WARE STERKTE

David Wilkerson

As God se kinders, kan ons nie vorder tot in die volheid in Christus nie, tensy ons onsself toenemend afsonder van die gees van hierdie wêreld. Indien ons nie meer hemelsgerig raak nie en minder vasgevang word in wêreldse plesiere wat ons omring, sal ons stadig al die blydskap van ons bekering verloor. Die hartseer werklikheid is dat baie gelowiges nie hulle redding kan geniet nie, omdat hulle nalaat om God se Woord te gehoorsaam. Gehoorsaamheid aan sy Woord is die plek waar seëninge en blydskap begin!

Israel wou nie hulle buitengewone gees van blydskap verloor nie, so hulle het weer saamgekom om aan God in hierdie saak gehoorsaam te wees: “En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en het gaan staan en belydenis doen van al hulle sonde” (Nehemía 9:2).

Israel se omstandighede en beproewings het nie verander nie - God het hulle verander. Nehemía het ‘n jubelende Israel herinner aan hoe die Here vir hulle voorvaders in die woestyn voorsien het. Die Here het sy oorvloedige barmhartighede oor hulle uitgestort. Hy het hulle deur sy Gees geleer en met ‘n wolkkolom en ‘n vuurkolom gelei. Hy het bonatuurlik manna en water aan hulle voorsien. En op ‘n wonderbaarlike wyse, het Hy nie eens toegelaat dat hulle klere of skoene verslete raak nie (sien Nehemía 9:19-21).

Net so vandag, belowe God om dieselfde seëninge ook op sy kinders uit te stort. Te midde van ons beproewings, moet ons stil na God se Woord gaan en bid dat die Heilige Gees dit op ons harte sal skryf. Dit is hoe ons begin om sy rus en vrede binne te gaan.

Hoe handhaaf ons die blydskap van die Here? Ons doen dit op dieselfde wyse as wat ons dit in die begin verkry het: Ons het sy Woord lief, respekteer dit en smag daarna. En ons wandel voortdurend in gehoorsaamheid deur die krag van die Heilige Gees. Slegs die blydskap van die Here rus ons toe met ware sterkte!