon Sy Gees in ons:

“En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader” (Galásiërs 4:6).

Ja, daar is ‘n ander Christus-gees aan die werk in die wêreld – die antichris gees. Net so seker as wat Christus vir ons Sy Gees gegee het, is daar ‘n antichris gees wat talle afvallige Christians beset. En daardie gees is aan die werk in die wêreld – wat harte voorberei vir die koms van die Mens van Sonde!

“...en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld” (1 Johannes 4:3).

Johannes sê in wese hier, “Julle het gehoor van die koms van die Antichris. Dit is verkondig en geleer en julle verwag sy koms. Maar, geliefde, word wakker – want die gees van die antichris is reeds aan die werk!”

Julle moet verstaan – die Antichris gaan nie skielik op die toneel verskyn en die mensdom oorweldig nie. Liewer, sy gees is reeds in die geheim aan die werk en rig sy koninkryk op in koue, gekompromitteerde harte. En wanneer die Mens van Sonde uiteindelik verskyn, sal hy openbaar geopenbaar word aan ‘n wêreld wat reeds voorberei is vir hom – aan harte wat reeds sy gees besit!

Tans sien ons ‘n groeiende antichris sentiment en gedrag. Maar binnekort sal dit verander in ‘n vloeiende stroom, en uiteindelik, ‘n groot oseaan. En wanneer die Antichris uiteindelik verskyn, sal selfs talle voormalige Christene hom verwelkom – omdat hulle harte van ‘n gelyksoortige gees sal wees!

Paulus waarsku hieroor. Hy sê dat in die laaste dae, sal vals profete die kerk infiltreer en ‘n ander evangelie en ‘n ander Jesus verkondig. Talle sulke valse profete het reeds verskyn en verkondig die evangelie van die Antichris:

“Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is” (2 Thessalonicense 2:7).

Die antichris gees val reeds die harte van talle afvallige Christene binne. Hulle word heeltemal deur boosheid beset. “Maar hoe?” vra jy. “Waarom sou sekere afvallige Christene hulle hul ooit wend na die Antichris?”

Dit is omdat hulle dieselfde dink as hy! Johannes skryf:

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikhede van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld....

“Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is” (1 Johannes 2:15-18).

Johannes waarsku ons dat diegene wat steeds die dinge van hierdie wêreld liefhet, hulleself oopgemaak het vir die gees van die antichris, Hy sê, “Julle weet hierdie is die laaste dae – omdat so baie mense vol is van die hebsugtige antichris gees!”

“Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Johannes 2:22).

Die apostel het bygevoeg, “As jy nie onder die totale Heerskappy van Jesus kom nie – as jy Hom nie in al jou weë ken nie – dan het jy jouself oopgemaak vir hierdie gees van boosheid!”

Geliefde, as jy Jesus slegs 50 persent dien – of selfs 90 persent – dan verloën jy Sy volle verlossing. Jy dien Hom nie met jou hele hart, verstand, siel en liggaam nie. En jy het ‘n opening oopgemaak vir die antichris gees om in te kom!

Dit is nie genoeg om te sê, “Ek glo Jesus was God in die vlees” nie. Ons moet liewer sê, “Jesus, U is God in die vlees in my. U het alle mag en gesag oor begeertes en sonde. En ek gee heeltemal oor aan U!”

Diegene wat regverdig is – wat God in gees en in waarheid aanbid – is primêre teikens van die Antichris!

“Die teëstander wat homself verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is...” (2 Thessalonicense 2:4).

Die gees van die antichris is teen almal wat nou met God wandel. Hy gaan agter ware aanbidders aan – omdat hy hulle aanbidding vir homself wil hê!

Satan smag daarna om rein aanbidding te vernietig. Hy wil God beroof van alle lof! En as jy intiem met Jesus wandel, sal die antichris gees teen jou kom met alles wat hy het. Hy sal jou met vrees, twyfel en begeertes aanval – enigiets wat hom ‘n opening sal gee om jou aanbidding te verhinder.

Hierdie gees van wetteloosheid word teëgehou deur die Heilige Gees:

“En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word” (2 Thessalonicense 2:6).

Dit is die krag van God se Gees in Sy kerk – dit is, in jou en in my – wat die Satan se wetteloosheid teëhou. As God inderdaad Sy Gees van aan-die-brand kerke en goddelike gelowiges sou wegneem, sal ons land ‘n siedende hel wees.

Roekelose, lui Christene – diegene wat nooit hulle sonde laat staan het nie, wat steeds vasgevang is in die dinge van die wêreld – sal egter nie in staat wees om staande te bly in hierdie laaste dae nie. Hulle sal oorweldig word deur goddeloosheid!

Die apostel Petrus skryf:

“Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word....Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste

“Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol” (2 Petrus 2:17, 20-22).

Die mense wat Petrus hier beskryf, maak daarop aanspraak dat hulle gered is. Hulle het eens die besoedeling van die wêreld ontsnap en was verlos deur die krag van God. Hulle het die weg van geregtigheid geken. En tog het hulle weer verstrik geraak in sonde. Hulle was oorweldig deur die antichris gees!

Petrus kon nie hier van ongelowiges gepraat het nie. Die ongereddes het immers geen geloof om van afvallig te word nie. Liewer, diegene wat afvallig word, het iets om van afvallig te word. Dit is duidelik dat Petrus hier praat van afvallige Christene.

Sulke halfhartige gelowiges doen egter meer as om afvallig te word van die Here. Hulle val ook in iets – in die hande van die antichris gees! Petrus sê sulke mense word “...oorwin...” (2 Petrus 2:20).

Die apostel Paulus maak ‘n verstommende stelling. Hy sê die antichris gees het reeds nou al sy plek in die tempel ingeneem:

“...sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:4).

Geliefde, dit is tyd om op te hou om te kyk na Jerusalem vir die herbouing van die tempel – omdat die gees van die antichris reeds sy troon bestyg het!

“Wat?” vra jy. “Wat is hierdie tempel waar die antichris gees nou sit en sy mag en heerskappy toon?”

Dit is die tempel van mense se harte!

“Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Korinthiërs 3:16).

“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?” (1 Korinthiërs 6:19).

“...Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in julle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (2 Korinthiërs 6:16).

Ja, ons is God se tempels. Maar vir sommige het ‘n ander gees daardie tempel ingeneem. Die Gees van God is weg – en begeertes, trots, hebsug en laster is allesoorheersend. Daar is nie langer enigiets rein, heilig of goddelik nie. ‘n Verborge gees van wetteloosheid is in beheer!

Hoe kon so ‘n verskriklike, vreesaanjaende ding gebeur? Eens op ‘n tyd het die lewende God hierdie tempel besit, beheer en daaroor geheers. Hy was eens op die troon daar.

Geliefde, dit gebeur omdat soveel Christene roekeloos word. Hulle wandel nie meer in geregtigheid of heiligheid nie. En hulle gee op die ou end ‘n opening vir die gees van die antichris. Nou sit hy in die tempel van hulle harte – en bewys homself absoluut in beheer!

Daar sal altyd ‘n Christus op die troon van elke hart wees – of Jesus Christus die Lam van God, of die Antichris!

Elke mens wat hierdie boodskap lees, het ‘n Christus op die troon van sy of haar hart – of die Gees van Christus, of die gees van die antichris.

Ek is heeltmal oortuig dat die antichris gees se mees effektiewe middel om harte voor te berei, sateliet TV en vulgêre films is. Hy weet dat die oog die poort na die hart is. En hy marsjeer reguit deur die besoedelde, afgestompte oog van ‘n Christen en neem die troon van sy hart oor!

Dit is waarom die antichris gees die beheer van die sekulêre media – TV Netwerke, filmproduksie, Broadway teater en die pers – oorgeneem het. Wie anders as die antichris gees kon die media so eenogig maak dat aborsie nou beskou word as ‘n reg eerder as ‘n sonde? Wie anders as hierdie gees kon genadedood, die doodmaak van die bejaardes of swakkes regverdig?

Wie anders as die gees van antichris kon alles wat heilig is, bespot deur goddelose films en vulgêre TV programme? Ek glo die antichris gees produseer werklik die programme op MTV en die Fox Netwerk. Van wat ek lees van hulle programme, is dit absolute vulgariteit. Wie anders as die antichris gees kon daarvoor verantwoordelik wees?

Die gees van wetteloosheid word al hoe meer vrypostig en ons samelewing is op die randjie daarvan om ‘n siedende hel te word. Die antichris gees dring nou in ons skole, ons howe, ons strate, ons besighede en selfs ons huise in. En dit is jammer dat hierdie boosheid vinnig besig is om in die kerk in te beweeg.

Ek glo die gees van die antichris word gevestig in kerke dwarsdeur die Verenigde State. Hierdie gees is die motiverende mag agter “buitestaander vriendelik” kerke. Wie anders as die antichris gees sou die goddeloses inroep om die geestelike program op te stel – deur kerkstigters van deur tot deur te stuur en meningsopnames onder mense te neem: “Hoe sou jy verkies dat kerk moes wees? Ons wil dit nommerpas maak sodat jy sal kom.”

Hierdie megakerke word gebou op spotskrifte en drama’s, omdat mense nie tugtiging wil hoor nie. Hulle wil geen oortuiging van sonde hê nie – sodat hulle ‘n evangelie hoor wat amper heeltemal sonder berou en bekering, oordeel en die Kruis is. Hulle word alles vertel van God se genade en barmhartigheid en hoe om probleme te hanteer – maar niks van God se oordeel en hel nie. Hulle word aan die slaap gesus in hulle sondige lewenstyle.

Ek vra vir jou: Wat sal gebeur as ek die strate invaar, al die kinders wat skool ontduik bymekaarmaak en vir hulle vra, “Watter soort skool sou julle van hou? Ek sal vir julle een bou wat julle sal geniet, sodat julle sal wíl kom.”

Daardie kinders sou antwoord: “Ons wil ‘n skool hê wat net drie dae lank per week is – en net twee ure per dag! Ons wil geen algebra, geen rekenkunde, geen wetenskap hê nie. En ons wil middagete hê van twaalf tot twee, met niks anders as pizza en versnaperinge nie. Daar moet geen lesse, reëls of grade wees nie. En ons sal kan kom en gaan soos ons wil.”

As ek dit deurgevoer het, sou ek die grootste skool in New York gehad het met almal in sig wat skool opgeskop het. Maar wat sal met daardie kinders gebeur tien jaar later, sonder enige ware voorbereiding vir die lewe?

Dit is wat predikers in “buitestaander vriendelike” kerke hulleself moet vra! Wat sal hulle doen as hulle voor God se heilige troon staan en hulpeloos toekyk terwyl baie van hulle skape een vir een veroordeel word, omdat hulle nooit met sonde gekonfronteer was nie? Hulle mense het nooit ‘n woord van tugtiging gehoor wat hulle kon lei na ware geregtigheid nie. Daar was geen boodskap van oortuiging van sonde om mense uit hulle sonde te skud en hulle voor te berei om voor die oordeelstroon van Christus te verskyn nie.

Dit is presies waarteen die Bybel waarsku – kerke met ‘n gedaante van godsaligheid, maar sonder krag. Ek vra jou: Wie het die musiek van die wêreld in die kerk ingebring? Wie het weeklikse gebedsbyeenkomste verander na “vermaaklikheidsaande” by die kerk? Wie het Christene meer begaan gemaak oor of hulle spanne die Super Beker wen, as oor of verlore, sterwende mense gered word? Die gees van die antichris sê vir Christene hulle kan uit twee bekers drink – die Here se beker en die beker van duiwels!

“Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. Ek ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie” (1 Korinthiërs 10:20-21).

Jy mag moontlik dink, “Dit is regtig skrikwekkend. Hoe bereik ‘n Christen die punt waar hulle oorwin word deur die antichris gees?”

Daar is twee oorsake waardeur die gees van die antichris ‘n Christen kan oorwin:

Die eerste oorsaak waardeur die antichris gees ‘n afvallige gelowige kan oorwin, is ‘n verlies aan liefde vir die waarheid.

“...omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het nie...” (2 Thessalonicense 2:10).

Die gees van die antichris beweeg in wanneer God se waarheid nie langer liefgehê word, of toegepas word nie.

“...sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie...” (2 Thessalonicense 2:12).

Die profeet Jeremia het geskryf:

“Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek – dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.

“En of hulle al sê: So waar as die HERE leef, sekerklik sweer hulle vals. O HERE, is u oë nie op opregtheid gerig nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtiging aan te neem; hulle het hul aangesig harder gemaak as ‘n rots, geweier om hulle te bekeer” (Jeremia 5:1-3).

Hierdie gedeelte praat nie van heidene nie, maar van Israel, God se volk. God sê in wese vir Jeremia, “Gaan soek vir my net een mens wat ‘n hart het vir die waarheid – enigeen – en ek sal hom vergewe. Maar jy sal nie een vind nie, Jeremia! Hierdie mense sê dat hulle My liefhet, maar hulle wil nie My teregwysing aanvaar nie. Hulle het nie berou wanneer Ek hulle tugtig nie. Hulle bewe nie langer vir My Woord nie!”

Jy mag dink, “Ek is bly ek is nie soos Israel nie. Ek het God se Woord lief. Ek het nie my liefde vir die waarheid verloor nie.” Ek dring by jou aan om jouself te toets! Laat my vir jou drie maniere gee waarop jy kan vasstel of jy die liefde vir waarheid in jou hart verloor het:

1. Die eerte teken van ‘n verlies aan liefde vir die waarheid, is wanneer jy die samekoms met ander gelowiges verlaat.

As dit vir jou ‘n werk is om kerk toe te gaan, dan het jy jou liefde vir God se waarheid verloor:

“En laat ons ons onderlinge byeenkomste nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25).

Wanneer jy nie langer uitsien om in God se huis by Sy mense te wees nie – wanneer die prediking vervelend blyk te wees en aanbidding nie langer saak maak nie – het jy jouself oopgemaak vir die gees van die antichris. Die Here vermaan jou: “Hoe nader jy aan My koms kom, hoe gevaarliker sal die tye word. En hoe belangriker is dit dat jy met My mense saamkom!”

Iets tragies is egter besig om te gebeur dwarsdeur Amerika en Kanada. Pastore skakel ons bediening en sê vir ons, “Ons moes ons middel van die week diens afskaf, omdat so min mense opgedaag het. Ons moes reeds Sondag aanddienste opskort, omdat mense nie kom nie, tensy ons ‘n film vertoon of ‘n konsert hou. En as mense dink die diens sal langer as ‘n uur duur, wil mense nie meer Sondae oggende kom nie.”

Waar is God se kinders as hulle nie in die Here se huis is nie? Hulle is by restaurante, partytjies, sosiale byeenkomste en sportgeleenthede. Die meeste van die tyd, lê hulle uitgespan voor hulle TV’s – en kyk na programme met toenemende boosheid!

2. ’n Tweede teken van ‘n verlies aan liefde vir die waarheid, is wanneer tugtigende boodskappe jou laat dink aan iemand anders se sonde en nie jou eie nie.

Wanneer jy ook al ‘n profetiese preek hoor, sit jy selfvoldaan en dink, “Sjoe, dit beskryf Broer So-en-so. Dank God, hy word uiteindelik bereik. Here, draai dit aan!”

Ek vra vir jou – hoeveel, indien enigsins, van hierdie nuusbrief pas jy op jouself toe? Hoeveel word jou hart aangeraak en oortuig van sonde? Bid jy, “God, spits U Woord op my hart toe”?

Ek dring by jou aan om na Dawid se woorde te luister:

“Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Psalm 119:11).

3. ’n Derde teken van verlies aan die waarheid is wanneer tugtiging jou kwaad maak eerder as wat dit jou nederig maak.

God sê ‘n haat van tugtiging openbaar ‘n afdwaal van die pad van heiligheid:

“’n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die terewysing haat, sal sterwe” (Spreuke 15:10).

Miskien loop jy dikwels weg van ‘n tugtigende preek en sê, “Daardie woord was net te hard. En daardie prediker is te kwaad!” Geliefde, enige goddelike herder sal met heilige woede preek. Dit is omdat hy kwaad is vir die duiwel, kwaad is vir die antichris gees – kwaad is vir enigeen wat jou siel wegtrek van ware aanbidding van die Vader!

Die tweede oorsaak waardeur die antichris gees ‘n gekompromitteerde Christen kan oorwin, is die liefde van plesier.

“Sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:12).

Paulus praat hier van “plesiermalligheid.” Hy praat egter nie van rykes wat die wêreld vol rys om sosiale geleenthede by te woon, die wilde klomp, dobbelaars, prostitute en dwelmverslaafdes nie. Nee – die laaste-dag plesiersoekers waarna verwys word, word in die kerk gevind! Paulus waarsku:

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trostaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timótheüs 3:1-4).

“Lasteraars in God se huis?” vra jy. “Onversoenlik? Kwaadsprekers? Verraaiers? Sekerlik nie!”

O, ja – absoluut! As Paulus die frase “...meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God...” gebruik, dui hy aan dat hierdie mense ‘n mate van God se liefde gehad het. Maar daardie liefde word oorwin en besoedel deur ‘n liefde vir die plesiere van die wêreld. Paulus praat van diegene wat die plesiere van ongeregtigheid najaag!

Geliefde, jy kan vyf dollars vir ‘n film afknyp as jy wil en sit deur twee ure van geweld, bloedvergieting en gevloek, waarin God se Naam vrylik ydellik gebruik word. Maar wees gewaarsku: Jy sal van die beker van duiwels drink – gemeenskap hê met duiwels! Jy sien, wanneer jy betaal vir daardie soort ding, betoon jy jou trou aan die antichris gees wat die media beheer. God noem dit ‘n offer aan duiwels:

“Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. Ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Korinthiërs 10:20).

Die ergste van alles, jy nooi die antichris gees in jou hart in. En as jy aanhou om van die beker van duiwels te drink – as jy aanhou toelaat dat die vulgêre antichris gees in jou siel insypel – sal dit nie lank wees voor niks jou pla of van sonde oortuig nie.

‘n Heilige oorblyfsel sal die waarheid liefhê!

Paulus dank God vir ‘n heilige volk wat standvastig bly in gevaarlike tye. Hierdie heilige oorblyfsel sal in opstand kom teen die gees van die antichris en sterk staan. Hulle sal nooit oorwin word nie. In teendeel – hulle sal die wêreld, die vlees en die bose oorwin!

“Maar ons moet God atlyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid, waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry. So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is óf deur ‘n woord óf deur ‘n brief van ons.

“En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het, julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke” (2 Thessalonicense 2:13-17).

Hierdie heilige oorblyfsel is lief vir die waarheid. Hulle is nie bang om getugtig te word nie. Daarom ondersoek hulle hulself in die lig van God se Woord en laat toe dat dit hulle deurdring tot op die murg – en God is in staat om hulle verstand en gees te heilig.

Geliefde, as jy jou hart oopmaak vir die waarheid – as jy aanhou om God se Woord lief te hê – sal die Here jou standvastig maak. En wanneer die bose gees van hierdie wêreld inkom soos ‘n stroom, sal Satan nie in staat wees om enige opening in jou hart te maak nie.

“Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid. Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid. Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid. Want die septer van goddeloosheid sal nie rus op die erfdeel van die regverdiges nie, sodat die regverdiges hulle hande nie sal uitsteek na onreg nie” (Psalm 125:1-3).

Die antichris gees het ‘n septer, wat gesag aandui. Maar sy mag en heerskappy sal nie oor jou wees nie. In teendeel – jy sal hom oorwin!

“Ek het aan julle geskrywe...omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die bose oorwin het” (1 Johannes 2:14).

“...en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Johannes 5:4).

Laat die gees van die antichris kom. Jy sal nie beweeg word nie, want jy sal stewig gegrond wees op die waarheid van God se Woord. Jy sal in God se huis gevind word, in aanbidding uit ‘n rein hart. En jou geloof sal alles oorwin wat die vyand teen jou bring – omdat Jesus op die troon in die tempel van jou hart sit.

Ek wil vir jou ‘n kragtige verdediging gee teen die antichris gees. Dit word gevind in Psalm 139:

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:23-24).

Halleluja!