WEERSTAAN LUIHEID

David Wilkerson (1931-2011)

Terwyl Amerika dieper in goddeloosheid wegsink, wil meer en meer van God se kinders hulle eie pad loop. Sulke mense wil nie beklee wees met Christus in klere van geregtigheid nie; hulle wil net vir hulleself lewe, met geen verpligtinge of verbintenisse nie. Met hulle gesindhede, sê hulle vir die Here, “Laat my die assosiasie met U geniet, sodat ander kan sien dat ek goed is.”

Kerke in Amerika en oral in die wêreld is vol miljoene mense wat hulleself Christene noem, wat geen intimiteit met Jesus het nie. Hulle bring geen tyd in gebed deur nie en tel nie hulle Bybels op om te sien wat Hy van hulle verwag nie.

Op een of ander manier, het hierdie mense hulleself aan Christus se Naam gekoppel, heeltemal op hulle eie. Ons Here sal geen aandeel hê in so ‘n reëling nie. Christus waarsku duidelik in Markus: “Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Markus 13:35-37).

Ons lees die gelykenis van die tien maagde, vyf wyse en vyf dwase meisies (sien Matthéüs 25:1-13). “En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak” (Matthéüs 25:5). Al die maagde, beide die dwase en die wyse, was vas aan die slaap. Hoe kon hierdie wyse maagde aan die slaap wees? Hoe kan enige goddelike dienskneg, diegene wat voorberei vir Jesus se koms al vir so lank, vas aan die slaap wees as die Here kom?

Laat ons kyk na ‘n waarskuwing deur Paulus: “En dit te meer...dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het” (Romeine 13:11). Paulus waarsku ook, “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. Pas op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efésiërs 5:14-16).

As jy voel dat jy lui geword het in jou navolging van Jesus, besluit dan om Hom te soek met jou hele hart, verstand, siel en krag. Begin dwarsdeur die dag bid en maak Christus die middelpunt van jou gedagtelewe.