Wanneer God Sy Hart op U instel

Job vra “Wat is die mens dat U [God] soveel van hom maak, dat U hom so op die hart dra, dat U hom van dag tot dag toets, hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?” (Job 7:17 – 18).

Hebreërs 12:1 vertel vir ons dat die wêreld verryk is deur ‘n wolk van getuienis wat saam met Christus in volle glorie is. My vraag is waarvan getuig die groot wolk? En vir wie is hulle getuienis bedoel?

Die wolk van getuienis praat met ons geslag, deur hulle lewens en hulle woorde soos dit in die Skrif opgeteken is.

Ek glo hulle het drie dinge wat hulle vir ons wil sê:

  1. Hulle is getuies daarvan dat God se hart steeds ingestel is daarop om die verloregaande wêreld te red. Daar is nêrens in die Skrif opgeteken dat God die wêreld laat los het nie. Hy is steeds besig om Sy Gees op die mensdom uit te stort en beweeg onder die mans en vrouens van al die nasies.

  2. Hulle getuig teenoor ons dat God se hart nog steeds daarop ingestel is om Sy kerk lief te hê en te bewaar. Selfs met toenemende afvalligheid en teruggevallenes koester die Here nog Sy liggaam.

  3. Hulle getuig teenoor ons dat God se hart nog steeds ingestel is op elke kind van Hom. Die Here sal nooit een van Sy dienaars agterlaat nie, dit maak nie saak hoe ver die dienaar geval het nie.

Ons leef in ‘n geslag wat baie meer boos is as die geslag van Noag wat kan hierdie wolk van getuienis vir die mensdom sê wie se sonde selfs groter is as die van Sodom?

Ons tyd is een van groot welvaart. Ons ekonomie is geseënd, tog het ons gemeenskap so immoreel, geweldadig, en anti-God geword, dat selfs die sekulêre wêreld die feit dat ons so ver geval het beween. Christene van oral oor wonder waarom God Sy oordeel uitstel op so ‘n sondige gemeenskap. Hulle vra “Here, hoe kan U toelaat dat so ‘n afbreuk op U Naam opgehoop word? U woord word letterlik uit U midde geskeur. Hoe lank gaan dit voortduur? En hoe kan U die seksuele perversie verdra? U het Sodom en Gomorra vernietig vir ‘n kleiner oortreding as dit. Hoe vêr sal U dit nog laat gaan?”

Die van ons wat Christus liefhet mag dalk nie verstaan waarom sulke verskriklike sonde toegelaat word om voort te gaan nie. Maar die wolk van hemelse getuienisse verstaan. Hulle bevraagteken nie die genade en geduld wat God bewys nie.

Die apostel Paulus is ook een van die wolk van getuienis, en hy getuig van God se onbeperkte liefde vir selfs “die grootste sondaars”, Paulus se lewe en geskrifte vertel vir ons dat hy die naam van Christus vervloek het. Hy was ‘n terroris wat God se mense vervolg het en hulle tronk toe gesleep het en doodgemaak het. Maar hy het dit alles onwetend gedoen.

Paulus sal vir ons sê dat God geduldig is met die huidige generasie, omdat daar baie mense onder hulle is, wat is soos hy was, mense wat in onkunde sondig. Terroriste wat van kleins af daarin geskool is om te haat, net soos Paulus was, en dat haat al is wat hulle nog ooit geken het. Hulle is nog nie aan die evangelie blootgestel nie. Ek sê vir u, soos Paulus is daar baie apostels en evangeliste wat van die mees boosaardigste van mense sal kom.

Die apostel Petrus is ook onder die in die wolk van getuienis en hy verstaan ook waarom God so geduldig is. Petrus se lewe en geskrifte herinner ons daaraan dat hy Jesus gevloek het, en gesweer het dat hy Hom nooit geken het nie. God weerhou Sy oordeel omdat daar ‘n menigte is wat Hom nog vervloek en ontken, net soos Petrus gedoen het. Hulle val terug en het ‘n behoefte aan genade. En die Here sal nie opgee met hulle nie, net soos Hy nooit opgegee het met Petrus nie.

Soos ek nagedink het aan hierdie wolk van getuienis, het ek die gesigte van vroeëre dwelm verslaafdes en alkoholiste, vroeëre prostitute en homoseksuele, vroëere moordenaars en vroueslaners, vroeëre ongelowiges en pornografie-verslaafdes voor my gesien – menigtes waarmee die gemeenskap opgegee het. Hulle het almal tot bekering gekom en in die arms van Jesus gesterf, en nou is hulle getuienisse van die genade en geduld van ‘n liefdevolle Vader.

Ek glo dat almal van hulle in een verenigde getuienis sal sê, dat Jesus hulle nie geoordeel het voordat hulle Sy genade ontvang het nie. God het Sy oordeel weerhou wat op hulle moes val. Hy het Sy toorn weerhou en was nie gewillig dat enige een verlore moes gaan in hopeloosheid en wanhoop nie. En God het nie Sy houding van hoop vir die wêreld verander nie.

Sedert Christus se koms na hierdie wêreld, het die mensdom erger en erger geword, tot op die punt waar dit lyk asof die beker van ongeregtigheid oorloop. U mag wonder, soos ek, hoe God sulke ongelooflike genade kan bewys, soveel aanhoudende geduld. Hoe kan Hy sy oordeel teen sonde vir so lank uitstel? Waarom laat hy bose gemeenskappe toe om voort te gaan en Sy naam oneer aan te doen en Hom in so ‘n perverse manier beledig?

Dit kan wees dat God die bose wil sien afdaal in groter perversiteit sodat Hy selfs nog ‘n groter toorn oor hulle kan uitstort. As dit so is sou almal van ons al geskiedenis gewees het. Nee, God is nie besig om te wag sodat Hy sy vertrapte glorie kan wreek nie.

Sommige mense wonder of dit al is wat op God se gedagtes is, om oordeel oor die bose wêreld te bring. Mag die Here dit verhoed. Soos baie Christene, was ek ook al by tye maar te gretig om hierdie bose wêreld oor te gee aan oordeel. Baie gelowiges is verstaanbaar bedroef oor die hoogmoed en vermetelheid van diegene wat die Here voortdurend bespot. Maar dit is anders met ons hemelse Vader. Hy verlang nie daarna om te oordeel nie maar om te verlos.

Petrus skryf, ”Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word” (2 Petrus 3:7). Ja, daar is ‘n verterende vuur in stoor, gereserveer vir ‘n uur wanneer die Here dit op die sondige mense sal loslaat. Maar Petrus herinner ons dat God tyd nie op dieselfde manier as ons meet nie. ‘n Duisend jaar is vir Hom soos ‘n vier-en-twintig uur dag vir ons is: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (3:9).

Wat moet ons van dit alles dink? Jesus sê vir ons, “So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie” (Joh 9:4). Dieselfde is waar vir ons as ons sien dat alles in die wêreld eendag verbrand sal word … dit is nou die middernag uur … die uur van oordeel is vinnig aan die naderkom … Dit is nou nog ‘n dag van genade, vergifnis, en redding … nou moet ons nog die werk doen wat aan ons opgedra is: om in die hele wêreld in te gaan en Christus te verkondig.

God is nog steeds lief vir die mal, immorele, ondankbare wêreld. Mag Hy ons help om die verlorenes net so lief te hê soos Hy. En mag ons bid om die geduld en liefde te hê wat Hy op die oomblik aan die wêreld bewys.

Die ware kerk van Jesus Christus is die appel van God se oog. En tog, vanaf die begin het sy kerk afvalligheid en valse leraars ervaar. Die vroeë kerk – daardie apostoliese organismes wat deur Paulus en die apostels gestig is – het die volle plan van God gehad. Niks “voordelig vir groei en standvastigheid” is van Christus se volgelinge weerhou nie. Die waarheid is aan hulle gegee, nie alleen in woord nie maar dit is ook deur die krag van die Heilige Gees aan hulle gedemonstreer.

Dink aan die kerk in Korinte. Die gemeente is deur Paulus geplant en deur Apollos die groot evangelis, natgemaak. As ‘n liggaam ooit “ten volle geleer” is, dan was dit die in Korinte. En tog binne vyf of ses jaar – selfs voordat Paulus sy eerste brief aan hulle geskryf het – het dieselfde kerk diep in valse leringe verval. Hulle het onder ‘n subtiele betowerende aanval gekom, wat veroorsaak het dat hulle ‘n lering ontvang het wat die opstanding uit die dood ontken het. Dit het daarop gesinspeel dat Christus se opofferende dood en opstanding opgehef is. Paulus verduidelik dit in die volgende woorde aan hulle: “As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? – beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

“Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook die wat in Christus gesterf het, verlore” (1 Korintërs 15:12 – 18). Wat ‘n godslasterlike fout het nie in die kerk ingesypel nie.

Die kerk in Galasië is ook deur Paulus begin. In die oë van hierdie gelowiges was Paulus soos ‘n engel wat na hulle gestuur is, en hulle het hierdie lering met groot blydskap ontvang. Hulle het die apostel so hoog geag dat hulle beweer het dat hulle hul “oë sou uitpluk” vir hom.

Dan skielik, skokkend, val hierdie selfde gelowiges weg van die waarheid wat Paulus hulle geleer het rondom regverdigmaking. Soos die Korintiërs, het hulle van die suiwer lering weggedwaal en onder ‘n “towerkrag” gekom wat op hulle gewerp is deur die valse leraars; hulle het ‘n dwaalleer omhels wat verklaar het dat regverdigmaking deur werke kom en nie deur geloof nie.

Oorbluf, het Paulus aan hulle geskryf, “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang!” (Gal. 3:1) Hy het in der waarheid gevra: “Wat is hierdie vreemde betowering wat julle het, hierdie geestelike towerkuns wat so skielik oor julle gekom het? Julle is opgelei deur mans van God wat oor julle geween het toe hulle julle die suiwer lering geleer het. En tog in so ‘n kort tydjie het julle die lering opgegee en nou omhels julle ‘n inhalige vervloekte evangelie.

Wat het met julle gebeur? Wat het julle gedoen met die evangelie lering wat julle ontvang het? Julle het dit eenkant gewerp en ‘n pamperlang boodskap omarm wat beroep doen op julle vlees.”

Ek het Christene geken wat vir jare ‘n soliede Bybel gebaseerde kerk bygewoon het, waar hulle die volle raad van God op ‘n gereelde basis ontvang het. Hulle was na die hemel opgeneem deur die gesalfde prediking, die realiteit van die hel is aan hulle gewys en hulle gewetens is deur God se Woord aangespreek. Niks van die evangelie is teruggehou nie, en hulle het in die geloof gegroei. Hulle kon eenvoudig nie genoeg kry van die suiwer woord wat hulle gehoor het nie.

Maar toe het iemand vir hulle ’n preek-bandjie gegee deur een of ander gewilde prediker, of hulle het na die prediker se byeenkoms gegaan, “uit nuuskierigheid.” Wat hulle gehoor het, het so reg geklink, en 95% daarvan was inderdaad die waarheid. Maar hulle het nie die 5% onderskei wat gif was nie – lering wat op die vlees beroep gedoen het nie, en op ‘n subtiele manier die bybelse waarheid van Christus onderdruk het. Spoedig was hulle bedwelmd in hulle verstand en was hulle vasgevang deur ‘n evangelie wat hulle vlees geprikkel het.

Dit is ongelooflik, maar sommige welvaart-leraars verkondig nou dat Jesus ryk was. Hulle verdraai die Skrif deur te sê dat Hy rykdom moes gehad het om sy dissipels te ondersteun. Hulle beweer dat sy rykdom ‘n tesourier (Judas) benodig het en dat geen timmerman in daardie tyd sonder ‘n huis was wat hy vir homself gebou het nie. Ongelooflik dat Christene voor hierdie misleiding swig.

U mag wonder hoe toegewyde, Bybelse Christene so vinnig jare van soliede lering kan afwater? Waar is hulle onderskeiding? Waarom onthou hulle nie die soliede voedsel wat hulle geleer is nie?

Paulus waarsku duidelik dat sulke verleidelike leringe sal kom: “Ek weet dat daar na my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie” (Hand. 20.29). Petrus het ook gewaarsku dat valse leraars op die toneel sal verskyn en “verderflike dwaalleringe” sal bring (2 Petrus 2:1)

Paulus het Timoteus gewaarsku dat ‘n tyd sal kom wanneer God se volk, “die gesonde leer nie meer sal verdra nie; hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaar maak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend” (2 Timoteus 4:3 – 4).

Dit staan opgeteken in die geskiedenisboeke dat dit presies so gebeur het soos Paulus voorspel het. Na die apostel se dood – en nadat die geslag wat onder sy lering gesit het gesterf het – het ‘n sameswering van bose foute die kerk oorstroom. Gelowiges is deur vreemde leringe verlei, en wetenskap en filosofie het die waarheid van Christus se evangelie weggespoel.

U mag dalk bewus wees van sulke korrupte kerke. Denominasies verwerp vandag die Maagdelike Geboorte en ontken Christus se godheid. ‘n Groeiende aantal biskoppe en predikers bevorder homoseksualiteit en selfde-geslag huwelike. Hierdie kerke is afvallig, en dubbeld dood.

En tog het hierdie organisasies niks te doen met die ware kerk van Jesus Christus nie. Christus sal van hulle sê, “Ek ken julle nie.” Sommige mense in hierdie “Ichabod” organisasies beweer dat hulle die Here liefhet, maar as hulle Hom lief gehad het, sou hulle niks te doen wou gehad het met daardie kerk nie en sou hulle dit verlaat het in plaas daarvan om deel te wees van die afvalligheid.

Dink daaroor na wat Paulus gesê het oor die reinheid van Christus se kerk: “Christus … die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met water en die Woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel … heilig en onberispelik” (Efesiërs 5:25 – 27).

Ek vra u watter leraar van Christus se evangelie kan so blind wees en hom verbeel dat Christus ‘n bruid aan die Vader sal aanbied geklee in vuil, bevlekte klere? Kan u u voorstel dat Jesus ‘n bruid sal voorstel wat versier is met ondenkbare verfoeisels? “Hier, Vader, is my bruid, bestaande uit gelowiges wie se gedagtes op die dinge van die wêreld gerig is. Hulle is liefhebbers van geld, mislei deur die “bemarking” van valse profete.” Nee! Ek glo nie eers dat die duiwel so ‘n bedrogspul sou kon aanvaar nie.

En tog is God se grootste bekommernis nie die afvallige kerk nie. Selfs afvalligheid sal dit nie reg kry om die kerk van Christus te vernietig nie. Ten spyte van hierdie probleme, het God alles onder beheer, en is Sy geheime, onsigbare, oorwinnende kerk nie besig om te sterf nie. Dit is eerder so dat die rivier van die Heilige Gees in die “dooie see” van die afvallige kerk invloei, en die ongeregtigheid en die louwarmheid blootstel. En dit veroorsaak dat lewe opspring.

Diegene wat van afvalligheid wegdraai mag dalk net ‘n oorskot wees. Nogtans, het Jesus verklaar: “Die veld is ryp vir die oes. En daar is nog tyd vir die arbeider om voort te gaan.” Nêrens in die Bybel sê dit dat die Heilige Gees van die toneel weggevlug het, en die uitgedorde oes agtergelaat het nie. God se Gees werk nog steeds, oortuig nog steeds, bekoor, en trek nog die verlorenes na Christus toe, insluitende die afvalliges.

Die wolk van hemelse getuienisse sou vir ons sê moenie vir oordeel soek nie, om nie te fokus op “om net maar die fort te hou nie.” Dit is steeds die dag van die Heilige Gees, wie wag om elke gewillige kruik te vul. Bid dat die Here van die oes werkers sal oproep!

Wat het die groot wolk van getuienisse te sê aan u en my? Wat sê die Woord vir ons is hulle boodskap aan mede-oorwinnaars in die liggaam van Christus?

Eenvoudig net dit: “Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep” (1 Petrus 3:12).

In die tyd van die apostels, het Christus-hatende kragte probeer om hulle stil te maak. Hierdie kragte het die Saligmaker vervloek en Sy opstanding ‘n bedrogspul genoem. Hulle het selfs wette gemaak om mense te verbied om oor Sy naam te praat en hulle in die tronk gegooi wanneer hulle dit gedoen het. Maar selfs die ystertralies kon die apostel nie hou nie. Die Here het Sy engele gestuur om hulle te verlos (sien Handelinge 5:18 –32).

Handelinge vertel vir ons, “ … en die hoëpriester sê toe vir hulle: Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer!” (5:27 – 28). Maar, gevul met die Heilige Gees, het die dissipels onmiddelik teruggegaan na die tempel; waar hulle voortgegaan het om die mense die woord van die lewe te gee. Die Gees het vir hulle gesê om te gaan en Jesus te verkondig met vars vuur en krag. Hulle moes die regulasies ignoreer en nie toelaat dat enigiets hulle verhinder om die suiwer evangelie van die opgestane Christus te verkondig nie.

In Europa, is daar ‘n beweging wat besig is om veld te wen wat daarvoor soek om alle prediking oor homoseksualiteit en enige ander seksuele verwarring te verban. Dit is ‘n probeerslag om Christus eerstens uit die gemeenskap uit te sluit en uiteindelik ook uit die kerke. (Wanneer jy Jesus se woord ontken, ontken jy Hom as mens.) Vir baie Europese predikers, kan dit tronkstraf of ‘n boete beteken as hulle reguit praat oor seksuele sonde. Intussen draai die gety hier in die VSA ook na ‘n anti-Christus agenda.

Ons kyk weer na die groot wolk van getuienisse. Hoe het Petrus en die apostels hulle vervolgers geantwoord? "Petrus en die ander apostels het geantwoord: ‘”n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! … En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan die wat aan Hom gehoorsaam is” (Hand. 5:29, 32).

Die huishouding van Kornelius is ook onder die getuies wat iets het om vir ons te sê. Hier is Kornelius se getuienis van die bybelse verslag: “Petrus het na ons gekom en Jesus gepreek. Hy het gesê dat hy persoonlik van die Here se opgestane liggaam kan getuig en dat hy Hom selfs aangeraak het. Hy het vir ons vertel dat Christus openlik aan die mense gewys is met meer as 500 wat van sy opstanding kan getuig” (sien Hand. 10:34 – 41).

Petrus het toe aan Kornelius se huishouding vertel, “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang. Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het” (10:43 – 44). As gevolg van Petrus se prediking, het die huishouding van Kornelius bevryding van sonde leer ken. Kornelius se getuienis sê aan elke kind van God vandag: As jy wil hê dat die Heilige Gees op jou, jou familie, en bediening moet kom, preek en glo dan in Christus se vergifnis. Diegene in Kornelius se huishouding het dit geglo en die Heilige Gees het oor hulle gekom.

Dink na oor die stemme van ander getuienisse wat met ons praat oor die eenvoudige waarheid:

  • Die skrywer van Hebreërs getuig teenoor ons dat ons na Jesus moet kyk, die Begin en Voleinder van ons geloof. Ons moet aanhou om oor die oorwinning van die kruis te preek, die beskuldigings van sondaars teen ons verduur, en ons boesemsondes eenkant gooi, en die resies voor ons met geduld hardloop (sien Hebreërs 12: 1 – 2).

  • Koning Dawid getuig teenoor ons dat ons op die Here se vergifnis kan vertrou, Hy sal nie die Heilige Gees van ons wegneem nie. Dawid het moord gepleeg en was ‘n egbreker en ‘n leuenaar. Maar hy het vergifnis ontvang, en die Vader sal hom nie laat gaan nie, omdat Hy sy hart op Dawid ingestel het. Hy het vir Dawid ‘n nuwe hart gegee, en hom ‘n getuienis gemaak van die Here se oorvloedige vergifnis. Vandag, het ons Nuwe Testament gelowiges ‘n bloed bedekking en genade waaroor Dawid net kon droom.

  • Petrus getuig teenoor ons dat hy gesondig het teenoor die grootste lig wat enige mense ooit kon hê. Die dissipel het in Jesus se teenwoordigheid geloop, hy het Jesus aangeraak, en hy het sy roeping persoonlik van Jesus ontvang. En tog het Petrus hom gevloek, en gesondig teen die waarskuwings wat van Jesus se eie mond gekom het. Petrus het gewonder of hy ooit weer in die Saligmaker se oë sou kon kyk.

  • Hierdie man kon met ‘n skuldgevoel en veroordeling geleef het, maar God het sy hart op Hom gestel. Daar is vir Petrus gesê dat hy na Jesus moet kyk die Begin en Voleinder van sy geloof. Net so moet ons ook ons sonde neem en dit oorgee aan Christus se offer aan die kruis. Ons moet opstaan en aanbeweeg, maak nie saak watter sonde ons gepleeg het nie. Jesus het ons ongeregtigheid so ver as die ooste van die weste van ons verwyder.

  • Paulus vertel ons om nie vervolging te vrees nie. Jesus het elke dag van Sy bediening gely, en Hy het gesterf in lyding. En toe Christus Paulus geroep het om die evangelie te verkonding, het Hy hom gewys hoeveel groot leed vir hom wag. Regdeur sy bediening het Paulus inderdaad swaar gekry. En tog, vervolgings bewys dat God sy hart op jou ingestel het. “sodat nie een van julle onder die vervolginge sou begin wankel nie. Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas” (1 Tessalonisense 3:3).

En laat ons terugkeer na Job se getuienis: “Wat is die mens dat U soveel van hom maak, dat U hom so op die hart dra, dat U hom van dag tot dag toets, hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?” (Job 7:17 – 18).

Wanneer God Sy hart op jou instel, sal jy dikwels getoets word. Maar die feit is, hoe langer en harder jou versoeking, hoe dieper het God Sy hart op jou ingestel, om Sy liefde en sorg vir jou te wys. Dit is die getuienis van Paulus se lewe, en inderdaad ook van Jesus se lewe. Die vyand mag dalk teen jou te staan kom, maar die Here het ‘n standaard teen hom opgerig. Ons vind absolute rus in Jesus.

Al hierdie stemme van die groot wolk van getuienis vertel dit vir ons. Hoor ek ook die getuienis in jou gees?