Wat Dit Beteken Om Deur Die Gees Te Wandel!

God se doel vir elkeen van sy kinders is dat ons ons aan die beheer en heerskappy van die Heilige Gees sal oorgee:

“As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Galasiërs 5:25).

Met ander woorde, “As Hy in jou lewe, laat Hy jou leiding gee!”

In hierdie boodskap wil ek twee dinge aan jou wys: 1) Wat dit beteken om deur die Gees te wandel; en 2) Hoe jy so ‘n wandel kan verkry.

Ek het nog nie ten volle by so ‘n heerlike wandel uitgekom nie, maar ek wen grond!

Ek glo Handelinge 16 is een van die beste voorbeelde van wat dit beteken om deur die Heilige Gees te wandel. Ons het hierdie uitdrukking ons hele lewe lank gehoor “wandel deur die Gees” – maar wat beteken dit?

Die Heilige Gees verleen absolute, duidelike gedetailleerde instruksies vir hulle wat deur Hom wandel. As jy deur die Gees wandel, dan wandel jy nie in verwarring nie – jou besluite sal nie vaag wees nie.

Die vroeë Christene het nie in verwarring gewandel nie. Hulle is deur die Gees gelei in elke besluit, elke beweging, elke aksie! Die Gees het met hulle gepraat en het hulle in hulle elke wakker oomblik gelei. Geen besluit was gemaak sonder om Hom te raadpleeg nie. Die kerk se leuse reg deur die Nuwe Testament was: Hy wat ore het om te hoor, laat hom hoor wat die Gees sê!”

Jy het seker al die predikers en sendelinge gehoor sê, “Die behoefte verteenwoordig die roeping. Jesus het gesê, ‘Gaan’ – so, gaan! Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie en maak dissipels.”

Geliefdes, dit is slegs ‘n halwe waarheid. Ons moet deur die hele wêreld gaan met die evangelie en die roeping is vir die hele kerk. Maar ons moet net gaan wanneer en waarheen die Gees ons lei! Die idee dat ons eenvoudig net ons “tasse moet pak en gaan” het totaal en al niks te doen met deur die Gees wandel nie.

Ek bedien vandag in New York Stad omdat die Heilige Gees dit duidelik aan my gesê het, “Gaan na New York Stad en help ‘n kerk vestig.” En Hy het my gesê wanneer om te kom.  Geen duiwel of demoon kan my daarvan af wegkry nie – want die Heilige Gees het my gedetailleerde instruksies gegee. Ek onthou dat ek tussen Broadway en Seventh Avenue gestaan het tewyl ek gehuil het en my hande opgelig het. Die Heilige Gees het gesê, “In hierdie einste gebied gaan ek ‘n kerk oprig. Gehoorsaam my, David. Begin ‘n kerk in New York Stad!” Time Square Church is nie net ‘n ongeluk nie. Dit is die resultaat van duidelike, gedetailleerde instruksies van die Heilige Gees!

Die Bybel sê,

“In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan” (2 Korinthiërs 13:1, Matthéüs 18:16).

Ek wil jou die drie getuies vir my boodskap gee: Paulus, Silas en Timóteüs. Elkeen van hulle was vol van die Heilige Gees en het daagliks deur die Gees gewandel. In hoofstuk 12 van Handelinge, het hierdie manne ons gewys wat ons in so ‘n wandel kan verwag.

Paulus het Silas en Timóteüs gekies om saam met hom na al die kerke toe te gaan en hulle te versterk:

“En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal” (Handelinge 16:5).

In Paulus se dae was daar geen kontinent in groter nood as Asië nie. Daardie land was in totale duisternis. En soos baie ywerige bedienaars vandag, wou Paulus gaan na waar die nood was. Maar die Gees het hom verhoed om op daardie tydstip in Asië te preek:

“...En hulle het deur die land Frigië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig” (Handelinge 16:6).

Hulle het begin om daarheen te gaan, maar die Here het gesê, “Nee – julle kan nie nou gaan nie!”

Paulus het gesê, “Wel, kom ons gaan na Bithínië! Die mense is daar in duisternis en ons is beveel om te gaan. So kom ons gaan!” Maar weereens het die Gees hulle nie toegelaat nie:

“En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie” (Handelinge 16:7).

Geen wonder so baie sendelinge kom van die sendingveld af huistoe na ‘n kort tyd nie. Baie kom ontnugter en ontmoedig terug omdat hulle nie deur die Gees gelei was nie. Hulle het met ywer daarheen gegaan – maar sonder om die raad van die Heilge Gees te vra. Hulle is nie deur die Heilige Gees gestuur nie!

Paulus en sy manne het op Troas beland terwyl hulle besluiteloos was en gewonder het waarheen om volgende te gaan: Dit is toe dat Paulus ‘n visioen gekry het:

“En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien – daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!” (Handelinge 16:9).

Let wel: Dit is ‘n goeie ding dat die Gees nie vir Paulus die hele storie in die visioen vertel het nie. Jy sien, die man wat hom geroep het, was ‘n tronkbewaarder – hy het hom geroep om ‘n nag in die blokke tussen die mure van sy tronk te kom deurbring!

Geliefdes, jy sal ook beproef word wanneer jy begin om deur die Gees te wandel. Paulus was verseker beproef, hy én sy twee jong dienaars. Toe hulle in Filíppi, ‘n stad in Macedónië, aankom, het hulle nie so ‘n man teëgekom nie – net vroue!

“En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aandgedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing” (Handelinge 16:13-15).

Jy kan dink wat Paulus aan sy twee jong assistente moes gesê het op pad na Lídia se huis? “Ek het gedink ek sien ‘n man wat uitroep vir hulp. Nou is daar niks behalwe vroue hier nie – geen man in sig nie! Ek vertrou dat ek die Here reg gehoor het.”

Ons word maklik omgekrap as God iets vir ons sê en dan gebeur dit nie presies soos ons dit gehoor het nie. Ons wil hê elke detail moet in plek val. En as ons nie dadelik “die man sien” nie, dan is ons hou reg om alles af te maak!

In tussentyd, egter, het God Lídia se hart oopgemaak. ‘n Aantal vroue het gered geraak, God was besig om te beweeg – maar daar was nie ‘n man in sig nie! In der waarheid, sal God allerhande wonderlike, onverwagte wonderwerke op pad na die visioen doen – en op die pad van ons gehoorsaamheid!

God het Filippus kragtig gebruik om ‘n herlewing in Samaria te bewerkstellig. Mense het gered geraak, genees geword, was van demone verlos. Maar die Gees het Filippus gelei om Samaria te verlaat – en in plaas daarvan na die woestyn van Gasa te gaan. So, in gehoorsaamheid het Filippus opgepak, totsiens gesê en begin loop na sy eindbestemming.

Toe kom die Ethiópiese hofdienaar op ‘n wa daar verby terwyl hy die boek Jesaja gelees het.

“Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop...” (Handelinge 8:29-30).

Skielik was Filippus besig om Jesaja 53 vir die man duidelik te maak en Jesus daaruit te openbaar. Volgende het die man Christus aangeneem en is gedoop. Toe,

“En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie...” (Handlinge 8:39).

Baie mense het ‘n probleem met hierdie laaste vers: “Die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer...” Maar ek het nie. Die Gees was teenwoordig toe die hemel en die aarde gemaak is; Hy was Mede-Skepper saam met die Vader. So, Hy kan verseker ‘n man na sy volgende preek bestemming neem!

Petrus was op die dak besig om te bid toe God hom ‘n visioen wys. Die Here het hom geleer, “Moenie enigiets onrein noem as Ek dit rein verklaar het nie.” Terwyl dit plaasgevind het, het daar drie manne by Petrus se hekkie gestaan en roep, “Is Simon Petrus in die huis?”

Die Gees het vir Petrus gesê,

“En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur” (Sien Handelinge 10:19-20).

Dit was absolute duidelike, gedetailleerde instruksies!

Later, in Jerusalem, het Petrus die broeders vertel waarom hy saam met onbesnyde heidene geëet het.

“En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel...” (Handelinge 11:12).

Petrus het gesê, “Die Gees het vir my gesê om dit te doen. Ek het saam met hulle geëet, want die Heilige Gees het baie duidelik met my gepraat!”

Die vroeë kerk het nooit werkers of sendelinge uitgestuur tensy die Heilige Gees hulle gekies en georden het nie. ‘n Persoon het nie net na die apostel gekom en gesê, “Kyk, ek is geroep om na Ciprus, Pafos, Perge of Pergamus te gaan. Salf my asseblief, stel my aan – stuur my met julle seënwense!”

Nee – die Heilige Gees het baie duidelik in gebedsbyeenkomste gepraat, en hulle wat waarlik deur die Here gesalf is, uitgestuur:

“En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan...” (Handelinge 13:2-4).

As jy die Heilige Gees vra, sal Hy jou alles vertel wat jy nodig het om te weet – insluitend waar en wanneer om te gaan!

By hierdie ongelooflike leiding is ingesluit presiese waarskuwings oor wat aan die kom is. Die Heilige Gees wil jou waarsku om jou voor te berei:

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Johannes 16:13).

Jesus praat nie hier van net ‘n profesie en van toekomstige dinge nie. Hy praat van jou lewe! Om deur die Heilige Gees te wandel beteken om deur Hom gelei te word op ‘n baie praktiese wyse in jou daaglikse lewe. By voorbeeld, Hy het die vroeë kerk gewys dat daar ‘n hongersnood aan die kom was:

“En een van hulle met die naam van Ágabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ’n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius. En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon” (Handelinge 11:28).

Die Heilige Gees het hulle gewaarsku dat daar ‘n hongersnood op pad was – so hulle het begin om offergawes op te neem sodat hulle dit met ander gelowiges kon deel!

Die Gees het Paulus ook gewaarsku dat sy reis na Jerusalem sou lei tot sy gevangenisskap:

“daar... het ‘n sekere profeet met die naam van Ágabus van Judéa afgekom. En toe hy by ons kom, neem by die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voet en sê: Dit spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jesrusalem bind en in die hande van heidene oorlewer” (Handelinge 21:10-11).

Paulus was gewaarsku – opdrag gegee om homself voor te berei! Die Heilige Gees waarsku ons altyd!

As jy deur die Gees wandel, sal jy gedurig deur demoniese magte geteister word. Maar jy hoef nie geïntimideer te word deur enige demoniese mag nie – nêrens nie, nooit nie!

Paulus was gedurig geteister deur demoniese magte. Hy was besig om te preek vir Sérgius Paulus, die goewerneur van die eiland Pafos, toe demone probeer het om in te meng:

“...’n valse profeet, ‘n Jood met die naam van Bar-Jesus... het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof” (Handelinge 13:6-8).

Bar-Jesus beteken “seun van Jesus” of “engel van lig.” Dit was die duiwel wat teen Paulus opgestaan het! Maar die Heilige Gees het in die apostel opgewel:

“Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son ‘n tyd lank nie sien nie. En onmiddelik het daar ‘n donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei. Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo” (Handelinge 13:9-12).

Paulus, “vervul met die Heilige Gees,” het die al die magte van die duisternis neergewerp!

In Handelinge 16 het die duiwel weer teen die bediening van die Heilige Gees gekom – en weer het Paulus gereageer:

“En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaar deur waarsêery groot wins ingebring het. Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan’ (Handelinge 16:16-18).

Ek wil graag hier stop en elke Christen uitdaag wat daarop aanspaak maak dat hy/sy deur die Gees wandel: Is dit nie genoeg om “ontevrede” te wees oor die vyand se probeerslae om jou te teister nie! Paulus was ontevrede – menende “omgekrap, ontsteld.” En hy het dit vir baie dae toegelaat. Maar hoe lank sal jy toelaat dat Satan jou pla – dat hy onnodig dinge vir jou moeilik maak en jou in jou werk hinder?

Dit kon vir ‘n lang tyd vir Paulus so aangehou het. Dit mag dalk fisies sy liggaam aangetas het. Maar die Gees van God het in hom opgewel en hy het gesê, “Dit is dit – dit is nou genoeg! In die naam van Jesus, weg is jy!”

Geliefdes, ons verdra te veel van die duiwel! Daar kom ‘n tyd wat ons moet opstaan in die krag van die Heilige Gees en sê, “Genoeg – dit is dit! Ek beveel jou in Jesus se naam om te gaan!”

Wanneer jy outoriteit neem en die duiwel beveel om te vlug, sal Satan met alles wat hy het in sy arsenaal teen jou kom. Hy sal alle soorte moeilikheid en krisisse na jou toe bring!

Net na Paulus die duiwels uit die besete meisie gedryf het, het Satan probeer om dinge vir hom moeilik te maak. Hy het die menigte teen Paulus en Silas opgesweep – en skielik was hulle in ‘n vreeslike krisis!

Die stad se magistrate het hulle laat slaan en hulle in die tronk gegooi. En met elke hou op hulle rûe, kan ek die duiwel hoor sê, “So jy dink jy het die stryd gewen? Jy dink jy gaan al my demone uitdryf en outoriteit oor my neem? Hoor hier! Ek gaan jou wen, jou in die tronk stop, jou hande en voete vasbind. Dan sal ek sien of jy steeds die Here prys!”

Die duiwel het blykbaar nie geweet nie: Hoe meer jy ‘n dienaar van God slaan, wat deur die Gees wandel, hoe meer lofprysings slaan jy uit hom uit! As jy hom in ‘n krisis gooi en hom met probleme en moeilikheid opsaal, sal hy sing, uitroep en aanbid!

“En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister” (Handelinge 16:25).

As ons in staat is om deur die Gees te wandel, dan moet ons God glo vir bonatuurlike verlossing van elke binding van die Satan. Dit maak nie saak of God ‘n aardbewing moet skep om dit te doen nie. Inderdaad, dit is presies wat hy vir Paulus gedoen het:

“En skielik, kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddelik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak” (Handelinge 16:6).

Satan sal probeer om die ergste, aakligste versoeking of beproewing, wat jy al ooit moes hanteer, op jou pad te bring. Hy wil hê jy moet vasgevang word in skuldgevoelens, selfveroordeling en selfondersoek. Liewe heilige, jy moet jou Gees oplig en jou oë van jou omstandighede en jou slawerny afhaal. Moenie probeer om alles uit te pluis nie. Begin om God te loof en te prys, tot Hom te sing en Hom te vertrou -  en Hy sal jou redding bewerkstelling.

Toe die magistrate Paulus en Silas beveel het om uit die tronk te kom, het Paulus geweier om te loop. Hy het gesê,

“Hulle het ons in die open baar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei” (Handelinge 16:37).

God wil nie hê ons moet van mense af wegsluip, wat die duiwel gebruik het om jou te teister nie. Hy wil hê jy moet verlossing smaak met jou kop omhoog. Hy wil ‘n tafel voor jou aangesig berei in die teenwoordigheid van jou vyande!

“Laat hulle self kom en ons uitlei!” Dit was nie Paulus se trots wat hier gepraat het nie. Dit was die Heilige Gees in hom wat gesê het, “Hulle wat deur die Gees wandel, vrees nie mense nie. En die skande wat hulle op jou probeer plaas het gaan nou op hulle eie koppe neerkom!”

God, gee ons Paulus se vrymoedigheid! Ons weet dat ons meer as oorwinnaars in Christus is wat ons die krag gee. Laat die duiwel en sy mense in die skande kom. Maar hulle wat met God wandel sal nooit in die skande kom nie.

Nou, vir die tweede deel van my boodskap:

Die bevel: wandel deur die Gees, word aan almal gegee – nie net aan ‘n paar super-heiliges nie! Hier is dit hoe ons hierdie wandel kan verkry:

1. Jy moet dit met alles wat binne in jou is, soek! Eerstens moet jy die Heilige Gees vra om hou leidsman en vriend te wees:

“...Vra, en dit sal aan jou gegee word; soek en jy sal vind; klop en vir jou sal oopgemaak word” (Lukas 11:9-13).

As jy gered is, dan is die Heilige Gees reeds aan jou gegee. Vra Hom nou om oor te neem – onderwerp jou aan Hom! Jy moet in jou hart besluit dat jy wil hê Hy moet jou lei en onderrig. Moses praat van die laaste dae en het gesê,

“Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy jom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronómium 4:29).

“... Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig...” (Deuteronómium 4:36).

2. Fokus daarop om die Gees te ken en te hoor – en haal jou oë af van jou moeilikheid en beproewing. Paulus, Silas en Timóteüs sou van vrees en depressie beswyk het as hulle op hulle swaarkry gefokus het. In plaas daarvan, het hulle op God gefokus – Hom geprys en aanbid!

Meeste van die tyd wanneer ons bid, fokus ons op ons vorige mislukkings. Ons herleef ons nederlae keer op keer terwyl ons sê, “O, hoe ver kon ek tog nie nou al gewees het as ek nie God gefaal het en my verlede opgemors het nie!”

Geliefdes, jy moet elke ding in jou verlede vergeet. Dit is alles onder die bloed – en om daaroor bekommerd te wees is ‘n mors van tyd. So, vergeet van gister – vergeet selfs die laaste uur. En vergeet van die toekoms ook, omdat net die Here weet wat vorentoe vir ons wag. In plaas daarvan, fokus net op die Heilige Gees, met jou hele verstand en hart. Gee jouself heeltemal daaraan oor om Hom lief te hê!

3. Gee soveel as moontlik kwaliteit tyd aan gemeenskap met die Heilige Gees. Hy sal nie met enigiemand wat haastig is, praat nie. Alles in God se woord gaan daaroor om op Hom te wag!

Wanneer jy in gebed is, moenie waag om te dink dat die eerste ding wat in jou gedagtes opkom die stem van die Gees is nie. Nee, jou vlees en die duiwel weet van jou begeerte om Sy stem te hoor – en hulle sal instorm en woorde bring wat nie reg is nie!

Wag geduldig. Soek die Here en sing lofliedere tot Hom. Neem gesag oor elke ander stem wat gedagtes in jou fluister. Glo dat die Gees groter is as hulle, en dat Hy jou nie sal mislei of blind sal laat nie. Wees gewillig om jou hart op Hom te rig soos Jakob dit gedoen het – en laat Hom nie gaan voor Hy jou geseën het nie.

Ek dank God vir al die dinge wat ek beskryf het oor wandel deur die Gees: ongelooflike gedetailleerde leiding, krag oor demoniese inmening, bekommernis-vrye afhanklikheid van die Here, vryheid van vrees vir mense. Maar elkeen van hierdie seëninge moet slegs ‘n byproduk wees van ‘n hoër wandel deur die Gees. Ek glo die hoogste vorm van wandel deur die Gees gaan verder as al hierdie dinge!

Ons voorbeeld vind ons in 1 Samuel 9. In hierdie hoofstuk, word Saul deur sy pa gestuur om weghol donkies te gaan soek. Hy het ‘n dienskneg saam met hom geneem en deur die lande van Efraim, Sáälim, Benjamin en Suf gesoek. Op die ou end, het hy moedeloos geword en was gereed om op te gee op die soektog. Maar dan vertel sy dienskneg hom van Samuel, ‘n siener; miskien sou hy hom kon sê waar om sy donkies te vind.

Op hierdie geleentheid, sien ek Saul as ‘n tipe gelowige wat net leiding soek. Al wat hy in gedagte gehad het, was: “Waar is my donkies? Waarheen moet ek gaan? Ek weet nie meer watter kant toe nie!”

In tussentyd, het God alreeds vir Samuel gesê dat ‘n jong man na hom toe sou kom, en dat hy hom moes salf. Samuel is hier ‘n tipe van die Heilige Gees, wat die gedagte van God geken het; hy het meer in gedagte gehad as net leiding. Hy het geweet dat God Saul uitgekies het om ‘n rol te speel in die hemel se ewige doel!

Die eerste ding wat Samuel gedoen het toe Saul opgedaag het, was om ‘n fees uit te roep:

“...Gaan voor my uit op na die hoogte, dan kan julle vandag saam met my eet; en ek sal jou môre vroeg laat gaan; en alles wat in jou hart is, sal ek jou te kenne gee” (1 Samuel 9:19).

Dit is presies wat die Heilige Gees van elkeen van ons verlang: om by die Here se tafel te gaan sit en Hom te bedien – om kwaliteit tyd alleen saam met Hom te spandeer en Sy hart te hoor.

Samuel het Saul gevra om sy gedagtes skoon te maak sodat hulle samesprekings kon hou:

“En wat die esels betref wat jy vandag al drie dae vermis het, bekommer jou daar nie oor nie; want hulle is gevind...” (1 Samuel 9:20).

Samuel het gesê, “Moenie nou daarop fokus om leiding te kry nie – dit is alles afgehandel. Daar is iets baie belangriker ter sprake. Jy moet God se hart leer ken – sy ewige doel!”

Samuel het ‘n hele boud vleis voor Saul neergesit en hulle het die tyd gespandeer om samesprekings te hou: “En hy het met Saul gespreek op die dak” (1 Samuel 9:25). Na daardie nag van samesprekings, het Samuel vir Saul gevra om sy dienskneg uit die kamer uit te stuur, sodat hulle ‘n intieme, van aangesig tot aangesig gesprek kon hê:

“...Beveel die dienaar dat hy voor ons uit verder gaan... maar staan jy eers stil, dat ek jou die woord van God kan laat hoor. En Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die Here jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?” (1 Samuel 9:27; 10:1).

Sien jy wat God hier sê? “As jy regtig deur die Gees wil wandel -  as jy regtig My salwing wil hê – het jy nodig om meer as net leiding by My te kry. Jy het nodig om in My teenwoordigheid in te kom en My hart te leer ken, My begeertes! Jy sien, Ek wil jou salf – om jou in My koninkryk te gebruik!”

Geliefdes, vergeet van leiding – vergeet nou alles vir eers! Laat die Heilige Gees toe om jou te leer wat die diep, geheime dinge van God is. Staan stil in Sy teenwoordigheid en laat Hom jou die hart van God wys. Dit is die wandel deur die Gees in sy hoogste vorm!

Wanneer jy dit doen, sal leiding kom – en jy sal nie eers hoef te vra nie! Toe Saul Samuel verlaat het, het Samuel gesê,

“Terloops – gaan na die graf van Ragel en jy sal al die inligting, wat jy nodig het oor jou donkies, daar kry” (sien 1 Samuel 10:2).

Toe het Saul van die mees ongelooflike gedetailleerde instruksies in God se hele Woord ontvang!

God het waardevolle salfolie wat Hy op jou wil giet. Hy wil hê jy moet uit sy Sy teenwoordigheid kom met die aroma van Sy salwing op jou. En terwyl jy gaan, sal Hy fluister “O, terloops – hier is wat jy wou weet...” Hy belowe:

“En die Here sal sy stem vol majesteit laat hoor...” (Jesaja 30:30).

Wil jy deur die Gees wandel? Plaas dan jou hart daarop om Hom te soek vandag. Jy sal leer om Sy stem te ken -  met duidelike, gedetailleerde leiding.

Amen!