VYFTIEN MINUTE ELKE DAG

Gary Wilkerson

“En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land” (Eségiël 22:30).

God sê Hy soek iemand wat gewillig is om “in die bres te staan,” daardie wye, leë plek waar iets ontbreek. Evangelisasie, aanbidding, lering, prediking, goeie werke, Sondagskool en jeugbediening is goed gedek, maar jou kerk se “bres” mag dalk gebed wees.

Die Here roep sy kerk om in die bres te staan, maak nie saak wat die uiteinde mag wees nie. As jy slegs bid om sukses in jou lewe te hê, is jy net soos die Fariseërs – en Jesus noem hulle skynheiliges of mense wat voorgee. Jy mag dalk voorgee om in die bres te staan vir iemand anders maar in werklikheid wil jy iets vir jouself hê. As jy nie kry wat jy van God wil hê na vyftien minute nie, hou jy op bid. Die biduur en sy aangesig soek, is nie langer ‘n deel van jou lewe nie – en jy twyfel dat God gebed sal verhoor.

God soek aanhoudende, getroue, hartlike gebed. Om in die bres te staan in die binnekamer by God vir vyftien minute elke dag is ‘n goeie begin. Jy sal agterkom daardie vyftien minute word twintig en dan dertig. Moenie omgee hoe lank jy bid nie, bly net konsekwent.

Die Bybel sê duidelik Hy wil hê ons moet vol van sy liefde en krag wees – en dit gebeur slegs wanneer ons die binnekamer binnegaan saam met Hom. As jy goeie werke doen net om deur mense gesien te word, is dit al wat jy sal kry en jou lewe sal verteer word met vrae: “Het hulle my gesien? Waardeer hulle wat ek doen? Word ek aanvaar? Is ek geliefd?”

Wanneer jy in die bres staan en Hom dien, sal dit nie saakmaak wat ander sê nie en jy sal nie daardie klop op die rug soek nie. Die Vader se oë is op jou en Hy sê, “Mooi so, goeie en getroue dienskneg.”