Wat Elke Christen Moet Weet Oor Geestelike Groei

David Wilkerson

“Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word” (2 Thessalonicense 1:3).

Wat ‘n groot kompliment het Paulus hier vir die Christene in Thessalonika gegee! Hy het in volle wese vir hulle gesê: “Dit is wonderlik om te sien hoeveel julle gegroei het, beide in julle geloof in Christus en in julle liefde vir mekaar. Oral waar ek gaan, roem ek teenoor ander oor julle geestelike groei. Hoe dank ek God vir julle!”

In hierdie kort gedeelte, gee Paulus vir ons ‘n verstommende prentjie van ‘n liggaam van gelowiges wat groei in eenheid en liefde. Die Griekse frase wat Paulus gebruik vir “geloof grootliks toeneem” beteken “groei meer, bo en verder as dié van ander.” Beide individueel en gesamentlik, het die Thessalonicense se geloof en liefde dié van alle ander kerke oortref.

Dit is duidelik dat hierdie Christene van Thessalonika nie net probeer het om aan hulle geloof vas te hou totdat Jesus kom nie. Hulle het geleer, vooruitgang gemaak, gegroei – en hulle lewens was bewyse van daardie feit. Volgens Paulus, het al die kerke in Asië daarvan gepraat.

Klaarblyklik het die prediking wat hierdie mense gehoor het, hulle aangemoedig tot selfs ‘n dieper wandel met Christus. Dit het hulle vleeslike ambisies laat wegsmelt en hulle oortuig van hul onchristelike gewoontes. En die Heilige Gees in hulle het alle etniese struikelblokke en kleurgrense afgebreek. Hulle het geleer om alle mense te omhels, of hulle nou ryk of arm, geleerd of ongeleerd was. En hulle het groot sorg vir mekaar gedra en het mekaar in liefde opgebou.

Daarbenewens was die gelowiges van Thessalonika nie maklik op ‘n dwaalweg gebring nie. Hulle het nie toegelaat dat valse leraars in hulle midde kom en mense mislei met oordrewe, nuwe godsdienstige foefies nie. Hulle het God se woord hoog geag en eerbied daarvoor gehad.

Op hierdie stadium, was hierdie Christene onder intense vervolging. Maar dit net nie ander gelowiges gekeer om hul buitengewone kerk te besoek nie. Mense het op hulle toegesak in hulle hordes. Hierdie besoekers het egter nie gekom om deur tekens en wonders betower te word, of om verstom te word deur kragtige prediking nie. Nee, hulle het gekom om die groot wonderwerk van ‘n kerk, wat in die liefde van Christus saamgewerk het as een liggaam, te sien. Hulle wou eerstehands sien hoe ‘n sterk, standvastige groep van gelowiges in die genade en kennis van God gegroei en toegeneem het.

As Paulus die kerk in Thessalonika gekomplimenteer het, glo ek, ek word toegelaat om ons gemeente by Times Square Church te komplimenteer. Ek sien en hoor dinge onder ons liggaam van gelowiges, wat my waarlik laat glo dat ons grootliks in die Here gegroei en toegeneem het.

Ons kerk is twaalf jaar oud, met ongeveer 103 nasionaliteite wat hier aanbid. Daar is geen etniese grense hier nie. Ons almal weet ons is een bloed met Christus. En die liefde in ons kerk is ‘n wonderlike ding om te beleef. Besoekers sê vir my, “Sodra ek by die deur ingeloop het, het ek gevoel hoe die liefde van Christus die plek vul.”

Op verskeie kere, het ek die volgende uitdrukking van Christus se liefde in ons midde gesien:

  • ‘n Swart usher gee ‘n drukkie vir ‘n wit usher en sê vir hom, “Ek sien Jesus in jou, broer.” Die wit usher antwoord, “Ek is so bly ek ken jou, vriend.”
  • Voor die dienste kom ons ushers bymekaar om te sing, hande te klap en saam te aanbid. Die band van liefde is vir almal sigbaar.
  • Ons Rhodesiese pastoor, Neil, gee vir ons Filipynse pastoor, Cesar ‘n drukkie – mede-leraars wat mekaar innig liefhet en respekteer.
  • Lede van ons koor – sangers van geweldige talent – omhels die gekose soliste in ware bewondering en liefde. Hulle sê vir hulle, “Jou sang was waarlik gesalf. Ek dank God vir jou gawe – en vir jou.”

Onlangs het ons kerkliggaam in liefde een van die dames op ons personeel omring. Hierdie dierbare, getroue vrou het haar seun in ‘n motorongeluk verloor. Sy hoef egter nie alleen te getreur het nie. Hordes van gelowiges van ons kerk het die begrafnis bygewoon. Mense moes in die straat op en af ‘n ry maak net om in die kapel in te kom. En hulle het almal om een eenvoudige rede gekom: hulle het hul suster innig liefgehad.

Soos Paulus, kyk ek na ons gemeente en sien mense wat sterk in die Here is. Nie te lank gelede nie, het hierdie mense egter elke week berading gesoek. Hulle was heeltyd op en af in hulle wandel met Christus. Een week was hulle vol blydskap en het lofsange tot God gesing. Maar die volgende week was hulle gees so laag, dat hulle nie eers hulle koppe kon optel nie.

Vandag sien ek ‘n standvastigheid in hulle posvat. Hulle drink God se woord in en laat dit hulle daaglikse lewens vorm van dag tot dag. En hulle geloof word stadig gewortel. Soos Paulus, glo ek dat hulle groot toename of groei deur almal om hulle gesien kan word!

Na my mening, is daar drie dinge wat elke Christen behoort te weet oor geestelike groei. Ek vertrou hierdie drie dinge sal jou beide uitdaag en opbou:

1. Elke Christen behoort geestelik te groei en te floreer as hy gevul is met Heilige Gees waarheid.

As jy deur God se woord natgemaak en gevoed word, behoort jy voortdurend geestelike groei in jou lewe te hê. Dit sal outomaties gebeur.

Ek weet nie of almal in ons gemeente “grootliks toeneem” soos Paulus geweet het van die gemeente in Thessalonika nie. Tog glo ek dat dit waar is van baie van ons mense. Waarom? Die gesalfde prediking van die suiwer woord van God produseer altyd groei. En die apostel Petrus sê dat almal, wat die suiwer melk van die woord begeer, sal groei.

Paulus beskryf ons geestelike groei as ‘n werk van die Heilige Gees. Hy sê die Gees is altyd aan die werk en verander ons van heerlikheid tot heerlikheid. Hy vernuwe heeltyd ons gedagtes, maak ons vlees dood en bring reinheid in ons innerlike mens. Hy werk in ons harte om woede, bitterheid, minagting en allerhande booshede te verwyder. Hy laat ons opgroei in Christus -  leer ons dat alles wat ons sê en doen ons Here waardig moet wees!

Paulus dring verder by ons aan, “Maar die mens moet homself beproef...” (1 Korinthiërs 11:28). “Ondersoek julleself...stel julself op die proef...” (2 Korinthiërs 13:5). Die Griekse woord vir “ondersoek” beteken hier “inspekteer, toets jouself.” Die apostel sê in wese, “Toets jouself – kyk of jy volgens God se woord wandel.” Ons moet voortdurend onsself afvra, “Verander ek? Word ek meer liefdevol en ontfermend? Behandel ek my familie en vriende met goddelike eerbied? Word my geselskap meer regverdig? Of neem ek steeds deel aan vuil grappe? Kla ek steeds of spreek ek opbouende woorde van geloof?”

Ek neem hierdie saak van selfondersoek baie ernstig op. As jy ‘n Christen is en jy is steeds apaties oor jou geestelike groei, dan het jy nie toegelaat dat God se Gees sy werk in jou doen nie. Vra jouself af – word jy meer opgewonde oor Jesus en sy kerk elke dag? Of hou jy steeds vas aan griewe, verwerpings en wortels van bitterheid ten spyte van God se waarkuwings? Groei jy geestelik – of word jou groei belemmer?

Dit is vir ons moontlik om te beleef dat ons “grootliks toeneem” in baie areas van ons lewens, maar kinderagtig in ‘n ander area te bly. Paulus sê, “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos’n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n mans is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê” (1 Korinthiërs 13:11). Laat my Paulus se stelling met ‘n persoonlike storie illustreer.

Jare gelede, het ek, my vrou Gwen en haar moeder deur die parkeerarea van ‘n Dallas Mall gery. Skielik het ‘n jong vrou haar kar voor ons in gery. Ek moes die remme aanslaan om ‘n ongeluk te vermy. Onmiddellik het ek begin kook. Toe die bestuurder opgekyk het en my woedende uitdrukking gesien het, het sy paniekerig geraak en vinnig weggery.

Op daardie punt, het ek beheer verloor. Ek het die petrol getrap en agter haar aangejaag. Binne sekondes was ek oor die spoedgrens. Ek het geen idee gehad wat ek sou doen as ek haar inhaal nie. Al wat ek geweet het, was dat ek kwaad was!

Gwen was wit van vrees. Sy het geskree, “David, wat doen jy? Stop die kar!” Ek was briesend, “Het jy nie gesien wat daardie vrou pas gedoen het nie? Ons kon ‘n ongeluk gemaak het!” Gwen het geantwoord, “As jy aanhou om so te ry, gaan ons ‘n groter ongeluk hê!” Skielik het die vrees van God oor my gekom en die Heilige Gees het baie duidelik gepraat: “Stop nou, David – terwyl jy nog kan!”

Na daardie insident, het ek God se Gees toegelaat om met my kort humeur af te reken. En ek kan eerlik sê ek gee nie meer toe aan daardie soort kinderagtige optrede nie. Deur die krag van die Heilige Gees, streef ek om alle onchristelike gesindhede en impulse dood te maak.

Ek glo die meeste Christene is soos ek. Hulle gebrek aan geestelike groei is nie weens een of ander groot sonde nie. Meer dikwels is dit ‘n karakterfout – ‘n oorheersende swakheid waarmee hulle nog nooit afgereken het nie. Hulle mag dalk dink dit is nie ernstig nie. Maar in werklikheid, is dit ‘n groot struikelblok vir hulle geestelike groei.

Ek daag jou uit om die volgende sin te voltooi: “My een groot probleem is...” (Ek wonder hoe jou gade of medewerkers daardie spasie sal invul!) Is jou swakheid jou kort humeur? Is dit ‘n gekerm as dinge nie gaan soos jy dit wil hê nie? Is jy ‘n fyngevoelige, neulende gade? Is dit vir jou moeilik om iemand te vergewe vir die hartseer wat hy vir jou veroorsaak het? Of is jou probleem ‘n verslawende begeerte of gewoonte?

Wys vir my ‘n Christen wat altyd nydig is...wat altyd kla en murmureer...wat nooit dankbaar is nie...wat onleerbaar is en altyd reg moet wees...wat gemeen en kras is...en ek sal vir jou iemand wys wie se geestelike lewe belemmer word. Daardie persoon kwyn en word droog en onvrugbaar. Die kosbare lewe van Christus in hom is besig om te sterf!

2. Sommige Christene groei, maar hulle weet dit nie.

Sommige gelowiges kan vir jou alles van hulle geestelike groei vertel. En jy kan duidelik die verandering in hulle lewens sien. Hulle getuig teenoor jou hoe die Heilige Gees die vyand vir hulle oorwin het en jy juig saam met hulle in hulle oorwinning.

Hierdie soort Christene is egter die uitsondering. Die meeste gelowiges is heeltemal onbewus van enige geestelike groei in hulle lewens. Hulle is ywerig om in heiligheid en in die vrees van God te wandel. Hulle bid, lees die Bybel en soek die Here met hulle hele hart. En hulle het alle verslawende begeertes en gewoontes verwerp en oorwin. Daar is in hulle geen struikelblokke vir geestelike groei nie. Kortliks, die lewe van Christus floreer in hierdie gelowiges.

Maar hulle kan nie enige geestelike groei in hulself onderskei nie. Hulle voel nie dat daar enigsins iets geestelik plaasvind nie. Ek is ‘n voorbeeld van so ‘n Christen. Ek weet ek wandel in die geregtigheid van Christus, maar ek voel nooit heilig nie. Ek beleef nooit dat ek vordering maak nie. Soms is ek hard met myself wanneer ek iets onchristeliks doen of sê. Dit laat my wonder, “Ek is nou al jarelank ‘n Christen. Waarom leer ek nooit nie?”

Ons almal ag ander as baie reiner en heiliger as onsself. Ons is egter nie bewus van die wonderlike, groot geestelike groei wat God in ons veroorsaak nie!

Ek dink die Christene in Thessalonika was verstom toe hulle Paulus se skitterende evaluering van hulle gehoor het. Hulle het waarskynlik gedink, “Ek, grootliks toeneem? Paulus moet seker ‘n grap maak. Weet hy nie ek is nog ver van wat ek behoort te wees nie? Op die meeste dae, sukkel ek kwaai. Hy mag moontlik groei in my sien, maar ek sien dit sekerlik nie.”

Paulus het egter geweet dat geestelike groei ‘n geheime, verborge ding is. Die Skrif vergelyk dit met die onsigbare groei van blomme en bome: “Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Libanon” (Hosea 14:6-7).

God sê in wese vir ons, “Gaan na die lelies! Probeer sien hoe hulle groei. Neem jou horlosie en wees gereed om heeldag te bly. Ek sê vir jou, teen die einde van die dag, sal jy hoegenaamd geen groei sien nie. Maar weet dit: Ek gee die lelie elke oggend water met die dou wat Ek stuur – en dit sal groei.

“Of probeer om die groei van ‘n sederboom te meet. Kampeer daaronder vir ‘n maand en sê vir My hoe ver jy dit sien groei. Selfs na ses maande, sal jy waarskynlik geen groei sien nie. Daardie boom se wortels groei egter! Jy sien, Ek gee die boom water met my reën. En enige boom wat behoorlik natgemaak word, sal groei. So ‘n groeiproses is egter nie onderskeibaar deur die menslike oog nie. Dit groei, maar in die geheim!”

Dieselfde is waar van die meeste geestelike groei. Dit is onsigbaar vir die menslike oog!

Sommige Christene sal beswaar aanteken, “Ek is nou al vir tien jaar ‘n gelowige en ek voel nie of ek geestelik gegroei het nie.” Daardie mense, verwys ek na die boek Jesaja. God belowe, “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond...” (Jesaja 44:3). Hy roep sy belydende mense “terebinte van geregtigheid” (Jesaja 61:3). Die Here self sê ons is sy bome en blomme, sy noukeurig versorgde plante. En Hy stuur sy dou en reën daagliks op ons af!

Laat my jou ‘n maklike toets gee wat sal openbaar of geestelike groei in jou plaasvind. Vra jouself eenvoudig, “Is ek dors? Wil ek meer van Jesus en sy heiligheid hê?” As die antwoord ja is, kan jy weet jy groei. Waarom? Hy belowe om sy lewende water op almal, wat na Hom dors, uit te giet: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matthéüs 5:6).

Eenvoudig gestel, God beoordeel jou geestelike groei deur hoe jy na Hom honger en dors. So, as jy eerlik is oor jou wandel met Christus, en jy is oop vir sy lyding en teregwysing, moet jy nie moedeloos word oor enige merkbare gebrek aan groei nie. Ware geestelik groei vind in jou plaas, of jy dit kan sien of nie!

Ek het onlangs ‘n jammerlike brief van die goddelike vrou van ‘n bedienaar gekry. Sy het vermoed dat daar iers verkeerd was in haar man se lewe, want hy het skielik afsydig teenoor haar geword. Trouens, deur die loop van ‘n paar maande, het hy heeltemal in ‘n ander man verander.

Hierdie man se prediking het alle lewe verloor en sy preke het toenemend losbandig geraak. Sy gedagtes het in die preekstoel gedwaal, totdat hy uiteindelik geen sin gemaak het nie. Die gemeente kon agterkom dat iets in hom verander het. Hulle herder het nie meer geestelik gegroei nie. Trouens, hy het geestelik voor hulle oë gesterf.

Sy vrou het tot God gebid om vir haar ‘n leidraad te gee oor wat aan die gebeur was. Gou het sy opgemerk haar man ure toegesluit in sy kantoor deurgebring het. Hy het haar verbied om hom te pla terwyl hy kamstig gestudeer het. Maar uiteindelik, met die Gees se leiding, het sy die deur oopgemaak om te sien waarmee hy besig was.

Wat sy gesien het, het haar geskok. Haar man het gesit en kwyl oor internet pornografie! Toe hy omdraai en haar sien, het hy sonder emosie gesê, “Ek is verslaaf aan hierdie goed.” Daar was geen teken van droefheid in hom nie, geen sweempie van berou nie, geen pleidooi om hulp nie. Hy was totaal oorgegee aan sy wellus!

Ek ken ‘n jong bedienaar wat voorheen saam met hierdie man in ‘n voormalige pastoraat gewerk het. Ek het die jongman geskakel om uit te vind hoe die pastoor vroeër in sy bediening was. Die jongman het vir my gesê, “In alle eerlikheid, daardie dierbare broer het nooit ‘n honger vir die Here gehad nie. Hy het baie ander belangstellings gehad, maar hy het nie veel omgegee oor die dinge van God nie. En hy was wetties. Vir hom het alles oor werke gegaan. Wat ek egter die beste onthou, was dat hy ongelooflik gemeen teenoor sy vrou was. Sy kon nooit genoeg doen om hom te behaag nie.”

In twintig jaar se tyd, was daar geen geestelike groei in hierdie man nie. Hy was steeds ‘n selfsugtige, kermende kind! Die water wat hy gedrink het was glad nie uit die hemel nie – maar uit die duiwel se giftige modderkuil!

God se belowe egter dat almal wat na Hom honger en dors, versadig sal word deur sy eie hand. Hy sal ons water uit die hemel gee. En Hy sal ons voed met al die voedingstowwe wat ons nodig het om oorvloedige lewe in ons te produseer – of ons dit nou sien gebeur of nie.

3. Baie Christene wat groei, dink hulle misluk.

Wanneer sommige mense gered word, sukkel hulle nooit met ‘n boesemsonde nie. Hulle getuig, “Die oomblik wat ek na Jesus toe gekom het, het die Here daardie versoeking uit my uitgehaal. En ek was vry sedertdien.” Ek ken baie voormalige dwelmverslaafdes wat hierdie belewenis gehad het. Hulle was gered in ons bediening oor die laaste vyf-en-dertig jaar en hulle het sedertdien nie ‘n verslawingsprobleem gehad nie. Trouens, sommiges dien as bedienaars en sosiale werkers vandag.

Maar vir menigtes van Christene is dit ‘n ander storie. Jare na hulle bekering, stry hulle steeds ‘n kragtige, verbysterende versoeking. ‘n Ou besoedeling het losgebreek binne in hulle – iets wat hulle gehaat het en nooit weer wil sien nie. En daardie slawerny is die een ding wat hulle van die volheid van God weerhou. Dit bring skuldgevoelens en skande terug in hulle lewens. En as dit geopenbaar moes word, kan dit hulle ruïneer.

Dit maak egter nie saak hoe hard hulle daarteen stry nie, daardie een oorblywende begeerte wil eenvoudig nie los nie. Met verloop van tyd, word hulle moedeloos. Hulle siele roep uit, “Hoe lank, Here?” Wanneer sal hierdie ketting ooit gebreek word?” en uiteindelik kom die duiwel na hulle toe en sê, “Jy sal dit nooit maak nie. Jou sonde is in jou vir goed! Jy sukkel nou al jarelank met hierdie ding. Jy weet daar is geen manier wat jy geestelik kan groei in hierdie toestand nie.

Hou moed, vriend – ek het goeie nuus vir jou. Jy groei te midde van jou stryd! Trouens, dit is moontlik dat jy baie vinnig groei weens jou stryd.

Vra enige matroos wat deur orkane en groot storms moes vaar. Die golwe het moontlik sy skip soos ‘n kurkprop rondgegooi. Die winde het moontlik die maste geskud. En die storm het moontlik selfs gelyk of dit die skip terugwaarts druk. Maar selfs die vaardigste matroos kan dikwels nie onderskei of die skip enige vordering maak nie. Dieselfde winde wat dreig om die skip te sink, dryf dit moontlik vorentoe op sy vaart!

Wees gerus – as jy die vrees van God in jou hart het, gaan jy baie sterker uit die storm kom. Jy sien, toe jy oorlog gevoer het teen die vyand, het jy geoefen en al die genades en kragte van God na vore geroep. En selfs al mag jy verswak voel, versterk daardie genades en kragte jou. Eerstens, word jy meer dringend in jou gebede. En tweedens, word jy gestroop van alle trots. So, die storm is eintlik besig om jou “geestelik waaksaam” op elke gebied van jou lewe te maak!

As jy met die Heilige Gees saamwerk in die stryd om jou sonde dood te maak, groei jy in jou kennis van die Gees se werk!

Wanneer teenstand plaasvind, floreer God se genade in ons. Dink aan wat gebeur met ‘n boom wanneer ‘n groot storm met geweld daarteen slaan. Die wind dreig om die boom te ontwortel en dit om te waai. Dit breek sy takke af en waai sy blare weg. Dit maak sy wortels los en waai sy botsels af. En wanneer die storm verby is, lyk dinge uiters hopeloos.

Kyk egter van naderby: dieselfde storm wat die barste in die aarde gemaak het rondom die stam van die boom, het gehelp dat die wortels dieper gaan. Die boom het nou toegang tot nuwe, dieper bronne van voedingstowwe en water. En dit is skoongemaak van al die dooie takke. Die botsels mag weg wees, maar ander sal weliger uitgroei. Ek sê vir jou, daardie boom is nou sterker en groei op onsigbare maniere. En wag net tot die oes kom – want dit gaan baie vrugte dra!

Miskien is jy tans in ‘n storm. Die wind waai hard en skud jou geweldig en jy dink jy gaan omslaan. Geliefde, moenie paniekerig word nie! Jy moet weet dat te midde van die storm, groei jou geestelike wortels dieper. God ontwikkel in jou ‘n dieper  nederigheid, ‘n groter droefheid en berou oor sonde, ‘n verhoogde honger vir sy geregtigheid.

Ander Christene wat nie geestelike oorlogvoering ken nie, mag moontlik neerkyk op hulle broers en susters wat sukkel op maniere wat hulle nie sukkel nie. Maar jy het nie meer daardie gesindheid nie. Nou, weens jou eie stryd, is jy meer deernisvol teenoor die swakhede en mislukkings van ander. Hoewel jy nie daarvan bewus was nie, het die Here die storm gebruik om die wortels van Christus se deernis en medelye in jou te verdiep.

Kortliks, God maak van jou ‘n gesoute krygsman van die kruis – met letsels van die oorlog, maar kundig oor die oorlog en dapper. Jy mag soms hard op jouself wees – maar die Here is nie. Trouens, Hy kon soewerein opgetree het te enige tyd om jou uit jou stryd uit te ruk. Maar Hy het nie – omdat Hy gesien het, dit vorm in jou ‘n groter dors vir Hom!

Dink oor dit alles: Jou nuwe nederigheid, jou nuwe berou oor sonde, jou nuwe honger na Christus – nie een van hierdie dinge was in jou teenwoordig toe jy nie betrokke was in geestelike oorlogvoering nie. En nou groei jy selfs sterker, ten spyte van jou voortslepende stryd. Jy het deur geloof alleen weerstaan. En hoewel jy gestruikel het, staan jy altyd op en keer terug na die kruis. Jy hou vas aan ‘n belofte van verbondskrag. En in die proses, word jy heiliger, meer nederig – meer soos Jesus!

Die duiwel wil jou egter oortuig dat jou sondestryd bewys dat jy boos is en op pad hel toe is. Nee – hy is ‘n leuenaar! En hy het talle Christene met hierdie leuen uit die hel gevang!

Net ‘n paar weke gelede, het ons bediening ‘n oproep ontvang van ‘n pastoor se vrou wat duidelik aangeklam was toe sy gebel het. Met ‘n bewerige stem het sy gesê, “Ek wil julle net laat weet daar is duisende predikantsvroue daar buite wat drink om hulle pyn te onderdruk. Dit is wat ek doen. Ek drink in die geheim om die seer te verdoof. Ek wil julle ook bedank vir julle lieflike boodskappe. Goeie dag.”

My hart gaan uit na hierdie vrou en tallose ander vroue van bedienaars soos sy. Sommige verduur koue huwelike, wat stadig hulle siele vernietig. En hulle wend hulle heimlik na dwelms en alkohol om hulle innerlike pyn te verlig. Hulle daal egter net verder in die dieptes en foltering van die hel in.

Die Skrif sê God sal nie ‘n geknakte riet verbreek nie. En dit is wat hierdie arme bedienaar se vrou nou is – ‘n riet wat gehawend en geknak is. Ek glo God se Gees gaan haar aanraak en haar bedien.

Die Bybel sê ook God sal nie ‘n lamppit wat rook sal uitdoof nie. Hierdie woord is veral van toepassing op die pastoor wat verslaaf is aan internet pornografie. God sê, “Wanneer Ek selfs ‘n klein vonkie sien oorbly, sal Ek dit nie uitdoof nie. Trouens, Ek sal aanhou om daardie vonkie wind te gee, totdat dit vlamvat en die vuur weer brand!”

Wil jy geestelik groei? As dit so is, vra die Heilige Gees om sy lig op jou een area van swakheid of sonde te skyn. En roep uit tot Hom, “Here, ek wil opweeg teen u woord. En ek weet net U het die krag om dit in my te bewerkstellig. Help my asseblief om deur geloof te begryp dat U in my werk en my geestelik laat groei!”

God wil hê dat jy nou, te midde van jou storm, weet Hy staan langs jou. Hy maak jou siel nat, voed dit en laat sy wortels in jou groei. So, laat die winde van die stryd hard waai. Jou Vader berei jou voor vir ‘n groot oes!