Waarsêery in die Kerk

David Wilkerson

‘n Aantal bekeerde hekse gaan rond in die land vandag en waarsku dat Sataniste en praktiserende hekse die kerk infiltreer – veral charismatiese kerke. Sommige van hierdie voormalige hekse het boeke geskryf oor ‘n diaboliese komplot deur bose hekse om gemeentes binne te gaan as super-geestelike Christene. Hulle doel is om herders te mislei en te laat skipbreuk ly en om talle naiëwe gelowiges terug te lei na okkultaanbidding.

Baie van hierdie bose hekse, sê hulle, word reeds goed gevestig in talle kerke en beheer beide die herder en die gemeente en veroorsaak groot verwarring, goddeloosheid, egskeiding – selfs die dood. Ons het talle briewe ontvang in ons kantoor van mense wat sê hulle glo hulle herder moet onder een of ander demoniese invloed wees – en ek glo talle van hierdie briewe is geregverdig.

Gelowiges, ons in die Liggaam van Christus durf nie toelaat dat die duiwel se mag verheerlik word in die huis van God nie! Sy krag is beperk, en hy kan nie ‘n Heilige Gees muur van vuur deurdring nie. Toe die dissipels uitgestuur is met krag om die siekes te genees en die dooies op te wek, het hulle jubelend teruggekom: “Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam” (Lukas 10:17).

Die enigste herder wat onder die beheer van ‘n heks kan val, is een wat hom vergryp aan boesemsondes – wat gedryf word deur gierigheid van sukses, of wat die Here verloën het deur ongeloof of verwaarlosing! ‘n Man van God wat die dade van die vlees afgesterf het en die swaard van die Here swaai, sal die vyand ken. Hy sal enige strik onderskei en sal staan teen die bose, soos Paulus gedoen het met die heks by Filippi.

Hier is wat gebeur het: ‘n Slawemeisie deur die duiwel besete – dit is, ‘n praktiserende heks met ‘n gees van waarsêery – wou Paulus se bediening te infiltreer! Sy het Paulus en sy metgeselle gevolg en uitgeroep, “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing” (Handelinge 16:17).

Maar Paulus se gees was omgekrap. Hy het onderskei dat die meisie nie bekeer was nie en dat sy geen reg gehad het om te raak aan heilige dinge nie. Hy het ‘n strik opgemerk. Daarom het hy omgedraai en vir die bose gees in haar gesê, “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Chrisus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan” (Handelinge 16:18).

Paulus was ongesteur deur die demoniese magte. Hy was gelei deur die Heilige Gees en vol van die Woord van God. Maar die Bybel vertel van een groep van veronderstelde bedienaars wat aangeval was – letterlik – en oorwin was deur ‘n demoon. Dit was die sewe seuns van Skeva. Toe hulle probeer het om ‘n duiwel uit ‘n man te dryf, het die bose gees op hulle gespring, hulle klere afgeskeur en hulle in die straat laat inhardloop van angs – net omdat hulle Jesus nie geken het nie. Hulle was nie vol van Christus nie!

Diegene, wat wandel in heiligheid, weerstaan die duiwel.

Bedienaars van die evangelie wat in diep sonde verval, het nie eintlik ‘n demoon wat op hulle “spring” nie; hulle word nie verlei deur ‘n heks nie. Hulle word deur hulle eie welluste en begeertes weggelei! Hulle het van heilige grond afgeklim en het begin om die duiwelse gebied te deurkruis!

Geen gemeente wat in heiligheid en die vrees van God wandel, kan mislei word of beheer word deur hekse of bose geeste nie. Slegs plesiermal, Bybel-en-heiligheid-verwerpende kerke is oop vir Satan se pogings om in te kom.

Waar die Woord van God herhef word, waar mense hulleself afsonder van goddeloosheid en die wêreld, waar daar ware bekering en gehoorsaamheid aan die Heilige Gees is – daar sal Jesus altyd Sy teenwoordigheid openbaar!

‘n Gemeente wat gedoop word in die teenwoordigheid van Jesus hoef nie bevele aan bose magte te skree nie. Die krag van Jesus dryf alles uit wat boos is! Satan en sy bose hordes kan eenvoudig nie saam met Christus se teenwoordigheid bestaan nie. Ons weerstaan die duiwel deur vol te wees van Jesus – deur in Sy teenwoordigheid te leef en te aanbid!

Is daar werklik kerke en herders vandag onder die beheer val van hekse en demone? Absoluut, ja!

Ek weet van een groot Pinksterker wat heeltemal oorgegee is aan Satan. Die herder het ‘n wellustige, bose gees gehad. Hy het een daad van owerspel na ‘n ander gepleeg, en gou het sy vrou betrokke geraak. Die herder en sy vrou het uiteindelik iets in die gemeente ingelei wat “konneksies” genoem is. Hulle het ‘n hele leerstelling daaromtrent ontwikkel.

Eers het hulle baldanse in die heiligdom ingebring. Die herder het vir die mense gesê om in hulle maat se oë te kyk totdat die Heilige Gees ‘n “konneksie” maak. Herders, leiers en diakens het betrokke geraak. Hulle het begin om vrouens te ruil en egbreek te pleeg.

Kort voor lank het alles in chaos uitgebreek. Egskeiding het geheers. Gemeentelede het begin om senuwee-ineenstortings te hê. Die herder se seun het selfmoord gepleeg. Sy dogter het geskei en weggeloop met ‘n ander man. Meer selfmoorde het uitgebreek. Een jong moeder was so terneergedruk dat haar man haar verlaat het, dat sy haar baba in die bad verdrink het, sodat die baba se siel veilig saam met Jesus kon wees!

Daardie kerk is heeltemal vernietig –vandag is dit verstrengel in talle hofsake – alles weens die onbeheerste begeerte van ‘n afvallige herder! Daardie een man, vol van Satan, het sy hele gemeente oopgemaak vir demoniese magte!

Geliefde, wees versigtig na watter kerk toe jy gaan! Sorg dat jy onderskeiding het, omdat ‘n herder wat homself oopgemaak het vir Satan, jou hart kan oopmaak vir demoniese magte.

Hierdie boodskap het te doen met ‘n soort waarsêery wat selfs gevaarliker is as dit. Dit is baie meer subtiel.

Dit word in die kerk ingebring nie deur bose herders of hekse nie – maar deur menigte Christene wat nie weet dat hulle onder die betowering van waarsêery is nie!

Die soort waarsêery wat ek wil ontbloot, is teenwoordig hier in Times Square Kerk – en in elke kerk in Amerika! Trouens, dit is in elke kerk in die wêreld, tot ‘n mate. Dit mag dalk net ‘n saadjie wees – maar dit is steeds daar.

Jy vra, “Hoe kan die duiwel moontlik God se uitverkorenes mislei? Met okultiese verleidings?” Nee! Dit is te voor die hand liggend. Ons kan maklik die planne van Satan op daardie gebied onderskei. Nee, hy kom na ons op ‘n ander manier. Sy aanval is so subtiel, dat min Christene dit ooit herken.

Wederstrewigheid is ‘n sonde van waarseêry (1 Samuel 15:23).

Toe die Here vir my die soort waarsêery wys wat teenwoordig is in die kerk vandag, het dit my siel laat sidder. Dit is geopenbaar in 1 Samuel 15:22-23: “Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.”

Die Bybel beskryf hier ‘n waarsêery baie meer gevaarlik as die okkult. Dit beheer meer herders en gemeentes as enige ander soort demoniese invloed. Dit is rebellie teen die Woord van God!

Moenie vinnig wees om terug te sit en te ontspan en te dink, “Dank God, dit kan onmoontlik mý bedoel. Ek is nie wederstrewig teen God se Woord nie. Ek het die Woord lief. Ek leef in gehoorsaamheid!”

Dit is wat ek ook gedink het. Maar toe het God my oortuig van die gevare van om te val onder die betowering van hierdie waarsêery! Hy het vir my die saad van die begin daarvan gewys – presies wat uitgebars het in die Tuin van Eden! Ons almal het die saad van hierdie sonde. Trouens, jy mag onwetend onder die invloed van hierdie bose towerspreuk wees.

Jesus het vir ons ‘n gelykenis gegee wat hierdie waarsêery openbaar! Ek het die gelykenis van die bose landbouers vele kere gelees. Ek het daaroor gebid. Maar nie totdat ek nou die waarsêery, wat Jesus ontbloot het, daarin gesien het nie.

“Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die lanbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.

“Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam: kom laat ons doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle antwoord Hom: Die slegte mense – hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee” (Matthéüs 21:33-41).

Hierdie gelykenis is meer as ‘n herhaling van hoe die Jode God se oproep uit die hemel verwerp het – en hoe hulle eenkant toe gewerp sou word en die Heidene die landbouers gemaak sou word. Dit handel ook oor ‘n groot bonatuurlike stryd oor ‘n erfdeel. Dit is oor ‘n stryd tussen die mag van Jesus Christus en die mag van Satan vir die siele en lojaliteit van die mensdom! Dit gaan oor wie uitgaan om te heers in die harte van God se uitverkorenes! En, geliefde, jy is óf onder die mag van Jesus Christus, óf onder die invloed van Satan!

Jy sien, hierdie gelykenis gaan oor hoe ‘n volk van God betower kan word deur die duiwel en op die ou end heeltemal oorgeneem kan word deur ‘n anti-Chris-gees. Christus het hier gepraat van die magtigste vorm van waarsêery – wederstrewigheid teen die waarheid!

Hier is die Sleutel tot hierdie gelykenis: “Dit is die erfgenaam; kom ons laat hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem” (Matthéüs 21:38). Dit is die duiwel wat praat! “Laat ons wederstrewigheid teen die Seun skep! Laat ons Hom kruisig! Ons sal beheer oorneem!”

Dit is waar dat toe die Fariseërs hierdie gelykenis gehoor het, “het hulle begryp dat Hy van hulle spreek” (Matthéü 21:45). Maar Jesus praat ook van Sy kerk! In Hebreërs 6:5, vind ons mense wat “die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld...” Hulle was wederstrewig teen daardie goeie Woord wat hulle gehoor het, en die gevolg was, dat hulle “ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Hebreërs 6:6).

Wie kruisig Christus oor en oor, maak Hom openlik tot skande voor die hele wêreld? Is dit hekse? Sataniste? Homoseksuele? Moordenaars? Nee!

Dit is hulle wat gehoor, gesmaak en die ware Woord van God deelagtig geword het – en toe toegelaat het dat ‘n gees van wederstrewigheid wortelskiet! Satan het inbeweeg, en hulle het op die ou end besete geraak – en Christus gekruisig!

Gelowige, ek sê vir jou op die gesag van God se Woord, dat solank as wat jy hierdie gees van wederstrewigheid binne-in jou het, is dit onmoontlik vir God om jou op te wek of te vernuwe! “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het....en afvallig geword het – om dié weer tot bekering te vernuwe” (Hebreërs 6:4,6).

Ek glo dit beteken dat bekering geen effek hoegenaamd het in diegene wat wederstrewig is teen God se Woord!

Laat ons hierdie vorm van waarsêery van naderby beskou in die kerk.

Die waarsêery van wederstrewigheid begin met ‘n worteltjie van bitterheid!

Ek wil met jou praat oor om vergif te wees met die “gal van bitterheid.” Petrus het hierdie frase gebruik toe hy Simon bestraf het, ‘n nuwe bekeerling, wat geld aangebied het in ruil vir die krag van die Heilige Gees om hande op te lê op mense vir doping en wonderwerke.

“En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Helige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.

“Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie. Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is” (Handelinge 8:18-23).

“Gal” beteken hier afguns – ‘n gevaarlike gif. En Simon was daarmee besmet! Ek glo hy het ook ‘n hart gehad om mense te help, wat bygedra het om sy toestand weg te steek. Vers 13 sê hy het geglo, was gedoop en het “gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.”

Iets dodeliks het daaronder geskuil! Die hele tyd het Simon vir homself gesê, “Ek kan dit ook doen! Ek is talentvol. Ek het meegevoel met mense. Gee my ‘n kans!”

Simon het ‘n gevaarlike mengsel in sy hart gehad. Dit was ‘n begeerte om deur God gebruik te word – gemeng met ‘n begeerte om eerste te wees! Hy wou werklik hê dat God hom gebruik, maar hy het ook erkenning nodig gehad. Hy wou mag en posisie hê, sonder om die regte prys te betaal! Hy wou ‘n kortpad hê.

So is dit in die werk van God vandag. Talle probeer kortpaaie vat om by ‘n plek van mag en bruikbaarheid uit te kom. Ons bied ons talente en vermoëns aan die Here – maar as jy die talent het en nie ‘n dienaarshart nie, kan God jou nie gebruik nie!

In sy derde sendbrief, vertel Johannes van ‘n man genaamd Diótrefes, wat “eerste wil wees” (3 Johannes 9). Toe dinge nie op sy manier gebeur het nie, het hy begin om met slegte woorde teen die broeders “uit te vaar.”   

‘n “Uitvaarder” is een wat klets oor nietighede. Diótrefes het aanstoot geneem aan Johannes se boodskap en hy het begin skinder. Sy ydelheid was getref, sy trots gewond. Daarom het hy rondgegaan en ‘n storie vertel dat hy seergemaak is deur ander dienaars van God. Hy het die vrede van die broeders ontwrig en baie na sy kant toe oorgehaal.

Dit was nie groot sonde nie; dit was nie ‘n leerstellige fout nie. Dit was die sonde van ongeduld! Hy kon nie wag vir God om die werk te doen nie. Hy wou eerste wees – en hy het waarskynlik reg geklink!

‘n Seergemaakte gees is vrugbare grond vir ‘n wortel van bitterheid!

“Maar ‘n verslae gees – wie kan dit opbeur?” (Spreuke 18:14). Hoe kon die Israeliete van Jesaja se tyd so afvallig word, so neerslagtig in so ‘n kort tyd? Jesaja verduidelik: “Van die voetsool af tot die hof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie” (Jesaja 1:6).

Die profeet het voortgegaan om die kinders van God wat oop wonde, sere en kwesplekke gehad het, te waarsku. Hy het gesê, solank as wat hulle aanhou bloei, met bloed op hulle hande, kon God hulle nie hoor in so ‘n toestand nie: “En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed” (Jesaja 1:15).

Van wie se bloed praat die Here? Jou eie! Jy bloei vanaf ‘n oop wond in jou hart! Daar spuit bloed uit! Jy het genesing nodig! Jy het nodig dat jou wond versag met die olie van die Heilige Gees!

Talle van julle hardloop egter nie na die Meester vir genesing nie. Jy besef nie dat Satan probeer om jou in die waarsêery van wederstrewigheid in te kry nie. Jy sien, God luister nie na ‘n stem wat uitroep, maar nie Sy verlossing wil aanvaar nie!

Laat my vir jou wys hoe gevaarlik wederstrewigheid is, en waarom God dit waarsêery noem. Die landbouers van die gelykenis was God se kinders. Hulle was betrokke by godsdienstige werk. Hoe kon ‘n opregte Fariseër – wat tiendes op elke mintblaartjie in sy tuin betaal het, sy kinders liefgehad het, deur die hele wêreld gereis het net om een enkele bekeerling te maak, getrou op Sabbatte die wet bestudeer het – verander het in so ‘n wrede persoon? Hoe kon die landbouers selfs doodmaak en steel en kruisig?

Hulle was woedend! Hulle het moord in hulle harte gehad. Dit is nie van die vlees nie – dit was demonies! Hulle het die boodskappers van die Wet gestenig! Hulle het geweet wat van hulle vereis was – maar toe hulle eers teen die Woord van God wederstrewig was, het bitterheid wortelgeskiet in hulle harte.

Geliefde, bitterheid verblind! Jy verloor jou geestelike visie in verhouding met die groei van jou bitterheid. Hoe bitterder jy word, hoe groter word jou blindheid. Koester ‘n wortel van bitterheid – laat die wonde in gangreen verander – laat die seer sy gis deur jou hele siel versprei – en jy sal op die ou end word soos hierdie gewelddadige Fariseërs, so blind dat hulle die Seun van God gekruisig het!

As jy voortgaan in die gal van bitterheid, sal jy op die ou end beland saam met ander bitter siele en sleg praat; God se heilige dienaars met klippe gooi, die rol speel van ‘n arme, misverstane martelaar. Jy sal opeindig by galbyeenkomste, waar ander jou wederstrewigheid deel.

As jy voortgaan in die gal van bitterheid, sal jy jou hart en siel oopmaak vir duiwelbesetenheid! Jy sal op die ou end ‘n spreekbuis vir die duiwel wees. Jou tong sal ‘n spies word wat die sy van Christus deursteek. Jy sal Hom in die openbaar in die skande steek voor almal wat jy ken. En jy sal die stemme van alle predikers en profete uitdoof!

Die werk van God sal voortgaan, met ander landbouers wat gewillig gehoorsaam. God sal vir jou sê wat Petrus vir Simon gesê het: “Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie” (Handelinge 8:21).

Het iemand in die huis van God jou seergemaak? Het jy ‘n wortel van bitterheid? Ek smeek jou: Hardloop na die Geneesheer van alle wonde en vra Hom om dit by die wortels uit te ruk!

“Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Efésiërs 4:31). Stop dit – nou!

Die waarsêery van wederstrewigheid het ‘n gebrek aan eerbied vir Jesus tot gevolg!

“Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien” (Matthéüs 21:37).

Die onmiddellike toepassing van hierdie gelykenis was op die Fariseërs en godsdienstige leiers wat Jesus aangespreek het. Hulle het hulle ore toegesluit vir die profete en wagte wat God so dikwels aan hulle gestuur het. “Daarom, kyk, Ek stuur profete...na julle toe en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg” (Matthéüs 23:34).

Jesus het hierdie gelykenis vertel om die plan van Satan te openbaar. Hy het probeer bewys dat ‘n sataniese komplot agter hulle gebrek aan eerbied vir Hom was – en hulle uitsluiting van Sy waarheid!

Christus het vir hulle gesê hulle wederstrewigheid het hulle verander in kinders van Satan: “Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen...Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie” (Johannes 8:43-45).

Die boodskap was as volg: “Julle het bitter geword, wederstrewig! Julle het julle siel vir die duiwel oopgemaak. Hy het julle met wonde, seerplekke en swere gevul – en nou is julle vol dood. Geweld is in julle hart. Julle kan nie ‘n woord hoor wat ek sê nie.

“Geen profeet kan julle nou bereik nie, geen wag nie! Ek self kan julle nie eens aanraak nie. Julle gee my erfdeel vir Satan! Julle was veronderstel om my volk te wees, maar julle wou nie. Julle het julleself aan die vyand verkoop. Julle verag my gesag!”

Hierdie landbouers het Hom nie eerbiedig nie. Hulle het gerebelleer en Hom doodgemaak. Maar Satan het nie die erfdeel ontvang nie – ‘n opgestane Christus het dit aan ander gegee.

As jy kyk na daardie Fariseërs, moet jy wonder: Waarom het hulle soveel minagting vir Hom gehad? Waarom geen eerbied nie? Waarom kon hulle nie sy woorde hoor of verstaan nie? Waarom soveel blindheid?

Talle in God se huis ly ‘n selfs groter blindheid vandag. Die Heilige Gees kom na ons toe, gewillig om vir ons die betekenis te wys van alles wat Jesus vir ons gesê het. Hy oortuig ons van ons sonde. Ons is uit die duisternis uitgebring en oorgebring na Sy lig. So waarom dan, beland so baie in die kerk steeds onder hierdie betowering van waarsêery – steeds aan die slegsê, bitter en seergemaak – steeds aan die vashou aan die hierdie gees van wederstrewigheid?

Sommige het reeds te ver gegaan, soos hierdie Fariseërs. “Hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe” (Matthéüs 21:41). Ander val dieper en dieper in die duiwel se strik, en slegs ‘n donderslag uit die hemel kan hulle wakker maak vir die gevaar!

Jy kan eenvoudig nie voortgaan met wortels van bitterheid nie. Jy kan nie voortgaan met afguns en jaloesie nie. Jy kan nie seergemaak en gewond voortgaan en ander blameer nie. Jy kan nie voortgaan om die duidelike hand van God te veronagsaam nie – TENSY JY JOU EERBIED VIR JESUS VERLOOR HET!

Jesus staan nou by jou hart se deur. Hy sê, “Die Vader het My gestuur. Wys vir my jou vrug – jou gehoorsaamheid! Jy was geplant in goeie grond; jy het tyd gehad om te groei. Watter soort oes het jy vir My?”

Eerbied vir Jesus is nie ‘n gevoel nie; dit is nie woorde nie. Respek en eerbied beteken om te doen wat Hy sê! Dit beteken om Sy Woord te gehoorsaam en al die hartseer eenkant toe te skuif en jouself heeltemal in Sy hande te plaas.

As jy hierdie boodskap neersit terwyl jy steeds vasklou aan jou wonde, jou wrokke vertroetel, jou bitterheid regverdig – minag jy nie net Christus nie, maar jy maak Hom weer openlik tot skande en kruisig Hom.

Daar is hoop vir die wederstrewige!

Geliefde, ek sou nie hierdie boodskap kon lewer as God nie vir my ‘n woord van bemoediging gegee het vir diegene wat daarna smag om verlos te word van hulle wederstrewigheid nie. Dit word gevind in Psalm 107:9-14.

“Want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul. Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters – omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hullle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.

“Toe het hulle die HERE aangeroep in hul behoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.”

Is jy “verneder” deur jou wederstrewigheid, jou bitterheid? Roep uit na die Here van die leërskare vir goddelike verlossing! Laat Hom die demoniese bande rondom jou hart breek – en jou uit die skaduwee van die dood uitbring en in Sy wonderbare lig in!