WANNEER GOD ‘N VUURHOUTJIE AANSTEEK

David Wilkerson

Terwyl die honderd-en-twintig dissipels getrou bymekaargekom het in die Bovertrek, het hulle nie net gewag vir ‘n datum op die kalender nie. Die Bybel sȇ, “Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar” (Handelinge 2:1). Dit beteken hulle het bymekaargekom as een liggaam vir een doel: die hoop om Jesus se belofte vervuld te sien. Hulle uitroep was dieselfde as in die dae van Jesaja: “Here, skeur die hemele oop en daal neer. Laat die berge van teëstand, menslik en demonies, smelt voor U teenwoordigheid, sodat die verlorenes gered kan word” (sien Jesaja 64:1).

SIGBARE VUUR VAL

Ons weet wat gebeur het: Die Heilige Gees het neergedaal met sigbare vuur wat op die dissipels se hoofde verskyn het. Hierdie heilige uitstorting het hulle na die strate van Jerusalem toe geneem, waar duisende lewelose godsdienstige mense gesien en gehoor het wat gebeur het. Oombliklik het die Gees op die skare neergedaal en elke berg van teëstand laat wegsmelt. Petrus het opgestaan om te preek, en skielik het hulle wat Jesus verwerp het – massas wat hulle harte verhard het – gesmelt met die aanhoor van Jesus se Naam. En drieduisend mense het uitgeroep om gered te word.

GOD SE FOKUS

Oordink wat God besig was om te doen. Reg rondom die aarde in daardie tyd, was daar oorloë, onluste, groot donkerheid en koninkryke wat nasies aangeval het. Baie miljoene was besig met handeldryf, soos wat vragskepe en handelskaravane dwarsdeur die wȇreld gereis het. God se belang en fokus was egter op ‘n honderd-en-twintig nederige, biddende heiliges, saam in ‘n klein gehuurde vertrek. Wat vertel dit vir ons? Eenvoudig gestel, wanneer God ‘n vuurhoutjie aansteek, dan moet daar brandhout wees daarvoor om vlam te vat. Soos Sy Gees oor die heiliges geblaas het ten tye van Pinkster, het ‘n flikkerende vlam ‘n vuur geword wat gou die hele wȇreld sou bedek.

Weereens is dit dieselfde geroep wat dwarsdeur die wȇreld uitstyg.