WANNEER DIE WINDE TEEN ONS IS

Gary Wilkerson

Die apostel Paulus het ‘n defnitiewe doel, ‘n visie, ‘n sending gehad – God se sending. Sy doelgerigtheid het hom altyd laat vorentoe beur. Hy het geweet dat hy baie swaarkry sou verduur, maar hy het geleer dat ‘n mens baie lyding kan verdra as jou hart gerig is op ‘n doel. As jou hart gerig is op gemak, kan jy hoegenaamd geen lyding verduur nie.

Nadat Paulus jarelank in die bediening was, het hy besluit, “Dit is nie verby nie. Ek moet meer doen. Daar brand iets in my hart, ‘n passie in my siel om die evangelie te verkondig. Ek wil na Rome gaan.” Hy wou na die middelpunt van sy wêreld gaan met die goeie nuus. Selfs na die Keiser self toe.

“En toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië...die winde teen ons was” (Handelinge 27:1 en 4).

Paulus het gekies om te seil ten spyte van moontlike probleme, wat dadelik begin het. Die matrose het stormagtige weer tegemoet gegaan, en Paulus het die ander mans in die skip gewaarsku dat hulle hul reis moes halt roep omdat rampe en verlies op hulle gewag het. Maar sy raad is verwerp deur ander in die skip en rampe het hulle getref (sien Handelinge 17:10-20). Selfs al het hulle storms beleef en moes hulle die skip se vrag ligter maak, het Paulus geweet hy het duidelik die stem van God gehoor en geweet dat God ‘n weg vir hom sou maak om sy doel te bereik. Paulus kon sy bedenkinge gehad het en teruggestaan het – maar hy sou nie tou opgooi nie!

Jy mag dalk iets soortgelyks in jou eie lewe ervaar. Jy weet jy het van God gehoor om iets vir Hom te doen en jy het die reis begin. Maar die oomblik as jy ernstig daaroor raak om die Naam van Jesus te verheerlik en siele te wen, dan begin die winde jou op ‘n dramatiese manier weerstaan. Satan haat dit wanneer ons siele wen! Jy sal dalk moet oorlog maak teen baie magte van die duisternis, maar jy sal jou stryd wen en Jesus verheerlik sien.