WAG VIR JESUS

Gary Wilkerson

Ek sou nie hierdie boodskap van “wag op die krag van God” kon verkondig as ek nie geweet het dit is waar nie. My vrou, Kelly, en ek het dit eerstehands beleef. Ek het al voorheen geskryf oor ons verlore seun, Elliot, wat verslaaf was aan heroïen. Op een stadium was hy selfs haweloos. Ons het probeer om hom te help met rehabilitasie programme en selfs individue gekontak wat moontlik tot hom kon deurdring, maar niks het hom ooit aangeraak nie. Baie nagte het ek en Kelly onsself aan die slaap gehuil; dit was een van die moeilikste tye van my lewe.

Een nag, het Kelly vir my gesê sy het van die Here gehoor en ek kon sien dat sy waarlik beklee was met iets van God af.

“Ek het ‘n droom gehad dat Elliot bewusteloos op die grond gelê het. Jesus het vir my gesê om hom op te tel, en toe ek dit doen, het sy liggaam slap in my arms gehang. Toe Jesus hom van my afgelig het, was ek so verlig. Maar Hy het weggedraai van my af, sodat ek Elliot nie kon sien nie.

“Dit het my onstel, maar ek het kragtig ervaar dat die Here vir ons sê, ‘Julle kan dit nie op julle eie doen nie. Julle moet ophou inmeng. Julle kan dit nog nie sien nie, maar Ek is besig om ‘n werk in Elliot te doen wat vir julle verborge is.’”

‘n Paar weke later, het die Heilige Gees besit geneem van ons seun en hom verander. Hy het Elliot heeltemal verlos en vandag is hy ‘n kragtige jong getuie vir God.

Vriende, as ons vandag faal, is dit nie omdat ons nie op God se krag wag nie? Is dit omdat ons onsself “vertoon” eerder as om onsself in gebed “weg te steek”? Ek vermaan jou om op Jesus te wag. Wanneer sy woord na jou toe kom deur die Gees en fluister, “Vertoon jouself,” is daar niks in die lewe wat daarmee kan vergelyk nie.

Op daardie dag, sal jy sien hoe die hemel die aarde aanraak op maniere waaraan jy nooit sou kon dink nie. Jy sal met meer oortuiging en vrymoedigheid praat as ooit. En jou blydskap in jou wandel met Jesus sal alles oortref wat jy al ooit beleef het.