WAT RIG JOU LEWE?

David Wilkerson (1931-2011)

Vandag leef Christene in ‘n tyd van geweldige lig. Die Heilige Gees het vir ons die kragtige betekenis geopenbaar van Jesus se werk aan die kruis en die ontsaglike seën wat dit vir ons lewens beteken. Tog was daar ‘n tyd toe Christus se wonderlike werk vir die wêreld verborge was. Daardie tydperk het bekend gestaan as die Donker Eeue, omdat die betekenis van die kruis vir die oë van die mensdom versluier was.

Preke gedurende die Donker Eeue het gefokus op God se toorn en oordeel. Pouse en priesters het ‘n evangelie van werke verkondig en die mense het deur ‘n verskeidenheid van werke probeer om vrede met God te vind. Mense het niks geweet van die voordele en seëninge beskikbaar deur Christus se oorwinning op Gólgota nie.

Selfs vandag, met al die leringe wat daar beskikbaar is oor die onderwerp, verstaan die meeste Christene steeds nie die belangrike aspekte van Christus se werk vir ons nie en wat dit beteken om “in Christus” te wees nie. Trouens, om in Christus te wees, is die enigste fondament waarop ware heiligheid en geregtigheid gebou kan word. Sonder hierdie fondament, sal ons op ons vlees vertrou en probeer om vorm van heiligheid in onsself te bewerkstellig. Maar ware heiligheid word slegs verkry deur kennis van die rykdom van God in Christus Jesus.

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn, en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12). Slegs God se genade kan ons die soort teologie leer wat tot heiligheid lei. En geen werke kan dit ooit tot stand bring nie!

Jy is in Christus as jy jou lewe deur die Skrif laat beheer. Eer en vrees jy God se Woord? Gaan jy daagliks na die spieël van die Bybel om daardeur verander te word? “Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (1 Johannes 2:5).