WANNEER SAL JY GLO WAT GOD BELOWE HET?

David Wilkerson (1931-2011)

Ken jy Christene wat altyd kla oor hoe onbekwaam hulle voel? Hulle verkleineer hulleself en vergelyk hulleself met diegene wat hulle bewonder en hulle dink, “Ek is glad nie soos hy nie. Ek is hopeloos.”

Moontlik onthou jy van die Ou Testament storie van die Israelitiese verspieders wat gestuur was om die Beloofde Land te bespied. Hulle het teruggekom en gesê. “Ja, dit is ‘n land wat oorloop van melk en heuning, maar dit is ook vol reuse en ommuurde stede. Ons kan nie teen hierdie mense veg nie. In vergelyking met hulle, lyk ons soos sprinkane” (sien Númeri 13).

Nou, hierdie manne het God nie beskuldig nie. Hulle het nooit gesê, “God kan nie. Hy is nie sterk genoeg nie.” Hulle het nie gewaag om sulke ongeloof te uiter nie, maar, in plaas daarvan, het hulle op hulleself gefokus en gesê, “Ons is soos gogga’tjies in die oë van ons vyande.”

Dit is nie nederigheid nie en dit is nie onskuldige, skadelose praatjies nie. Liewer, dit is ‘n belediging vir die Een wat die lig van die wêreld is. Hierdie lig beveel ons om te glo, “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).

Jy sien, wanneer jy kla oor jou onvermoë en swakhede, verkleineer jy nie jouself nie, maar jy verkleineer jou Here. Hoe? Omdat jy weier om sy Woord te glo of daarin te wandel. Die Israelitiese verspieders was so gefokus op hulle onvermoë dat hulle reg was om tou op te gooi, maar wat was God se reaksie op hulle vrese en ongeloof? “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Númeri 14:11). God het hulle van een sonde beskuldig: ongeloof.

Vandag vra die Here sy kinders dieselfde vraag wat Hy vir Israel gevra het: “Wanneer sal julle glo wat Ek julle belowe het? Ek het gesê my krag sal julle tegemoet kom in julle tye van swakheid. Julle moenie vertrou op die krag van julle vlees nie. Ek is Jehova, ewige sterkte, en Ek sal julle sterk maak deur my mag.”