Waar Is Die Nege?

David Wilkerson

Dink aan hierdie scenario in Lukas 17: Jesus was op pad na Jerusalem omdat die tyd van Sy kruisiging naby was. Terwyl Hy tussen Samaria en Galiléa beweeg het, het Hy ‘n naamlose dorpie genader. En buite daardie dorpie, was tien melaatses omring deur vuilheid en skande.

Dit is duidelik dat nege van hierdie melaatses Jode was, en een was ‘n Samaritaan. Die Jode van daardie tyd het nie eens aan die Samaritane geraak nie, nog minder saam met hulle gewoon. Maar klaarblyklik het die gemeenskaplike nood van hierdie tien mans hulle saamgesnoer in ‘n gedeelde ellende.

As jy al ooit melaatsheid bestudeer het, kan jy jou indink in die vuil toestande waarin hulle geleef het. Wat ons elke dag in New York Stad sien, is erg genoeg. Op 41ste Straat, naby die ingang van die Lincoln Tonnel, staan saamgeflanste krotte langs die strate, vir ‘n stadsblok ver. Daar is kartonkrotte – yskas bokse bedek met lappe. Jy sien vuil, besmeerde matrasse; verrottende, verslete klere; waardelose vullis wat hoog op hierdie ellendige “tuistes” gestapel is. Dit is ‘n klein dorpie gevul met luise, kakkerlakke, rotte, dwelms, alkohol, VIGS, heersende siekte en aanhoudende bakleiery.

Maar glo my – daardie pondokke is paleise in vergelyking met die smerige toestande van die tien melaatses wat in Jesus se dag geleef het! Hierdie mense het geen ongeskiktheidstjeks nie, geen welsyn, geen voedselseëls nie, geen hospitalisasie, geen maatskaplike veiligheidsnet gehad nie. Hulle was heeltemal verwerp deur die samelewing.

Hulle was hawelose uitgeworpenes – geforseer om in ‘n afgesonderde kamp buite die dorpies te bly. Melaatses was deur die wet vereis om ten minste 100 treë (200-300 voet) weg te bly van alle ander mense. As mense verbygeloop het, moes hulle skree, “Onrein, onrein!”

Afhangende van hoe lank hulle melaats was, het sommiges vingers, tone, ore, tande, arms en neuse verloor. Hulle vlees was rou en aan die verrot en die stank en toneel was ondraaglik. Hierdie mans het gebedel, rondgekrap vir kos en geëet wat ander nie eens na sou kyk nie. Hulle het waarskynlik van die vullishope gelewe.

Wat hierdie uitgeworpenes egter nog meer moes gemartel het, was die byblywende herinneringe van geliefdes wat hulle moes agterlaat toe die priester hulle melaats verklaar het. Hulle het liefdevolle vroue en laggende, bewonderende kinders wat saam met hulle baljaar het, verloor. Hulle het huise, loopbane, respek en alle hoop op bruikbaarheid verloor. Sommige van hulle was waarskynlik getroue Jode, ingegrawe in die tradisie van die kerk. Nou was hulle egter in ‘n kamp buite hierdie naamlose dorp en het ‘n droewige, eensame bestaan van onuitspreeklike skande en hartseer gevoer.

Melaatsheid in die Bybel was altyd ‘n soort sonde!

Die Skrif verwys na die melaatse as ‘n tipe sondaar wat in skande leef – swak en uitgeteer deur sonde se verskriklike gevolge.

In baie van ons dienste by Time Square Kerk, word die eerste drie rye gevul deur voormalige “melaatses.” Dit is jongmanne van Timothy House – voormalige dwelmslawe en alkoholiste. Die melaatsheid van sonde kos talle mense alles wat hulle het: vrouens, kinders, werk, selfrespek, gesondheid en geestesgesondheid. Sommige eindig op haweloos, hulpeloos en totaal verlore.

Ek weet nie hoe hierdie tien melaatses van Jesus gehoor het nie. Miskien het ‘n swerwende melaatse daar verbygegaan en vir hulle vertel van die bonatuurlike genesings wat Jesus in ander dorpe of nedersettings verrig het. In alle geval, op een of ander manier het hulle geweet Jesus sou daar verbygaan – en hulle het angstig gewag om Hom te sien!

Probeer jou dit indink: Daar het hulle gesit, so naby aan die pad as wat hulle kan, maar steeds twee of driehonderd voet weg in die veld. Hulle het die heel nag lank uitgekamp. Wat ‘n ellendige gesig moes dit nie gewees het nie! Tien huppelende, vuil, verrottende, sterwende mans, wat mekaar regop gehou het toe Jesus verbygeloop het.

Ek het dikwels gewonder, of hulle toe hulle Jesus en die apostels met die pad sien aankom het, begin het om hulle stompie arms te waai. Het hulle na verlore ledemate gewys? Het hulle hul vuil lappe van klere gewys? Ek weet nie hoe hulle Sy aandag gekry het nie. Maar toe Jesus binne hoor afstand gekom het, het hulle hardop uigeroep, “Jesus, Meester – wees ons barmhartig!”

Hulle het nie vir geld gevra nie, of vir die hemel wanneer hulle sterf nie. Hulle het gesmeek vir barmhartigheid! Dit was asof hulle gepleit het, “Jesus – hoe kan U na so ‘n ellendige gesig kyk en steeds nie barmhartig wees nie? Hoe kan U ons wegwys?”

Ek is seker Jesus het nie vir ‘n oomblik weggeskram of weggedraai nie. Hy het hulle reguit in die oë gekyk – en met groot deernis het Hy gesê, “Gaan vertoon julle aan die priesters” (Lukas 17:14).

Kan jy jouself indink wat hierdie melaatses moes gedink het? “Gaan terug na die priester? Waarom, hy is die een wat ons ondersoek en onrein verklaar het! Hy het ons uit die dorp uitgejaag. As al tien van ons by sy deur opdaag, sal hy ons een kyk gee en ons onbeskaamheid bespot. Niemand was al ooit genees van melaatsheid nie. Hy sal dink ons is mal!”

Ek glo egter daar was ‘n onmiddellike vloei van lewe, gesondheid en krag in al tien hierdie mans! Een het ‘n arm beweeg wat hy maande lank nie kon beweeg nie. ‘n Ander het gevoel hoe lewe in hom begin klop – en hy het begin op-en-af spring! Een na die ander, het hulle na hulle hande en na mekaar se gesigte gekyk – en hulle skubberige, bleek velle was besig om te verander. Vlees wat gesond gelyk het, het aan hulle ledemate en gesigte verskyn – hulle was genees!

Onthou jy die uur toe Jesus jou barmhartig was – hoe rein en lewendig jy gevoel het? Het jy geskree omdat jy Sy reinigende krag gevoel het? Het jy nuwe lewe in jou gevoel?

Hierdie mans moes daardie lewe gevoel het! Jy kan seker wees dat een of ander sensasie deur daardie groep gegaan het, en hulle het uitroepe van blydskap geuiter! Rou, verrottende vel was besig om toe te maak. En waar sere was, was daar nou nuwe, gesonde vel!

Jesus het hierdie tien melaatses dieselfde ding beveel as al die ander melaatses wat Hy reining het, “Gaan vertoon julle aan die priester as ‘n getuienis!”

In Lukas 5:14, het Jesus ‘n ander melaatse beveel, “Gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ‘n getuienis” (Lukas 5:14).

Geen melaatse kon bloot terugkeer na sy huis of kerk of verbondsregte nie. Daar was sekere dinge wat hy eers moes doen.

Eerstens, hy moet rein verklaar word deur ‘n priester – en dit het ‘n baie breedvoerige, gedetaileerde seremonie wat agt dae lank geduur het, meegebring. Hy moes deeglik geskeer, gebad en ondersoek word. Daarna het offers, besprinkeling deur bloed en olie, salwing en offerandes gekom. En na dit alles, moes hy vir nog agt dae wag voor hy kon terugkeer na sy familie en sy regte. Die proses het altesaam sestien dae van ontsaglike godsdienstige aktiwiteit beslaan!

Hierdie hoogs godsdienstige seremonies was alles simbolies – tipes wat gebruik word om die mense te onderrig oor die heerlikheid van die Messias. Dit word alles beskryf in Levitikus 14 – en dit is wat die tien melaatse op pad was om te doen by hulle dorp.

Teen hierdie tyd, het Jesus en die apostels waarskynlik al iets te ete gehad en was reeds ver weg met die pad af verby die dorpie. Skielik het hulle egter ‘n kabaal agter hulle gehoor. Toe hulle omgedraai en teruggekyk het, het hulle ‘n man na hulle sien hardloop – al skreeuende met swaaiende arms! Een van die dissipels het gesê, “Dit is een van die tien melaatses van die dorp.” En toe hy nader gekom het, het hulle hom hoor skreeu, “Alle eer – alle eer aan Jesus! Prys U!”

Dit was die Samaritaan! Toe hy na Jesus toe gekom het, het hy uitgestrek by Sy voete neergeval – en hy het in lofprysing en danksegging uitgebars! Diep uit sy binneste het verering vir die Seun van die lewende God uitgekom: “U is God! U kon dit nie gedoen het tensy U die Seun van God was nie! Alle eer aan U!”

Jesus het afgekyk na hom en gesê, “Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege?” (Lukas 1:17). Hy het in wese gevra, “Waarom net jy? Waar is jou vriende, die ander wat Ek genees het?”

Geliefde, dit is die vraag wat Jesus steeds vandag vra! Van al die menigtes wat Hy gereinig en heel gemaak het, word slegs ‘n oorblyfsel terug na Hom getrek! So waar is al die ander? Ek sê vir jou waar – hulle is op dieselfde plek waar die nege melaatses beland het: verlore in die kerk – verswelg deur godsdiens!

Ek glo in die Bybel se statistiek. En as dit statistiek van hierdie storie in Lukas se evangelie akkuraat is, dan gaan 90 persent van diegene wat deur Jesus aangeraak word, op die die ou end terug na ‘n droeë, dooie kerk. Hulle kom nooit by Jesus uit nie – want hulle raak verlore in godsdiens!

Hierdie nege melaatses was angstig om voort te gaan met hulle lewens. Hulle het gesê, “Ek moet weer by my vrou en familie uitkom. Ek wil my selfrespek terughê. Ek wil weer na die sinagoge gaan en gaan leer oor die komende Messias!”

Jy mag sê, “Wat is verkeerd daarmee? Is dit nie so dat ‘n man beveel word om vir sy eie huishouding te sorg nie? En praat Dawid nie van mediteer oor die diep dinge van God nie? Is Christene nie veronderstel om gemotiveer te word om ywerig te werk – om presies te doen wat die nege melaatses gedoen het nie? En het Jesus nie vir hulle gesê om direk na die priester te gaan nie?”

Ja, dit is alles waar – maar dit alles word betekenisloos as jy nie eers Jesus leer ken nie!

Hierdie nege melaatses was waarlik aangeraak met die krag van Jesus – hulle het getuies geword van sy krag!

“Gaan vertoon jou aan die priester...vir hulle tot ‘n getuienis” (Lukas 5:14). Vir jare hierna sou hierdie melaatses ‘n kragtige getuienis hê. Hulle sou die res van hulle lewens praat oor hoe Jesus bloot ‘n woord gespreek het, en hulle was genees:

“Eens was ek ‘n melaatse! Ek was heeltemal alleen met geen hoop nie – vuil, smerig, verlore, ‘n sterwende man. Toe het Jesus verbygekom en my gereinig. Ek is nou vir vyf-en-twintig jaar genees – prys Sy naam!”

Dit klink alles wonderlik. Maar die probleem was, hulle het gepraat oor ‘n Man wat hulle nie geken het nie – en het getuig van die krag van ‘n Verlosser waarvan hulle niks geweet het nie! Hulle het Hom net van ver af gesien. Hulle kon sê hoe Hy gelyk het, hoe Hy gepraat het, hoe Hy geloop het– maar hulle het nooit naby Hom of by Sy hart uitgekom nie!

Een van my grootste hartsere in al my jare van bediening, is om te sien hoe vormalige verslaafdes en alkoholiste wat bonatuurlik verlos is van lewens van verskriklike sonde en misdaad, uitbrand. Baie van hulle is deur God geroep om te preek. Maar kerke en herders dwarsdeur die Verenigde State hou aan om vir hulle vra om te kom en hulle skouspelagtige getuienisse te gee. Hulle word omgepraat en aangemoedig om die bloedige besonderhede van hulle verlede te gee.

Nou, jare later, vertel dieselfde voormalige verslaafdes dieselfde storie: “Vyftien jaar gelede was ek ‘n pimp. Ek het by prostitute gebly en twintig keer tronk toe gegaan. Eendag het iemand my van Jesus vertel – en ek was gereinig, gered en heel gemaak!”

Geliefde, honderde sulke kosbare bekeerlinge is nou uitgebrand, afvallig en het skipbreuk gely! Hulle het niks van die karakter van Christus nie, geen verhouding met God nie, omdat  hulle leef op ‘n voormalige, een-keer belewenis. Hulle het nooit teruggekeer na Jesus toe nie – hulle het Hom nooit leer ken nie!

Baie mense vra waarom Times Square Kerk nie bekeerlinge van ons liefdadigheidsuitreike kry om elke week te kom en te getuig nie. Hierdie mans en vroue het inderdaad van die mees ongelooflike getuienisse wat jy al ooit gehoor het.

Maar ons wil meer vir hulle hê as op die ou end te sit met ‘n ou, deurtrapte getuienis! Ons wil hê hulle moet verder gaan met Jesus – om in staat te wees om te kan vertel van ‘n vars, daaglikse wandel met Hom, oor dit wat Hy vir hulle gedoen het vandag!

Ons wil hê hulle moet meer van Christus hê!

Hoe jammer is dit om so baie bekeerlinge te sien – so baie verloste mense – wat hulle vestig en verlore raak in die bohaai van hedendaadse Christendom!

Sommige mense wil eenvoudig nie verder gaan met Jesus nie. Hulle verkies dooie godsdiens! Hulle geniet die vertoon en vormgodsdiens van die “hoë kerk” seremonie.

O, hoe godsdienstig moes daardie nege melaatses nie gevoel het toe hulle deur die lang ritueel van reiniging gegaan het nie! En watter ongelooflike seremonie was dit:

Eerstens het die priester twee voëls geneem. Hy het een oor ‘n bak van “lewende” (of lopende) water doodgemaak en toegelaat dat die bloed in die water drup. Dan het hy hissop aan ‘n seder spaan (ongeveer 16 duim lank) gebind en die lewende voël met ‘n rooi lint van wol daaraan vasgemaak. Hierdie voël se vlerke en stert is in die bloed en water gedrup.

Die bloed was sewe keer op die gereinigde melaatse se vookop en gewrigte gesprinkel. Toe was die lewende voël vrygelaat om te vlieg oor ‘n oop veld. Daarna, het die melaatse sy klere gewas, sy hare afgesny, noukeurig gebad en in die dorp ingekom om afgesonder te word vir sewe dae.

Op die agste dag, het hy teruggekom na die priester toe en twee manlike lammers en een ooi sonder smet gebring. Hy het ook 2.8 gallon meel en ‘n pint olie gebring. Dit was ‘n skuldoffer, ‘n sondoffer en ‘n brandoffer.

Die priester het die olie geneem en dit in sy eie palm gegooi, dit dan sewe keer op die grond gesprinkel. Daarna het hy die bloed van die lam geneem, die melaatse aan sy regter oor, regter duim en regter groottoon geraak. Die priester het hom dan gesalf met olie op dieselfde plekke en die oorblywende olie oor sy kop gegooi.

Hoe baie seremonieel was dit alles – hoe godsdienstig moet melaatses gevoel het! En inderdaad, hierdie rituele het vir party baie betekenisvolle dinge gestaan – salwings en reinigings met die bloed. Maar dit was alles dood!

Hierdie melaatses het gegaan van deur Jesus aangeraak te wees, terug na dooie, droë ritualisme en vormgodsdiens. Ja, hulle het hulle selfrespek teruggekry. Hulle het weer die kerklewe betree. Hulle het materiële seëninge weer teruggekry. Maar hulle het Jesus nooit leer ken nie!

Jy mag vra, “Waarom sou Jesus hulle terugstuur na sulke ritualisme?” Ek glo Christus het daardie melaatses na die priester gestuur met die hoop hulle sou honger word om die werklikheid agter al die rituele te leer ken:

“Die lewende water – het Hy nie eenkeer gesê Hy self was die Lewende Water nie? En die besprinkeling van bloed – het Hy nie gesê Sy bloed sou gestort word nie, dat Hy gekruisig sou word nie? Die lam geslag – wat beteken dit?”

Jy sien, daar was nie ‘n priester in Israel wat vir daardie nege melaatses kon sê wat daardie seremonies beteken het nie. Hulle het dit alles uit gewoonte verrig! Nee – Jesus wou hê daardie melaatses moes hulle na Hom wend om geleer te word! Toe hulle na Hom uitgeroep het langs die pad, “Meester, wees ons barmhartig!” het hulle ‘n woord gebruik wat “Bevelvoerder, Meester!” beteken. Hulle het geweet Hy het al die waarheid gehad – maar hulle was nie honger daarvoor nie.

Daardie nege melaatses verteenwoordig die duisende arme siele wat vandag in die kerk sit en luister na bedienaars wat nie eens weet waarvan hulle praat nie. Dit is alles droog, vervelig – dood! Ek weet egter dit het een goeie gevolg: Mense word siek en sat! Baie mense sê, “Dit is nie waarvoor Jesus my gered het nie – om hier te sit en op te droog onder ‘n man wat uit gewoonte dinge doen nie. Gee vir my werklikheid! Gee vir my Christus!

Ek wil jou vertel van die oorblyfsel mens – die een in tien wat omdraai en terughardloop na Jesus!

Waarom is dit dat in elke geslag daar ‘n oorblyfsel is wat agter Jesus aanhardloop met ‘n passie en danksegging? Waarom het God altyd een in tien wat alles verlaat en terugkom net om Christus te aanbid en te prys – terwyl die ander negentig persent voortgaan uit gewoonte?

Ek glo die Samaritaan het teruggehardloop na Jesus toe omdat hy nie gebind was aan vormgodsdiens en rituele nie. Hy hoef dit nie alles te “af te geleer” het nie! Jy sien, die nege ander was ortodoks opgevoed, hulle gedagtes was van kindsbeen af geoefen in rituele en seremonies. Maar toe die Samaritaan die hele godsdienstige stelsel gesien het, het hy uitgeroep, “Nie vir my nie!”

Hy het die skynheiligheid van die godsdienstige leiers en kerkgangers gesien. Hy het gesien hoe Fariseërs weduwees beroof en hulle huise gevat het. Hy het gesien hoe priesters omkoop en omgekoop word. Hy het gesien hoe die tempels gevul word met geldwisselaars en God se huis in ‘n rowerspelonk verander word. Hy het gesien hoe skrifgeleerdes wette vir ander maak wat hullself nie ‘n vinger gelig het om self te onderhou nie.

Hy het al die witgepleisterde fronte, die vals gesigte en dubbele standaarde gesien. En hy het vir homself gesê, “Dit is die blindes wat die blindes lei – dit is nie vir my nie. Ek wil die waarheid hê!”

Terwyl hy op pad was na die dorpie saam met die ander nege – terug na die priester, die kerkgemeenskap, respek en die goeie lewe – hy het gestop en gedink: “Wag ‘n bietjie! Ek onthou hoe dit was toe ek alles gehad het – geld, prestige, sekuriteit. Ek was ellendig! My sogenaamde vriende het my almal dadelik verwerp toe hulle hoor dat ek moontlik melaats is. Ek was leeg – gebind deur sondige gewoontes, vol haat en bitterheid. Dit was ‘n lewende hel. Waarom sou ek teruggaan daarna?”

Toe het iets in sy hart begin brand: “Kyk na my – ek is rein. Jesus het my genees! Die kerk kan wag - my familie en loopbaan kan wag. Ek gaan na Jesus toe! Ek wil die Een wat my genees het leer ken!” Hy het tot dieselfde gevolgtrekking gekom as alle oorblyfsel mense:

“Daar is niks daar buite wat ek wil hê nie. Dit is alles ydelheid! Ek gaan na Jesus toe – Hy gaan my werklikheid wees!”

Moenie vir ‘n oomblik dink hierdie gereinigde melaatste het teruggekom net om dankie te sê nie – Nee, hy was oorweldig deur ‘n begeerte om hierdie Mens Jesus te aanbid!

Die oorblyfsel melaatse kon nie ophou huil nie, “Halleluja!” lofprysinge het uit sy innerlike wese uitgekom!

Ek glo dat as enige persoon Christus aanbid soos hierdie man – en uitgestrek voor Sy voete lê, danksegging hardop uitroep sonder om hom te bedwing – so ‘n mens is vasbeslote om Jesus nooit weer te verlaat nie! In sy hart sê hy, “Na wie toe sal ek gaan? Hy het die woorde van die ewige lewe!”

Ek verbeel my hierdie man het opgedaag oral waar Jesus onderrig het. Elke keer wat Christus op ‘n berghang of strand was, het die gereinigde melaatse daar gesit, heel voor. Hy het uitgeroep, “Ek het U lief, Jesus! Eer aan God! Prys U!” Ek sien hom by die Opvaarding roep, “Neem my saam met U, Jesus!” En ek sou dink hy was in die Bovertrek op die Pinksterdag, terwyl hy God prys – gevul met die Heilige Gees!

Ons is in der waarheid egter iets gegee waarvoor ons dankbaar kan wees, iets wat die dankbare melaatse nooit gehad het nie – ‘n potensiaal vir krag bokant enigiets bekend aan die mensdom!

In Januarie, elke vier jaar, huldig Amerika ‘n president in wat die “magtigste posisie op die aarde” genoem word. Sy handtekening is wet. Hy voer die wêreld se magtigste weermag aan. Hy kan bloot ‘n knoppie druk en vernietiging bring oor hele nasies. Maar die mag wat het, is niks in vergelyking met die mag wat Jesus vir jou en my gegee het nie!

Jy sien, ons het absolute toegang om in die ware teenwoordigheid van die lewende Skepper God te kom – en ook vir Hom om na ons te kom! “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg...laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsekerheid” (Hebreërs 10:19-22).

Die oorblyfsel melaatse het nie soveel krag gehad nie. Dit het slegs gekom ná die voorhangsel in die Tempel in twee geskeur het. Toe dit gebeur het, het dit beteken dat die mens by God kon in en uitgaan – dat Hy ons kan ontmoet!

Die woord “vrymoedigheid” in hierdie vers beteken “Met oop, onbedekte openlikheid.” Geliefde, daardie “openlikheid” is vir die duiwel se onthalwe! Dit beteken ons kan vir elke demoon in die hel sê, “Ek het ‘n reg deur die bloed van Jesus Christus om te wandel in die teenwoordigheid van God en met Hom praat – en Hy met my!”

Glo jy jy het ‘n reg – dat God gewillig is om uit te kom en jou te ontmoet? Laat ons tot Hom nader met ‘n hart vol van die versekering van geloof! Ons kom nie deur die bloed van ‘n voël of bok of bul nie – maar deur die bloed van ons Here Jesus:

“Ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien?” (Hebreërs 9:12-14).

Niks verbly die hart van God meer as wanneer Sy kinders na Hom toe kom met vrymoedigheid, sonder vrees! Hy wil hê ons moet kom en sê, “Ek het ‘n reg om hier te wees. En selfs as my hart my veroordeel, God is groter as my hart!” (sien Johannes 3:20).

Nadat hierdie melaatste Jesus die tweede keer genader het, sê die Skrif Jesus “het [hom] gered [heelgemaak].” “En Hy sê vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered [heelgemaak]” (Lukas 17:19). Hierdie keer het Jesus hom meer gegee as reiniging – Hy het hom gered [heelgemaak], in sy verstand, liggaam, siel en gees. En dit is wat God vir almal gee wat tot Hom nader vandag: redding, heelheid!

Ek sou dink hierdie oorblyfsel melaatse het teruggegaan na sy tuisdorp en ‘n reünie gehad met die ander melaatses. Wat ‘n gesprek sou hulle hê!

Die nege het waarskynlik rondgestaan en gepraat oor al die probleme wat hulle beleef het toe hulle teruggegaan het: Vroue het hertrou. Kinders het in skande weggedraai. Ou vriende het steeds soos vreemdelinge opgetree. Die aanpassings moes oorweldigend gewees het!

Toe het hulle almal na die oorblyfsel een gedraai, “Hoe het alles by jou uitgedraai? Onthou jy daardie Galileër, Jesus, wat ons genees het? Wat het ooit van Hom geword? En waarom is jy so gelukkig?”

Hy het geglimlag en gesê, “Ek was net gister by Hom! Ek volg Hom – Ek is Sy dissipel, en Hy is my Meester. En glo my, ek het geen aanpassingsprobleme gehad nie! Dit pla my nie dat my familie my verwerp het nie, of dat my vriende my verlaat het nie. Jesus het my ingeneem!

“Broers, laat my julle vertel – ek wandel met God! Hy praat met my en leer my. Ek is nou ‘n tentmaker – maar my mees vervullende werk is om my Here te prys!”

Miskien het hy die ander nege uitgenooi om saam met hom te gaan om Jesus te ontmoet. Maar hulle sou dit waarskynlik afgewys het: “Jammer – ons bestudeer die wet drie aande per week. Ons is tans in ‘n groot bespreking oor wanneer die Messias gaan kom.” Hulle kon gedink het hulle het na die Messias gesoek – maar hulle het hom reeds misgeloop!

So, toe het die oorgblyfsel een weggegaan – terug na Jesus toe, al singend, “Daar is ‘n lied in my hart wat die engele nie kan sing nie – Verlos! Verlos!” Hy leef in verlossing – heelgemaak, heeltemal vry!

Dierbare heilige, jy en ek het iets baie groter as wat hierdie melaatse gehad het. Ons het nie net ‘n oop deur nie, maar ‘n liefdevolle Vader wat vir ons sê, “Kom – jy is gereinig, Glo dit – reageer daarop. Kom en ontmoet Christus!” Halleluja!