WAG OP GOD MET GROOT BLYDSKAP

Gary Wilkerson

“En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 24:48-49).

Jesus het vir sy vriende wat drie jaar lank saam met Hom in die bediening was, gesê dat hulle getuies van sy hart, sy gedagtes, sy werke en sy wysheid was. En tog het Hy hulle beveel om in die stad te bly – om nie weg te beweeg nie – totdat.

Baie van julle wat vandag hierdie boodskap lees, het ‘n totdat in jou lewe nodig. Dinge is nie altyd wat jy sou wou hê of glo dit moet wees nie. En jy wag totdat iets gebeur.

Totdat God kom, gaan dinge dieselfde bly. Totdat God kom, sal daar geen kragtige belewenis uit die hemel wees om dinge wat op die aarde gebeur te verander nie.

Die outeur van Lukas het ook die boek Handelinge geskryf en ons sien weer, Jesus het “hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader” (Handelinge 1:4). Hy sê weer vir hulle om te wag totdat hulle met krag uit die hoogte toegerus is.

Wag! Moenie jaag om dinge te kry wat jy glo vir jou bestem is in die lewe nie. Ons moet daaraan werk om te wag, in ‘n sin. Die nederigheid wat wag vereis, sê, “Ek het nie die krag om dit te doen nie en ek kan dit nie in my eie krag doen nie. Ek het die werk van die Heilige Gees in my lewe nodig.”

Waarna dink jy het hierdie gewag vir die dissipels gelyk? Hulle het nie gekerm, “O, ons moet op God wag” nie. Nee! Ons sien dat Jesus hulle geseën het en selfs toe Hy in die hemel opgeneem is, was hulle vol groot blydskap.

“En Hy het hulle uitgelei tot by Bétanië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank” (Lukas 2:51-53).