WAG OP DIE HEILIGE GEES!

Gary Wilkerson

As jy die krag van God in jou lewe nodig het, het Jesus ‘n spesiale woord vir jou. Net voor Hy opgevaar het na die hemel, het Christus geweet sy dissipels het krag nodig gehad om die werke van sy koninkryk op aarde te doen. Daarom het Hy hulle beveel, “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 24:49-50).

Die opdrag was eenvoudig: “Bly in die stad.” Maar let op hierdie kwalifikasie: totdat. Jesus het in wese gesê, “Julle lewens sal dieselfde bly totdat die Heilige Gees op julle kom met krag.”

Die volgende is waar vir baie Christene wat ek ken. Hulle ervaar hulle lewe verloop nie heeltemal volgens God se plan nie. Hulle is ontevrede, wil meer hê in hulle huwelik, hulle werk, hulle wandel met Christus en hulle getuienis vir Hom. Jesus belowe aan hulle, “God begeer daardie veranderinge vir jou, maar daardie dinge gebeur slegs deur die krag van die Gees. Totdat Hy kom, sal dinge dieselfde bly.”

Lukas het hierdie toneel in sy evangelie beskryf, en hy herhaal dit in die Boek van Handelinge: “En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie” (Handelinge 1:4-5).

Jesus se boodskap in beide gedeeltes is duidelik: “Wag op die Gees! Moenie jaag, ‘n lawaai maak of paniekerig raak nie. Julle kan nie met julle wil die werke van die koninkryk volbring nie. Wag in geloof, en julle sal toegerus word met krag uit die hoogte.” Dit het inderdaad gebeur net soos Hy beloof het. Op die dag van Pinkster, was die dissipels gevul met ‘n kragtige salwing van God wat die wêreld nog nooit gesien het nie. Tweeduisend jaar later, was die wêreld nog nooit weer dieselfde nie.