Ware Geestelikheid Kan Nie Nagemaak Word Nie

Hier op die strate van New York Stad, kan jy ‘n Rolex horlosie vir vyftien dollar koop. Die verkoopsman roep, “Kry jou Rolex hier,” en dan bring hy ‘n blink horlosie met die woord “Rolex” op sy gesig. Maar, elke New Yorker weet, hierdie horlosies is nie regtig Rolexes nie. Hulle is goedkoop namaaksels van die oorspronklike.

Duisende besoekers aan New York Stad koop hierdie Rolexes van die straatsmouse en dra hulle by die huis. Aan die begin is hulle bly om met hulle “duur” horlosies te spog, maar hulle leer gou om nie ander toe te laat om dit te bekyk nie, want dit weeg net ‘n tiende van ‘n regte Rolex.

Jy kan ander namaaksels van weelderige items ook in New York kry. By voorbeeld, by Saks Fifth Avenue, kan jy $1,000 vir ‘n ontwerpersrok betaal -  of jy kan ‘n namaaksel koop wat presies soos die oorspronlike lyk by Orchard Street vir $95 koop. Die nagemaakte rokke is nie van dieselfde materiaal gemaak nie, maar jy kan nie dit agterkom aan hoe dit lyk nie.

Daar is ook ander namaaksels van duur handsakke, sonbrille en juweliersware. In der waarheid, baie van die diamante wat deur die ryk gemeenskap gedra word, is namaaksels. Hierdie ryk New Yorkers is bang dat as hulle die diamante in die publiek dra, sal dit gegryp en gesteel word. In plaas daarvan dra hulle sirkone, goedkoop namaaksels van die regte ding.

Dit blyk dat daar namaaksels is vir omtrent enige ding vandag. Maar daar is een ding wat nie nagemaak kan word nie en dit is ware geestelikheid. Niks wat waarlik geestelik is, kan nagemaak word nie. Die Here herken die werk van sy eie hande – en Hy sal nie ‘n mensgemaakte namaaksel van sy goddelike werke aanvaar nie.

Elke nou en dan, kom sekere Christene tot die oortuiging, “Om goddelik te wees, moet ons teruggaan na die gebruike van die vroeë kerk. Dit is die enigste manier om God te eer en moontlik ‘n nuwe Pinkster in te lei.”

Hierdie mense stel dan al die bekende programme van die kerk in die dissipels se dae in. Hulle stel ouderlinge, diakens en biskoppe aan net soos Paulus dit gedoen het en hulle neem die apostels se kleredrag en maniere aan. Dan sit hulle die doop en nagmaal in “goddelike orde” net soos die vroeë kerk dit gedoen. Dit bly egter net ‘n namaaksel, sonder die krag van die Heilige Gees en dit is dooie godsdiens.

Dit is jammer, maar die enigste vrug op sulke tipe pogings veroorsaak net ‘n dooie, mensgemaakte geestelikheid. Hoekom? Omdat dit onmoontlik vir die mens is om dit wat werklik geestelik is, na te maak. Dit is uitsluitlik die werk van die Heilige Gees. En daar is vir ons geen ander manier om daardie werk te reproduseer nie.

Dit is die fout van die moderne godsdiens. Ons dink as ons net kennis van die Skrif en Bybelse beginsels aan mense oordra, sal hulle geestelik word. Ons stuur bekeerlinge na die Bybelskool of seminarie, waar hulle vol Skrif, teologie en etiek gestop word. Ons leer hulle om te preek, te doop en te administreer. Ons maak van hulle in teoloë, pastore en sendelinge. Maar die feit bly staan – geen persoon of instansie het die mag om egte geestelikheid in iemand te produseer nie. Slegs die Heilige Gees doen dit.

Jou kerk mag wonderlike aanbiddingsdiense, gebedsbyeenkomste, huisgroepe en Bybelstudies hê. Maar hierdie dinge op sigself produseer nie ware geestelikheid nie. In werklikheid kan jy ‘n ernstige gebedskrygsman of ywerige getuie vir Christus wees en heeltemal verander in jou denke en gedrag wees, maar steeds nie werklik geestelik wees nie. As die Heilige Gees nie die werk in jou doen nie, dan is jy hulpeloos.

Vandag maak baie pastore van kwynende kerke dieselfde fout. Hulle word oortuig dat as hulle een of ander geestelike herlewing in hulle kerke kan inbring, dan sal God se Gees terugkeer. So is hulle altyd op die uitkyk vir ‘n geestelike beweging wat vir hulle ‘n lewenslyn sal bring. Maar hulle eindig op met ‘n namaaksel.

So ‘n paar jaar gelede terwyl ek met vakansie was, het ek so ‘n tipe “namaaksel” kerk bygewoon. Die pastoor het in die preekstoel gestaan en energie en opgewondenheid, wat hy by ‘n welbekende herlewing ervaar het, probeer opwek. Maar die hele diens was dood. Die resultaat was niks meer as ‘n goedkoop kopie van die oorspronklike nie en dit het nie gewerk nie.

Nou spat kerke uitmekaar oor hierdie pogings om herlewings na te maak. Die arm gemeentes is deurmekaar en gaan geestelik dood omdat hulle nie die reine woord van God inkry nie. Glo my maar as ek sê dat wat ookal werklik geestelik is – wat ookal waarlik van God af is – kan nie nagemaak word nie.

Baie min van die werk van God se Gees kan uiterlik gesien word. Dit is hoekom geestelike mense selde na uiterlike bewyse van sy werk kyk. Paulus sê, “Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare” (2 Korinthiërs 4:18).

In die konteks van hierdie paragraaf, praat Paulus van lyding en beproewings. Hy sê in der waarheid, “Niemand weet van al die dinge wat ons in die gesig staar nie, behalwe die Heilige Gees. En dit is waar ware geestelikheid gevorm word – in die smeltkroes van lyding.”

Nie elkeen wat ly word egter geestelik nie. Baie Christene wat erge lyding ervaar, word bitter en hard, kwaad vir God en vir die wêreld. Hulle is oortuig dat die Here hulle in die steek gelaat het en hulle blameer Hom dat Hy hulle aan Satan se bose kloue oorgegee het.

Hulle wat egter hulle onderwerp aan die leiding van God se Gees – hulle wat hulle beproewings hanteer met volle vertroue dat die Here besig is om iets in hulle te vorm – hulle kom deur hulle smeltkroes met ‘n sterk geloof. En hulle getuig dat die Gees hulle meer geleer het tydens hulle lyding as toe dit goed gegaan het in hulle lewens.

Ek kan daarvan getuig in my eie lewe. In al my jare wat ek saam met die Here wandel, het ek selde geestelike groei in my lewe in goeie tye gesien. Enige geestelike groei het eerder plaasgevind wanneer ek deur moeilike tye gegaan het en pyne en beproewing ervaar het – alles wat die Heilige Gees toegelaat het.

Ek weet dieselfde is waar vir meeste van die waarlike geestelike mense wat ek oor die jare leer ken het. Hierdie Christus-gelykenis is in hulle gevorm terwyl hulle die vuuroond van beproewing verduur het. Dit is waar hulle hulle Here die beste leer ken het.

Op een stadium in sy geloofswandel, het Paulus gesê, “behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukking my wag” (sien Handelinge 20:23). Inderdaad, deur Paulus se hele lewe het sy beproewings nooit opgehou nie. Hulle het aanhou kom, die een na die ander.

U mag wonder, “Hoe kan dit wees? Die God wat ons dien is almagtig en seëvierend. Hy het net nodig om ‘n woord te spreek en al ons beproewing en lyding kan in ‘n oomblik verander. Hy kon dit vir ons moontlik gemaak het om triomfantlik te lewe sonder enige probleme. So, waarom sou ons liefdevolle, barmhartige God toelaat dat sy kinders ly?

Paulus reageer, “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Korinthiërs 4:17). Volgens Paulus, produseer ons verdrukkings en moeilikhede in ons ewige waardes. Inderwaarheid sê hy, “Die lyding waardeur ons gaan op hierdie aarde sal heel waarskynlik ons hele lewe lank duur. Maar dit is slegs ‘n oomblik gemeet teen die ewigheid. En op hierdie oomblik, terwyl ons beproewings verduur, werk God in ons ‘n openbaring van sy heerlikheid wat vir ewig sal duur.”

Soos meeste Christene, glo ek dat Paulus ‘n geestelike reus was. Hy het ‘n wonderlike openbaring van Christus gehad, ‘n ongelooflik sterk geloof en oorvloedige geestelike kennis. So, hoe het Paulus daaraan gekom? Waar het hy so ‘n fontein van Christus se heerlikheid gevind? Hy het dit gekry deur die veelvuldige beproewings wat hy deurgemaak het – lyding wat op lyding gestapel is.

Keer na keer is Paulus geslaan, gestenig deur woedende bendes, besteel deur diewe, in die tronk gestop. Drie keer het God by gestaan toe Paulus skipbreuk gely het en in die bruisende see gegooi is. Hy het honger, koue en naaktheid gely. Hy was geslaan en gefrustreerd deur die duiwel homself. Hy het geskryf, “Daarom wou ons na julle toe kom... maar die Satan het ons verhinder” (1 Thessalonicense 2:18).

Paulus se lys van lyding gaan aan en aan. En alles klink onskriftelik, verkeerd, selfs gemeen van God. In werklikheid, as Paulus nie op hierdie manier gely het nie, sou ons nooit dieselfde Nuwe Testament wat ons vandag het, gehad het nie. Daar sou nie sendbriewe soos ons dit vandag ken, gewees het nie. Hoekom? Paulus sou ‘n totaal ander man gewees het.

Ek het onlangs ‘n skokkende stelling deur ‘n voorspoedsprediker gelees. Hy het gesê, “Die apostel Paulus se lyding was onnodig. As hy dieselfde geestelike kennis gehad het wat ons vandag het, sou hy in staat gewees het om heerskappy oor die vyand te kry.”

Nee – nooit. Dawid antwoord sulke misleiding met die reine waarheid: “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge kan leer” (Psalm 119:67,71).

Paulus het verstaan dat in alles wat hy gely het, het die Heilige Gees hom geleer wat hy op geen ander manier sou leer nie. Hy het geskryf, “Ek Paulus... Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam ... om die woord van God te vervul” (Kolossense 1:23-25).

Die apostel sê hier, “God gee aan my iets vir julle in hierdie beproewing. Hy openbaar aan my ‘n waarheid wat deur die eeue heen goed bewaar was. En daardie waarheid is dat Christus in jou is, die hoop op die heerlikheid. Sy krag werk magtiglik in jou’ (Kolossense 1:29).

Toe Paulus besluit het om na Jerusalem te gaan, was dit nie omdat hy gehoor het dat herlewing daar uitgebreek het nie. Hy was nie ‘n ontmoedigde prediker wat na iemand anders gekyk het om iets van God aan hom mee te deel nie. Nee -  hy het dit duidelik gestel, “het ek weer na Jerusalem opgegaan... op grond van ‘n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig” (Galasiërs 2:1-2). Paulus het na Jerusalem gegaan om ‘n verborgenheid, wat God aan sy mense wou openbaar, mee te deel.

Hierdie goddelike man het sy eie volle, heerlike openbaring van Christus gehad. Hy het nie die leerstellinge wat hy gepreek het geleer deur homself in ‘n studeerkamer toe te sluit en boeke en kommentare te bestudeer nie. Hy was nie ‘n geïsoleerde filosoof wat teologiese waarhede uitgedink het met die gedagte dat, “Eendag sal my werk deur die toekomstige generasies gelees word.”

Laat my toe om jou te vertel waar Paulus sy sendbriewe geskryf het. Hy het hulle geskryf in donker, klam tronkselle. Hy het hulle geskryf terwyl hy die bloed van sy rug afgevee het nadat hy gegésel is. Hy het hulle geskryf nadat hy uit die see gekruip het na hy weer skipbreuk gely het.

Paulus het geweet dat al die waarheid en openbaring wat hy geleer het uit die slagveld van geloof gekom het. En hy het hom verheug in sy beproewings ter wille van die evangelie. Hy het gesê, “Nou kan ek met gesag preek vir elke matroos wat skipbreuk gely het, vir elke tronkvoël wat sonder hoop opgesluit is, vir almal wat ooit die dood in die gesig moes staar. God se Gees het my ‘n beproefde veteraan gemaak, so ek kan hierdie waarheid praat met almal wat ore het om te hoor.”

Laat my toe om jou te vra: na wie toe draai jy in tye van lyding en beproewing? Jy gaan verseker tog nie na ‘n onbeproefde, teologie-spuitende praatkop wat nog net die maklike pad geken het nie. Nee – jy gaan na ‘n heilige wat groot beproewing deurstaan het en daardeur bewys het dat God getrou is.

Paulus sê van sulke heiliges, “maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, inverdrukkinge, in node, in benoudhede, in slae, in gevangeneskappe, in oproere... as onbekendes en tog goed bekend; as sterwendes en kyk, ons lewe; as getugtig en tog nie gedood nie;  as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie, en tog alles het” (2 Korinthiërs 6:4-5,9-10).

God het jou nie aan die kloue van die Satan oorgegee nie. Nee – Hy laat jou beproewing toe, want die Heilige Gees is besig om sy onsigbare werk in jou te doen. Christus se heerlikheid tot in alle ewigheid is besig om in jou te vorm.

Jy sal nooit ware geestelikheid van iemand of iets anders kry nie. As jy God se heerlikheid gaan ervaar, gaan dit na jou toe moet kom net waar jy is – in jou huidige omstandighede, goed of sleg. God gaan nie jou situasie verander totdat Hy sy ewige doel in jou bereik het nie.

Ek glo dat een van die grootste geheime van Paulus se geestelikheid, was sy gereedheid om enige situasie waarin hy was te aanvaar sonder om te kla. Hy het geskryf, “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is” (Filippense 4:11). “Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly” (vers 12).

Die Griekse woord vir “tevrede” beteken hier “om af te weer.” Paulus sê, “Ek probeer nie myself teen my onaangename omstandighede beskerm nie. Ek smeek God nie vir verlossing daarvan nie. In teendeel, ek omhels hulle. Ek weet uit my geskiedenis met die Here, dat Hy iets ewigs in my doen.”

Baie van die frustrasies wat ons in hierdie lewe evaar, kom van ons ontevredenheid met ons omstandighede. Dit is hoekom baie van ons gebedslewe daaruit bestaan om God te smeek om ons uit ons moeilike omstandigheide uit te haal: “Here, haal my uit. Ek is deur genoeg. U het gesê U sal my nie laat ly meer as wat ek kan verdra nie.”

Maar die woord “verdra,” wat Paulus in 1 Korinthiërs 10:13 gebruik, impliseer dat ons toestande nie gaan verander nie. Die punt vir ons is om te volhard in die situasie.  Hoekom? God weet dat as Hy ons omstandighede gaan verander, gaan ons op die ou end vernietig word. Hy laat toe dat ons ly omdat Hy ons liefhet.

Laat my verduidelik. Kyk na die pandemiese egskeidingstempo onder Christene. Een opname toon dat die egskeidingstempo onder die evangeliese kerke hoër is as in die sekulêre wêreld. Ek glo dit is alles as gevolg van menslike ontevredenheid. As frustrasies in die huwelik groei, dan bou die een eggenoot mure op. En as een maat nie God wil soek vir genade en tevredenheid deur die beproewing nie, het die huwelik geen kans om te herstel nie.

Baie Christene redeneer, “Ek kan dit nie meer hanteer nie. Sekerlik is daar iemand anders wat my verstaan, wat medelye met my sal hê en my sal liefhê vir wie ek is. Is dit nie wat God vir my wil hê nie?” Ek sê vir jou, daardie gedagtes kom reguit van die vyand af. Dit is Satan se plan om jou te oortuig dat jou huwelik verby is.

Liewe vrou, glo jy dat dit met jou beter sal gaan as jy van jou man skei? Laat jy jouself toe om te dink dat God dalk iemand anders vir jou het, iemand wat meer liefdevol is en jou diepste behoeftes sal bevredig?

Man, is jy oortuig dat jou situasie by die huis hopeloos is? Het al die baklei en gekibbel jou finaal laat besluit om te loop? Het jy vir jouself gesê, “Ek het genoeg? Enigiets is beter as dit”?

Ek sê vir elke getroude persoon wat hier lees – jy sal nooit waarlik geestelik wees as jy oppak en wegloop nie. God laat jou beproewing toe om ‘n rede. Hy het nie jou omstandighede verander nie omdat Hy jóú wil verander.

Ons werk in elke beproewing is om God te vertrou vir al die krag en bronne wat ons nodig het om tevredenheid te midde van ons lyding te kry. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie – om “tevrede” te wees te midde van ons beproewing beteken nie dat ons dit geniet nie. Dit beteken slegs dat ons tevrede is om te bly waar ons is en wat ookal na ons kant toe kom te verdra, omdat ons weet dat ons Here besig is om ons te verander in die beeld van sy Seun.

Jou huidige situasie mag hel op aarde wees en elke traan uit jou dreineer. Maar as jy getrou is om daarin te bly – as jy God se woord eer, Hom vir uithouvermoë vertrou – sal Hy jou op ‘n wonderlike manier in ‘n ware geestelike persoon verander.

Nie lank gelede nie, het iemand my vertel dat een van Amerika se vorige talentvolste voetbalsterre Jesus aanvaar het. Ek het dit moelik geglo omdat ek gehoor het dat hierdie man op die rand van ‘n egskeiding is. Hy is van sy vrou vervreem weens sy wilde naglewe en aanhoudende gejag agter vroue aan. Ek het gedink, “Hierdie man sal dalk opeindig soos baie ander ‘bekeerde’ atlete. Hy sal geld maak deur sy getuienis te gee, maar hy sal ‘n dubbele lewe lei.”

Net daarna, het ‘n vriend my egter vertel dat hierdie voetbalspeler gladnie getuig nie. In plaas daarvan, het hy Christelike berading gekry. Hy wou sy huwelik herstel en hy was besig om weer sy vrou die hof te maak, haar op afsprake te neem en haar met liefde toe te gooi. Hy het gesê, “Ek het niks om te getuig totdat ek bewys het dat Jesus in my, ‘n werklikheid is. En as sy teenwoordigheid ‘n werklikheid is, dan sal hy sy genesende krag in my huwelik werk.”

Dit het my oortuig van daardie man se redding. Die Heilige Gees het hom gewys wat die belangrikste is. Hy was ‘n ster atleet en kon enige van sy luste te enige tyd bevredig het. Maar in plaas daarvan, wou hy sy vrou terughê met huweliksprobleme en al.

Om uit te hou beteken “om aan te hou ten spyte van swaarkry; om geduldig te ly sonder om op te gee.” In kort beteken dit om vas te hou of om uit te hou. Maar hierdie woord beteken baie min vir die huidige generasie. Vandag gee baie Amerikaners maklik op – Christene ingesluit. Hulle gee op op hulle eggenote, hulle families en op God.

Petrus het hierdie onderwerp aangespreek deur te sê, “Want dit is genade as iemand ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly’ (1 Petrus 2:19). Dan voeg hy by, “Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly - dit genade by God.

“Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel:

“Wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele” (1 Petrus 2:19-23).

Net so het die apostel Paulus beveel, “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Christus” (2 Timóteus 2:3). Uiteindelik gee die Here vir ons hierdie belofte: “Maar wie volhard tot die einde toe, Hy sal gered word” (Matthéüs 24:13).

Ek vra jou – wat is jou swaarkry? Is jou huwelik op die rotse? Is daar ‘n krisis by jou werk? Het jy konflik met ‘n familielid, ‘n verhuurder, ‘n vriend wat jou verraai het?

In die verlede het ek gedink dat jongmense nie deur veel swaarkry gaan nie. Wanneer ek ookal ‘n jongman oor sy beproewings gehoor praat het, het ek gedink, “Wat het hy om oor te kla? Hy het steeds al sy hare, sy tande, sy sig. Hy word nie elke oggend wakker met seer artritiese gewrigte en hom laat sukkel om uit die bed te kom nie. Hy doen oukei, en hy weet dit nie eers nie.”

Miskien kry jongmense nie op dieselfde manier as ou mense swaar nie. Ek sien ‘n groot aantal jongmense in hulle dertigs wat swaarkry. Baie dra pyngevoelens rond omdat hulle onvoldoene, nutteloos en onvervuld voel. Sommige weet  nie wat om met die res van hulle lewens te doen nie. Hulle is eensaam, vreesbevange, en het nie rigting in hulle lewens nie – en hulle pyn gaan net aan en aan.

Hoor my mooi, geliefde – dit is die lewe. Dit gaan aanhou om moeilik te wees vir elkeen van ons, die hele pad tot in Jesus se arms. Die enigste ding wat sal verander soos ons ouer word, is dat ons ‘n nuwe reeks beproewings sal ontvang. Ons lyding sal nie langer bestaan uit eensame of onvervulde gevoelens nie, maar dit sal eerder fisiese skete en pyne soos maagsere en verlies van jou verstandelike en fisiese vermoëns wees. En ons sal die pyne en die vreugdes van kinders en kleinkinders grootmaak, ervaar.

Tog moet ons begin hoop. Jy sien, net soos Paulus se swaarkry nooit opgehou het nie, het sy openbaring, sy volwassenheid, sy diepe geloof, sy gevestigte vrede ook nie opgehou nie. Hy het gesê, “As ek ‘n geestelike man gaan wees – as ek regtig my Here wil behaag – dan kan ek nie teen my omstandighede baklei nie. Ek gaan uithou en nooit opgee nie. Niks op hierdie aarde kan my gee wat ek van God se Gees in my beproewing kry elke dag nie. Hy maak van my ‘n geestelike man.”

Paulus se lewe het “asemgehaal” met die Gees van Christus. En so is dit met elke ware geestelike persoon. Die Heilige Gees stort in daardie persoon se innerlike wese die hemelse bries van God uit. Hierdie persoon is nie afgemete nie; hy murmureer en kla nie oor sy lot nie. Hy mag deur een van die ergste beproewings in sy lewe gaan, maar hy hou steeds aan met glimlag – omdat Hy weet dat God in hom werk en sy ewige heerlikheid in hom openbaar.

Liewe heilige, as jy verkeerdelik ly, draai die ander wang en laat die mishandeling kom. Jy kan in enige omstandighede tervredenheid ervaar omdat jy Jesus se belofte het: “Hy wat volhard tot die einde toe, sal gered word.”