WAT DOEN JY WANNEER JY OORWELDIG VOEL?

David Wilkerson (1931-2011)

Die onderwerp van danksegging het na my toe gekom gedurende ‘n tyd van groot persoonlike swarigheid. So baie probleme het opgehoop dat ek teenoor my vrou erken het, “Ek het genoeg gehad. Ek is raadop en ek wil net verdwyn!”

Terwyl ek baie jammer gevoel het vir myself, het ek teenoor God begin kla, “Here, hoe lank gaan U my in hierdie vuur hou? Sien U nie hoe moeg my gees geword het nie? Wanneer gaan U my verhoor, God?”

Skielik het die Heilige Gees op my neergedaal en ek het skaam gevoel. Die Gees het vir my hart gefluister, “Begin net om My nou dadelik te dank, David. Bring vir my ‘n offer van danksegging vir al die dinge wat Ek in die verlede vir jou gedoen het en wat Ek in die toekoms vir jou gaan doen.

“Dank My vir jou familie, jou gesondheid, jou bediening. Gee vir my ‘n lofoffer van danksegging en alles sal skielik anders lyk. Jy sal vrede tydens jou stryd hê en Ek sal jou siel seën met gerustheid.”

Daardie woorde het in my gees vastrapplek gekry, maar ek het gewonder wat bedoel die Here met ‘n “lofoffer van danksegging”? Toe ek die Woord ondersoek het, was ek verstom oor al die verwysings wat ek gekry het.

“En laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werk vertel” (Psalm 107:22).

“Ek sal U ‘n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep” (Psalm 116:17).

“Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig! ” (Psalm 95:2).

En, natuurlik, die bekendste Bybelgedeelte oor danksegging van almal: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam” (Psalm 100:4).

Wanneer jy nêrens het om jou te wend nie, wend jou tot danksegging! Dank die Here vir sy vergifnis, sy seëninge, sy beloftes, alles wat Hy gedoen het en gaan doen. Dank Hom in alles!