Waarom die Wêreld Christene Haat

David Wilkerson

Jesus het sy dissipels vertel, “Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra.” En toe het Hy vinnig die volgende plegtige woord bygevoeg: “En dat julle vrug kan bly” (Johannes 15:16).

Christus se woorde hier is van toepassing op al sy dissipels in elke eeu. Hy vertel vir ons in wese, “Maak seker dat jou vrug die oordeelsdag sal deurstaan.”

Die woord “vrug” beteken om die werk en bediening van Christus hier op aarde te doen. As ‘n gelowige, is ek uitverkies en aangestel om in die hele wêreld in te gaan en die evangelie van Christus te verkondig. Verder, as ‘n bedienaar van daardie evangelie, is ek geroep om ware dissipels te maak en op te lei.

Daar is egter iets soos ‘n valse bekering. Jesus het die Fariseërs gewaarsku: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self” (Matthéüs 23:15).

Dit is harde woorde, maar dit kom van die Here self. En Jesus het daardie woorde gerig aan ywerige, Jode wat oral proseliete gemaak het. Hulle was Bybelskoliere, mans wat die Skrif geken het.

Jy mag wonder, “Hoe kon wat Jesus hier gesê het, moontlik wees? Hoe kon diegene wat werk om ander te bekeer, veroorsaak dat die verlorenes in ‘n erger toestand gelaat word as tevore?”

Jesus antwoord daarop. Toe Hy geroep het, “Skynheiligheid!” het Hy aan die Fariseërs verklaar, “Julle vrug is goddeloos.” En Hy het hulle gewaarsku, “Julle [sal] ‘n swaarder oordeel ontvang” (Matthéüs 23:14).

Die Fariseërs wat deur Jesus aangespreek was, was meer behep met getalle as om ‘n ware werk van bekering in mense se harte te sien plaasvind. Jesus het in wese aan hulle gesê:

“Julle sluit die hemel vir julle sogenaamde ‘bekeerlinge.’ En dit gebeur omdat julle nie ‘n woord van God in julle eie lewens het nie. Julle gaan tot soveel uiterstes om te beplan om bekeerlinge te maak. In der waarheid, sluit julle egter die hemel toe vir die mense wat julle bereik.”

Dit is tragies om te sien dat dieselfde gees te veel mense in die kerk dryf vandag. Ek wonder of Jesus iets soortgelyks aan baie van die herders in beheer van God se huis sal sê:

“Julle gaan rond oor see en land vir nuwe konsepte, idee’s en programme. En dit is alles om mense in julle kerke te kry. Julle is behep met die skynheiligheid van getalle. Julle meet sukses aan hoeveel liggame julle sitplekke volmaak.”

Ek kan jou vertel dat nie almal in ons kerk, wat homself ‘n Christen noem, werklik ‘n bekeerde, geredde gelowige is nie. Terselftertyd, kan ek jou verseker dat as sulke mense hier inkom en op die ou end ‘n twee maal kind van die hel word, sal dit nie wees oor dit wat hulle van die kansel af gehoor het nie. Dit sal nie weens ‘n onvolmaakte evangelie boodskap wees nie. Nee, dit sal wees omdat hulle die oortuigende, Heilige Gees waarheid verwerp het.

Ek vra jou: waar is die herders wat nie hulle boodskap versag vir die hoë’s en magtiges nie? Waar is die predikers wat so oorgegee is aan Christus dat hulle dieselfde boodskap vir konings preek as die een wat hulle vir die armes en veragtes preek?

Ek sidder om te dink dat dit vir my moontlik is, of vir enige ander prediker van die evangelie, om die hemel te sluit en te veroorsaak dat “bekeerlinge” twee maal kinders van die hel word. Tog gebeur dit vandag, net omdat sommige bedienaars die behoefte het om liefgehê en geprys te word deur ander. Hulle water die waarheid af met die doel om deur die wêreld aanvaar te word.

Jesus het dit geadresseer. Hy het sy dissipels byeengeroep en terwyl al die mense dit gehoor het, het Hy die skrifgeleerdes skerp bestraf:

“Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroeting op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye” (Lukas 20:46).

Kortliks, Hy het die mense vertel, “Pas op vir die herders wat die lof van mense liefhet. Wees versigtig vir Bybelmanne wat die liefde en applous van mense soek. Wees versigtig vir kerkleiers wat die goedkeuring van die samelewing wil hê.”

‘n Kerk wat aanvaar en goedgekeur word deur die wêreld is ‘n oksimoron, ‘n teenstrydigheid in terme. Dit is ‘n onmoontlikheid. Volgens Jesus, is enige kerk wat deur die wêreld liefgehê word, deel van die wêreld en nie van Christus nie:

“As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19).

My lewe is grootliks beïnvloed deur die geskrifte van George Bowen, ‘n Presbetriaanse sendeling wat in Indië gewerk het van 1838 tot 1879. Bowen het al sy sendingsteun gegee om in ‘n krotbuurt in te trek en te lewe soos die boorlinge daar. Hy het ‘n baie karige bestaan gevoer en byna in armoede geleef. Weens daardie keuse het hy egter ‘n getuienis van die krag van ‘n lewende Christus nagelaat.

Hierdie goddelike man het gewaarsku oor ‘n antichris gees wat sou kom. Hy het hierdie antichris gees beskryf as “die gees van die moderne samelewing.” Volgens Bowen, sou hierdie antichris gees die Protestante kerk binnedring met die ingesteldheid, metodes en morele waardes van die groter samelewing.

Die antichris gees sou voortgaan met sy invloed totdat die samelewing en die kerk nie onderskei kon word nie. Met verloop van tyd, sou die wêreld sy haat vir Chrisus se kerk en ware gelowiges laat vaar. Dit sou vervolging stopsit en die kerk sou liefgehê en aanvaar word deur die wêreld. Wanneer dit gebeur het, het Bowen geskryf, sou die antichris gees die troon oorgeneem het.

Verskeie maande gelede, toe die deur van Irak op die punt was om oop te maak vir Christen hulpverleningsorganisasies, het die New York Times ‘n neerhalende artikel gepubliseer. Dit word verwag van ‘n liberale, sekulêre pers. Hulle mag die verspreiding van voedsel in Irak loof, maar sekerlik nie die verkondiging van Christus nie.

Die artikel het egter ‘n evangeliese skolier, wat krities was oor die hele poging, aangehaal. Hy het dit heeltemal veroordeel en gesê die kerk moet ander se privaatheid en sake respekteer. Hierdie Bybelman was eintlik verleë dat die kerk sou evangeliseer. Dit is ‘n totale wêreldse ingesteldheid!

Ons gaan vyande oral vind — mense wat ons teëstaan in ons werk, ons woonbuurte, selfs in sommige kerke — omdat ons Christus se sending vervul.

Weer waarsku Jesus, “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vader het net so aan die valse profete gedoen” (Lukas 6:26). Laat my jou vra: prys die wêreld jou? Is jy die plaaslike held? Kry jy groot lof by sekulêre geleenthede? Is jy polities korrek in jou interaksies? Is burgemeesters, hoogwaardigheidsbekleërs gemaklik in jou teenwoordigheid? Hoor dan Jesus se woorde aan jou: “Daar is iets vals oor jou getuienis.”

Jesus maak Homself baie duidelik: as enige kerk in die krag van die Heilige Gees wandel en sy sending vervul soos wat Hy opdrag gegee het, sal daardie kerk gehaat en vervolg word deur die wêreld. Soos Paulus, sal die herder beskou word as die afskraapsel van die aarde. En die kerk sal gehaat word deur die goddelose politici en goddelose leiers van die samelewing. Dit sal ook verag word deur homoseksuele, pornograwe, en die meeste van alles deur die teruggevalle godsdienstige leiers wat geestelik dood is.

Ja, Jesus het daardie kerk vertel:

“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug jull omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Matthéüs 5:10–12).

‘n Ware Christen is liefdevol, vredevol, vergewensgesind en gee om. Diegene wat Jesus se woorde gehoorsaam is self-opofferend, nederig en vriendelik.

Algemene wysheid vertel vir ons dat dit nie natuurlik is om diegene te haat wat vir jou lief is, jou seën en vir jou bid nie. Die norm is eerder, mense haat net diegene wat hulle mishandel, beroof en vloek. So, waarom word Christene so gehaat?

Jesus sê eenvoudig, “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat dit My voor julle gehaat het...As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:18, 20). Waarom is dit so?

Die kerk en elke bedienaar en gelowige daarin, word gehaat weens sy sending. Jy sien, ons sending is meer as net om verlore mense te vertel, “Jesus het jou lief.” Dit is meer as om te probeer om mense te akkommodeer en te behaag.

Jy mag terugdeins van verbasing as ek jou daaraan herinner wat jou sending is. Eenvoudig gestel, ons sending as Christene is om terug te neem van die goddelose wat die kosbaarste vir hulle is: eie-geregtigheid. Dit is om hulle in vryheid, wat vir hulle soos slawerny lyk, in te bring. Dit is om hulle van veroordelende sondes te skei, ‘n seëning wat vir hulle lyk asof dit in verveling en hartseer sal eindig.

Die mees waardevolle ding vir ‘n wêreldse persoon is sy eie-geregtigheid. Dink daaraan: hy spandeer sy hele lewe lank om ‘n goeie opinie van homself te vorm. Hy het ‘n afgod gemaak van sy goeie werke. Hy prys homself dat hy regtig ‘n goeie hart het en vriendelik is met ander. Eenvoudig gestel, hy het sy eie Toring van Babel gebou, ‘n monument van sy eie goedheid. Hy is seker dat hy goed genoeg vir die hemel is en te goed is vir die hel.

Hierdie goddelose mens het jare gespandeer om sy gewete af te takel en dit te brandmerk. Hy het homself geleer om elke stem van sondebesef wat na hom toe kom, stil te maak. En nou geniet jy ‘n valse vrede. Hy het so mislei geword dat hy werklik glo dat God hom bewonder!

En sodra hy die stem van sy gewete stilgemaak het, kom jy, ‘n Christen verby. En die waarheid wat jy bring, spreek baie harder as sy dooie gewete: “As jy nie weergebore word nie, kan jy nie die koninkryk van die hemel binnegaan nie.”

Skielik word jy vir hierdie mens ‘n bedreiging in sy gedagtes. Jy is iemand wat hom wil beroof van sy versekering dat alles wel is met sy siel. Al die tyd het hy gedink hy is oukei. Maar nou vertel jy vir hom dat al sy goeie werke soos ‘n besoedelde kleed is.

Ek sê vir jou, hierdie mens sien jou nie as iemand wat die goeie nuus bring nie. Nee, in sy oë is jy ‘n teisteraar, iemand wat daarop uit is om sy rustige slaap in die nag te versteur.

Sulke mense dink hulle is in God se goeie boekies net omdat kerk toe gaan. Hulle het hulle eie konsep geskep van wie Christus us. Hulle christus is iemand net soos hulleself. En daardie christus is nie gevorm deur God se Woord nie, maar deur hulle eie blindheid.

Nou kom jy daar aan en vertel vir hulle dat sonder bekering en ‘n ware lewensverandering, is hulle wederstrewig. Jy vertel hulle hul selfgemaakte integriteit is ‘n gruwel vir God . En, eerder as om in God se guns te wees, sal hulle onder sy toorn wees as hulle voortgaan in hulle sonde.

Jy het gekom om die bloed van Christus te verkondig, ‘n nuwe geboorte, afskeiding van die wêreld en ‘n wandel van onderdanigheid en gehoorsaamheid. Jy sê egter dat al hierdie dinge vir mense wat oortuig is dat hulle niks nodig het nie. Hulle kan nie begryp hoe sulke veranderings vrede en geluk kan bring nie. Vir hulle, klink dit na ‘n droë, leë woestyn.

Sommige predikers wat hier lees, mag beswaar maak, “Dit is nie my sending hoegenaamd nie. Ek sou nooit so konfronterend wees nie.” Ander mag aanspraak maak, “Ek is geroep om die evangelie van liefde en genade te bring. Daarom preek ek ‘n nie-kontroversiële boodskap.”

Ek kan nie namens ander herders praat nie; Ek kan net praat van wat ek weet. En vir vyftig jaar nou al, preek ek vir die hardste, mees goddelose sondaars op aarde: dwelmverslaafdes, alkoholiste en prostitute. Ek vertel jou egter dat hierdie sondaars baie minder weerstand bied teen die evangelie as diegene wat in die kerkbanke sit en blind is vir hulle eie toestand.

Duisende van sogenaamde gelowiges oor Amerika is meer verhard as enigiemand anders in die strate. En geen taktvolle, sag-sprekende, halwe waarheid evangelie gaan die mure van hulle ongeregtigheid afbreek nie.

Saulus van Tarsus was net so ‘n geharde godsdienstige man. As ‘n Fariseër onder Fariseërs, ‘n opregte figuur in ‘n hoogs godsdienstige samelewing, was Saulus verstandig. So, het Jesus na hierdie man gekom en ‘n opname gemaak en gevra wat hy graag in die sinagoge-diens sou wou sien?

Nee! Saulus was op die grond neergeslaan deur ‘n verblindende lig, ‘n harde rukwind van die teenwoordigheid van Christus. Dit was ‘n deurdringende, konfronterende ontmoeting wat Paulus se hart ontbloot het en sy sonde uitgewys het.

As ‘n bedienaar van die evangelie van Christus, moet ek dieselfde doen. Dit is my werk om mans en vrouens van hulle sonde te oortuig. Ek moet hulle waarsku teen die gevare wat vir hulle wag as hulle voortgaan in hulle weë. En geen hoeveelheid vleiery, subtiliteit, of pogings om hulle sover te kry om van my te hou, sal hulle toestand verander nie.

In eenvoudige terme, ek is geroep om mense te lei om alles te versaak om Christus, wat hulle onaantreklik vind, te volg. Slegs die Heilige Gees in my, kan dit bewerkstellig.

Moenie verkeerd verstaan wat ek hier sê nie. Ek verkondig die barmhartigheid, genade en liefde van Christus vir alle mense. En ek doen dit met trane. Maar die enigste ding wat die mure, wat deur verharde mense opgerig is, sal deurdring, is ‘n rukwind van die teenwoordigheid van Jesus. En dit moet kom uit die monde van verslae, biddende herders en gemeentelede.

Hierdie vers tref die hart van waarom ons gehaat word. Wanneer ons gered word, kom ons “uit die wêreld.” En ons aanvaar ons sending om by ander aan te dring dat hulle “uit die wêreld” moet uitkom.

“Omdat julle nie van die wêreld is nie...daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). Christus sê, in wese, “Die wêreld haat julle omdat ek jou uit jou toestand geroep het. En dit beteken dat ek jou uit hulle gemeenskap geroep het. Ek het jou egter nie net uitgeroep nie. Ek het jou daarna ook gestuur om al die ander uit te roep.”

Die Protestantse antichris gees werk om hierdie afskeiding van die wêreld te verhoed. Dit maak dit moontlik lyk vir gelowiges om in die wêreld te bly en steeds as Christene bekend te staan.

Jy mag vra, “Wat presies bedoel Jesus wanneer Hy van “die wêreld” praat?”

Hy praat nie net van goddelose wellus, plesiermalheid, pornografie of owerspel nie. Nee, “die wêreld” waarna Christus verwys is nie ‘n lys van goddelose praktyke nie. Dit is net deel daarvan. Baie Moslems het “uit” al hierdie dinge gekom deur blote wilskrag en uit vrees vir verwoesting.

“Die wêreld” waarvan Jesus praat is ‘n onwilligheid om aan sy Heerskappy onderdanig te wees. Kortliks, wêreldsheid is enige poging om Christus te meng met eie-wil.

Jy sien, wanneer ons ons aan die Heerskappy van Christus onderwerp, dan bly ons in Jesus. En ons word stap vir stap deur die Heilige Gees gelei na ‘n wandel van reinheid en opregtheid. Ons begin goddelike teregwysing waardeer.

Ek besef hierdie waarheid elke keer wanneer ek opstaan om te preek. Terwyl ek van die kansel na die gemeente kyk, sien ek versprei tussen getroue gelowiges, nie-gelowiges, wat vir die eerste keer die diens bywoon. Sommige is suksesvolle besigheidsmense, selfgemaak en met dryfkrag. Ander kom uit alle klasse van die samelewing. Almal is egter swaar belaai met boesemsondes. Hierdie mense lewe net soos hulle wil, onder geen geestelike gesag nie. Maar hulle is leeg en ontnugter. Hulle het moeg daarvoor geword om plesiere wat nooit vervul nie, na te streef.

Ek kon vir hulle allerhande soorte preke preek oor beginsels, reëls van gedrag, hoe om spanning te hanteer, of hoe om met vrees en skuldgevoelens af te reken. Maar nie een van hierdie soort preke kry enigeen “uit die wêreld” nie. Dit sal niemand se hart verander nie.

Ek moet eenvoudig vir die nie-gelowige vertel dat sy eiewil, selfstandigheid en hardnekkigheid en sy strewe om alles op sy manier te doen, hom sal vernietig. En op die ou end, sal dit hom ewigdurige foltering laat beland.

As ek nie vir hom hierdie boodskap bring nie, dan het ek vir altyd die hemel vir hom toegesluit. En ek het hom ‘n twee maal lid van die hel gemaak. Sy toestand sal erger wees as voor hy deur ons deure gestap het.

Ek moet daardie mens van aangesig tot aangesig konfronteer met die boodskap dat hy gekruisig moet wees ten opsigte van sy eie onafhanklikheid. Ek moet vir hom wys dat hy uit sy misleide wêreld van eie goedheid moet uitkom. Ek moet vir hom vertel dat daar geen ander weg na vrede is in hierdie wêreld nie, behalwe deur volle oorgawe aan Koning Jesus.

Anders het ek hierdie mens mislei. En ek het die aaklige sonde van die ergste soort van hoogmoed gepleeg: ek het hom as ‘n “bekeerling” geag om myself te laat goed lyk. Mag dit nooit so wees nie!

As ‘n bedienaar van die evangelie van Jesus Christus is ek verplig om hierdie waarheid aan almal, wat hulle waarlik bekeer, te bring: “Van nou af sal julle gehaat en vervolg word.”

Met hierdie verskriklike woorde, het Jesus vir hulle die litmus toets van ‘n ware kerk en ‘n ware dissipel gegee. Ek wonder van hoeveel kerke en Christene sal hierdie woorde gesê word vandag: “Die wêreld kan julle nie haat nie.”

Christus sê in wese, “Julle het die wêreld in die kerk ingebring — julle het my evangelie so afgewater — dat die wêreld julle omhels. Julle het ‘n vriend vir die wêreld geword.” Jakobus gee ons hierdie waarskuwing in sy sendbrief: “Weet julle nie dat die virendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jakobus 4:4).

Natuurlik was Jesus ‘n vriend van polititci en sondaars. Maar dit staan ook geskryf dat Hy “afgeskeie van die sondaars” was (Hebreërs 7:26). Hy het sondaars bedien, maar as iemand wat onderdanig was aan sy Vader. Net soos Hy, is ons geroep om in die wêreld te wees, maar nie deel daarvan nie.

“Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het...As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Jy hoef nie vir vervolging te gaan soek nie. Dit sal nie kom as gevolg van jou werksprestasie, of jou ras, of jou voorkoms nie. Nee, dit sal kom eenvoudig omdat jy Christus jou Here gemaak het.

Mag God barmhartigheid bewys aan elke Christen wat die wêreld nie haat nie. En mag God die politikus help wat ‘n stand inneem vir Christus; die wêreld sal hom haat en demoniseer.

Laat my jou ‘n woord van bemoediging gee. Selfs as die wêreld Christus se ware dissipels haat en vervolg, vind ons toenemende liefde en goddelike geneentheid tussen die lede van sy kerk. Inderdaad, dit wat veroorsaak dat die wêreld ons haat, veroorsaak dat ons regverdige broers en susters ons meer en meer omhels.

In die dae wat kom, sal die liefde in God se huis meer kosbaar word. Ons sal gehaat word deur die hele wêreld, bespot word deur die media, belaglik gemaak word deur Hollywood, verkleineer word deur mede werkers en die voorwerp van bespotting van die samelewing gemaak word. Maar wanneer ons in God se huis binnegaan, tree ons in ‘n plek in van wonderlike liefde, waar ons mekaar net so liefhet soos Christus ons liefhet.

Dit maak nie saak watter vervolging ons beleef nie. Ons sal ontvang word met hierdie woorde: “Welkom tuis, broer, welkom tuis, suster. Hier is waar jy liefgehê word.” Ons sal weer opgebou word, sodat ons kan voortgaan net soos ons Here ons beveel het, met sy ware evangelie.