WANNEER JESUS HOMSELF BEKEND MAAK

David Wilkerson (1931-2011)

Die profeet Jesaja praat van die kerk net voor die terugkeer van Jesus. God se kinders sal nie swak wees, omrol van vrees en gespanne wees nie. Nee, hulle sal floreer en “die beste kos en wyn” nuttig. Die Here sê in wese vir ons, “Ek het die beste vir laaste gelos en nou giet Ek dit uit vir my kinders. Hulle geniet ‘n feesmaal van wonderlike dinge in my teenwoordigheid.”

“En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6).

Hierdie ontsaglike feesmaal vind plaas dwarsdeur die wêreld. Jongmans en -vroue van God is honger vir ‘n evangelie wat hulle diep in hulle gees aanraak. Hulle het die evangelie van bohaai, skares en professionalisme verwerp en begeer slegs om afgesonder te wees met Jesus en openbaring van Hom te ontvang. Hulle kom uit gebed uit met ‘n vuur wat almal rondom hulle aanroer.

Alles wat die Here doen in hierdie laaste dae is nou verbind aan sy teenwoordigheid en sy feesmaal kan slegs plaasvind waar Jesus se teenwoordigheid geopenbaar word. Die psalmis sê die berge smelt weg soos was in die Here se teenwoordigheid (sien Psalm 97:5). Eenvoudig gestel, elke geestelike muur en vleeslike blokkasie verdamp wanneer Jesus Homself bekend maak. Christus se teenwoordigheid is so werklik wanneer dit geopenbaar word dat jy amper daaraan kan raak.

Is die tasbare, deurdringende teenwoordigheid van Jesus merkbaar in jou kerk? Gaan mense op hulle knieë in allesverterende aanbidding tot Hom? En vertrek hulle met die besonderse gloed dat hulle in Christus se teenwoordigheid was? En wat van jou huis? Sien gaste die teenwoordigheid van Jesus in jou huishouding? Deurdring die aroma van sy heiligheid jou gesin, jou huwelik en al jou verhoudings?

Wat ‘n wonderlike ding om te lewe in die gloed van die teenwoordigheid van Christus! Die Heilige Gees sal sy teenwoordigheid en krag by ons kerke, ons huise, en ons harte inbring en onderhou as ons Hom intiem sal volg.