WAARHEEN GAAN JY AS JY BEKOMMERD IS?

David Wilkerson (1931-2011)

Jy mag moontlik tans ‘n goeie tydperk van voorspoed beleef – geen ernstige spanning, ontmoedigende toetse of ernstige pyn nie. Ek is dankbaar vir die Here dat Hy sulke tydperke in die lewens van sy kinders gee. Maar ons weet uit die Skrif dat storms en groot beproewings uiteindelik kom na almal wat waarlik alles vir Christus gegee het. “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20).

Baie mense wat lang beproewings deurgaan, het innerlike vrae, “Here, het ek U op een of ander manier bedroef? Is daar iets in my lewe wat U verhinder om my roepstem te hoor? Ek is getrou aan u Woord, so waarom beleef ek hierdie nimmereindigende beproewing? Die Bybel sê U sal nie toelaat dat ek meer sal ly as wat ek in staat is om te verdra nie, maar ek voel ek is op breekpunt.”

Eeue lank, het groot Christene probeer om die redes vir die lyding van goddelike mense te na te vors, maar antwoorde blyk ontwykend te wees. Boeke is vol opinies en raad, maar die mees doeltreffende benadering tot volharding is om uit te roep, “Here, ek moet put uit u Woord vir my huidige nood.”

‘n Gelowige kom by die plek waar hy ‘n keuse moet maak om of louwarm te bly in sy geloof, of die grens oor te steek om Jesus met sy hele hart te soek. Hoewel dit nie moontlik is om volkome te verstaan waarom Christene ly nie, is een ding seker: Wanneer my jou hart daarop rig om die Here te soek, vasbeslote om sy beloftes in besit te neem, word jy ‘n teiken van Satan.

Die duiwel herken iets in elke toegewyde Christen – iets wat absoluut destruktief is vir sy koninkryk. Dit gebeur wanneer ‘n kind van God besluit om die Here deur alles te vertrou, tot Hom te nader ten spyte van pyn en swaarkry. Jy word ‘n teiken van die duiwel want, hy weet die fondamente van die hel word geskud. Sy hele strategie is om jou so ver te kry om jou oë af te haal van die oorwinning van die kruis.

Moenie op jou swakhede, jou sondes en jou tekortkominge konsentreer nie, maar in plaas daarvan, fokus op Jesus en die oorwinning wat Hy belowe.