VURIGE PYLE UIT DIE HEL

David Wilkerson

Paulus gee raad, “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Efésiërs 6:16). Paulus brei uit oor hoe ons die stryd moet voer teen die vyand, wat teisterende gedagtes van vrees stuur.

“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:11-12).

Geliefde, die konflik waarin ons is, is nie ‘n menslike stryd wat in die aardse sfeer gevoer kan word nie. Hierdie stryd vind plaas in die bonatuurlike realm. As jy in werklikheid in Christus is, dan kom jy teen Satan se toorn te staan. Moenie sy demoniese toorn met die oordeel van God verwar nie. Die toorn waarteen jy te staan kom, is dié van ‘n duiwel wat woedend geword het, omdat hy weet dat hy min tyd het om teen God se kinders te veg.

En Satan se aanvalle is spesifiek gerig op diegene wat hulself daaraan toewy om getrou aan die Here te wandel. Weer en weer roem die Psalmis, “Ek skuil by die Here.” Dit is ‘n beeld van ‘n regverdige gelowige wat ten volle op God vertrou. Dit is egter hierdie getuienis van vertroue wat deur Satan geteiken word. Sy onwrikbare geloof is die rede vir die vurige pyle wat uit die hel teen hom gestuur word. “Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart” (Psalm 11:2).

So, wat is die vurige pyle uit die hel wat op jou en my gerig word? Dit is vreesaanjaende, onstellende gedagtes oor ons toekoms en oor God se sorg vir ons. Die duiwel is ‘n leuenaar en ‘n aanklaer, en elke aanval van hom word direk op ons geloof gemik.