Vryheid van Alle Vrees en Bekommernis

David Wilkerson

Jesus het voorspel dat die laaste dae ‘n tyd van ongekende vrees sal wees. Sy presiese woorde was: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26).

Jesus het ook ernstige waarskuwings gegee oor wat nog sal kom: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings...al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte...En dan sal baie...mekaar verraai en mekaar haat.

“En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel...Want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie...Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen...Waak dan, omdat julle nie weet watter uur die Here kom nie” (Matthéüs 24).

Oorsake van vrees

Vandag sien die hele wêreld – gered en ongered – die geboortepyne van die eindtye. Bydraend tot die vrees en bekommernis, is die baie groot moontlikheid dat die Amerikaanse en ander wêreld ekonomieë in duie sal stort – en ‘n nuwe wêreld geldstelsel sal ontstaan! (1992 is die jaar voorgestel om ‘n verenigde State van Europa te vorm – en hierdie plan word vinnig uitgevoer, met baie minder weerstand as wat enigeen ooit kon gedink het.)

Niemand blyk meer vreesbevange en bekommerd hieroor te wees nie as Wall Street, die bankiers en geldmanipuleerders in hierdie wêreld! Oral op die aarde, van Japan tot Australië, Engeland, Switserland, Duitsland en die Verenigde State – is daar ‘n wolk van verskriklike vrees dat die goeie tye verby is.

Ons Amerikaners kan nie eens dink aan hoe dit sal wees om op te offer en gebrek te ly nie. Ons is nie naastenby gereed hiervoor nie. Miljoene Christene lewe elke dag in die voortdurende vrees dat hulle hul werk, huise en motors sal verloor – dat ‘n skielike finansiële ramp hulle sal vernietig! Het jy al die skielike opvoorspelbare veranderinge in die weer opgemerk? Daar is ‘n ongelooflike aantal rampe: orkane, tornado’s, aardbewings en  tragiese ongelukke. In die laaste vyf jaar, het ons ‘n gelooflike toename in hierdie rampe gesien. Ons kan dit nie alles verstaan nie – dinge gebeur so vinnig!

In sy kommentaar oor die afgelope gebeure, het ‘n koerantverslaggewer gevra, “Tugtig God ons?” ‘n Ander een het gewonder, “Probeer God ons aandag trek?” Nog ‘n ander het gepostuleer, “Die gode is kwaad!”

In net die afgelope jaar het ons gesien hoe die wêreld onderstebo gekeer is. Die Berlynse Muur is nou vol gate! Hongarye, Pole en nou ook Tseggo-Slowakye, het die Kommuniste uitgegooi! Gorbachev lyk of hy werklik demokrasie bevorder! Castro moet seker sidder in sy skoene!

Australië is op die rand van bankrotskap; El Salvador skud; Mexico is op die rand van ‘n maatskaplike rewolusie en China is ‘n reus wat wakker word uit ‘n duisend-jaar lange slaap! Die Pentagon stel voor dat die begroting met $180 biljoen besnoei word. Verdediging is Amerika se grootste besigheid, en niks kan meer vrees en bekommernis vir verdedigingskontrakteurs veroorsaak as sprake van vrede nie!

Durf ek jou herinner aan die VIGS plaag, die crack epidemie en die nabye ineenstorting van ons hospitaalstelsel? Dit lyk of dit onmoontlik is om misdaad in ons skole, duikweë en strate te keer. Die samelewing het mal geword! Die tye is vreesagtig en deurmekaar omdat almal weet dat dinge net erger kan word. Niemand lyk of hulle enige oplossings het nie!

Beskou hoe vinnig films en TV vulgêr en besoedel geword het. Ek word vertel dat die publiek volgende jaar volle naaktheid op sepies sal sien! Europese televisie het X-gegradeerde programme. Nou het Israel vir die eerste keer in haar geskiedenis, pornografiese tydskrifte op die nuusstalletjies. Die mens se begeertes het ‘n siedende vuur geword! Waar sal dit alles eindig?

Baie nuwe kennis veroorsaak vrees en verdriet!

Die Bybel sê, “by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart” (Prediker 1:18).

Geliefde, ek wou eenvoudig nie weet dat eiers my kon doodmaak deur cholesterol of salmonella vergiftiging nie! Gedurende jare van heerlike onkunde, het ek spek en eiers sonder vrees geëet. Nou kan ek nie eens na ‘n eier kyk sonder om te dink, “Jy is ‘n moordenaar! Jy gaan my bloedklonte gee en vergiftig!” Sulke smart in hierdie kennis!

Dan, net as ek begin terugsny op cholesterol inname, lees ek dat sekere soorte cholesterol eintlik goed is vir my! Ek het probeer om ‘n bietjie hawermout, muffins en vrugte vesel ontbytkos te eet – maar nou word ek vertel dit is nie al is waarvan so ‘n ophef gemaak word nie. Suiker is ‘n moordenaar genoem, en daarom word ons geadviseer om plaasvervangers te gebruik: maar toe word ons ingelig dat die plaasvervangers kanker veroorsaak in rotte!

Nou lyk dit of teensuurmiddels aluminium bevat en beskou word as ‘n oorsaak van Alzheimer’s siekte! Beesvleis het kankerveroorsakende hormoonbyvoegsels! Hoender kan salmonellavergifting bevat; vis kan jodium hê; en appels is gevaarlik weens ‘n kankerveroorsakende sproei! Vir jare het die kenners gewaarsku teen gemorskos en gesê dit is gevaarlik, maar nou vertel ‘n paar “kenners” vir my dat dit vol voedingstowwe is!

Ek word bang om die yskas oop te maak! Dit is asof die koue vingers van die dood uitreik en sê, “Preseveermiddels! Cholesterol! Chemikalieë! Plaasvervangers! Byvoegsels! Ons is almal hier!” Ons hoef nooit hierdie “wonderlike” kennis te gehad het nie. Eerlikwaar, dit dra net by tot die vrees en bekommernis wat op ons gepak word!

Lewe sonder vrees.

Terwyl ons onlangs op ‘n plattelandse pad in New Jersey geloop het, het ek ‘n goeie gesprek met my Here gehad. Ek het geroep, “Here, ek kan nie met allerhande vrese en bekommernisse lewe nie. Ek wil alles wat die toekoms inhou, binnegaan met rus, blydskap en eenvoudige vertroue! Ek wil algehele vryheid van alle vrees en bekommernis hê!”

Die Heilige Gees het my gedring: “Die sleutel na vryheid van alle vrees en bekommernis word gevind in twee woorde – mossies en hare. Onthou wat Ek gesê het in Matthéüs 10:28-33. ‘En nie een van hulle (mossies) sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel’” (verse 29-30).

Dit klink so elementêr, so baie eenvoudig – maar wat Jesus vir ons hier sê, is baie diepsinnig.

In die Ou Testament, kon Koning Dawid roem, “Hy het my van al my vrese gered!” Hoe het Dawid soveel vryheid van vrees gevind? Deur ‘n visie te kry van die grootheid van “Hom wat die hemel en aarde gemaak het.” Toe Dawid sy oë op die Skepper van alle dinge gehad het, het hy ontdek hoe groot God is!

Ek wil soos David wees – ‘n voorbeeld van ‘n herder wat geleer het hoe om vry van vrees en bekommernis te wees, in staat om mense in dieselfde vryheid in te lei.

Ek het ‘n studie oor mossies en hare gedoen. En gou het ek ‘n openbaring begin kry van Dawid se ontsaglike Skepper God, wat geïnteresseerd is die kleinste besonderheid van Sy skepping!

Mossies – God se boodskappertjies.

Mossies! Daar is 9,000 spesies van voëls en uit hulle almal, het Jesus na die mossie verwys. In Amerika alleen is daar 35 soorte mossies. In Jesus se tyd, het die term “mossie” alle klein landvoëls beskryf.

Hierdie delikate voëltjies word herken aan hulle musiek, sommige wat soveel as 22 verskillende deuntjies sing. Daar is sangmossies, lewerikke, vespers, witkeel mossies – almal met name wat met musiek te doen het.

Soos alle voëls, is mossies wonderlik gemaak. Hulle dun, smal bene is sterk en spesiaal toegerus vir vlieg. Moderne wetenskap kan steeds nie die ingewikkelde vlerkstelsel kopieer wat hulle toelaat om twee en drieduisend myl te migreer nie. Elke mossie het van 1,300 tot 2,600 vere. Hoe ingewikkeld en gedetailleerd is hulle! Ons Skepper God het hulle perfek ontwerp. Hy het elke been, elke veer ontwerp – en Hy het elkeen van hulle getel.

Die meeste mossies bou hulle neste in die grond – en in Christus se tyd, was hulle gevang met vangnette waarin hulle geval het terwyl hulle hul neste voorberei het. In Jerusalem het Jesus mossies gesien verkoop word op ‘n steekpen, twee vir ‘n stuiwer. Hulle was almal gevang met vangnette omdat Jode nie dié kon eet wat self doodgegaan het nie.

Van hierdie voëls het Jesus gesê, “Nie een van hulle is gevang sonder My Vader se wete nie." Hy het geweet waar elkeen van hulle was, totdat dit tyd was dat hulle longetjies hulle laaste asemtuig geneem het. Hy het hulle gevoed. Hy het elke mossie geken – selfs dié op die steekpenne!

Hare – ‘n Simbool van God se komplekse besorgdheid oor Sy kinders.

Hare! Elke haar op ons hoofde is getel deur ons Vader in die hemel. Tussen 100,000 en 150,000 hare bedek die menslike hoof. Selfs diegene wat kaalkop is, het steeds die vellus verskeidenheid hare wat onsigbaar is vir die menslike oog! God het hare bruikbaar gemaak, nie net om ons voorkoms se onthalwe nie. Hare op ons hoofde is vir insulasie tydens somer en winter. Ons wenkbroue hou sweet uit ons oë, en wimpers beskerm ons ooglede wanneer stof of klein insekte te naby kom. Klein haartjies in die ore en neusgate filtreer inkomende lugdeeltjies. Die hare in die armholtes help om wrywing te verminder wanneer ons loop.

Wat ‘n wonderlike en komplekse ding is ‘n haar. As ons kan weet wat ‘n ontsaglike skepsel ‘n haar is, hoe vol lewe, sou ons nooit twyfel dat God alles tel wat Hy geskep het nie.

Elke haar is ‘n silinder van selle wat diep in die vel ingebed is om die bloedvate te bereik wat dit voed. Elke haar het ‘n spier, senuwee’s en kliere. As jy selfs liggies die bokant van jou kop aanraak, sal jou hare se senuwee’s jou brein vertel en jy sal dit voel!

Kyk in ‘n ensiklopedie en vind ‘n tekening van ‘n enkele menslike haar. ‘n Kruissnit openaar talle verskillende ringe. Hierdie ringe van weefsels van die omringende stam, wat ook omring is deur as senuweekrae. Dit onderhou ‘n kutikula, medulla, korteks, papilla en wortelskede. ‘n Klein klompie kliere dreineer in elke haar. Melanien produseer die hare se kleur. Dit slaan neer in die groeiende hare. God het ‘n ontsaglike kleurfabriek in die kopvel. En, alleen gelaat, kan hare tot 25 voet in ‘n leeftyd groei!

Dit is geen wonder dat Dawid gesê het, “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is . . . my siel weet dit al te goed” (Psalm 139:14).

Die gedeelte in Matthéüs oor spreeus en hare, sê Jesus het die dissipels geleer om nie te vrees nie. Hy het elke mossie geskep, elke menslike liggaam en elke haar getel. “Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemel en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kolossense 1:16-17). Maar die dissipels het steeds nie verstaan nie. O, hoe moes Jesus verlang het om hulle sulke ingewikkelde dinge aan hulle te kenne te gee – van hoe Hy die vlerke en bene van die mossies gemaak het en hoe Hy die hare ontwerp het. Geen gewone skrynwerker kon dit alles uitdink nie – alles was so vreeslik en wonderbaar!

Hy kon gesê het, “Petrus, wat as ek vir jou gesê het jy het 127,550 hare op jou hoof, 162 op jou oë regterwenkbrou en 165 op jou linker? Jy het 165 haarfollikels in jou neusgate, 306 in jou linker oor en 319 in jou regter oor! Jou baard bestaan uit 33,980 haarfollikels. Omdat jy nou weet Ek het elke haar op jou kop getel, sal jy My nie vertrou met elke besonderheid van jou lewe nie? Sal jy nie glo dat Ek weet van elke tree wat jy gee nie?”

Wat as Hy vir Jakobus gesê het, “Geliefde Jakobus, het jy geweet daar is 2,396,000,065 mossies op die aarde van gister af? In die laaste 24 uur het 2,000,603 ‘n natuurlike dood gesterf en 986,152 word gevang of doodgemaak. In Jerusalem se markplein vandag, is daar 2,950 te koop.

“En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader in die hemel daarvan weet nie. Deur dit te weet, sal jy nou ‘oor niks besorg wees nie’? Sal jy My nou vertrou om te voorsien in al jou behoeftes? Sal jy nou nie bekommerd wees oor wat jy sal eet of drink nie? Sal jy nou glo dat jou hemelse Vader weet wat jou behoefte is en dit met blydskap sal voorsien? Sal jy Hom nou vertrou om jou te huisves, te voed en te klee?”

God se gedagtes teenoor ons kan nie getel word nie.

 Dawid het gesê, “Groot dinge het U gedoen, HERE my God – u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie.  Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel” (Psalm 40:6).

“Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand” (Psalm 139:17-18).

God het met die Israeliete in die Babelse ballingskap gepraat, “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11).

God het aan jou gedink voor jy gebore was – voor jou haarkleur of geslag bepaal was! Hy het aan jou gedink toe lewe in ‘n sel ingeblaas is...toe jy steeds in die baarmoeder was!

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe; dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen daar was nie” (Psalm 139:16).

“Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilige laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God” (Psalm 22:9-10).

Die Here dink aan al jou dele, oor elke lid! Ons aanvaar dat Hy vir ons liggaam sorg, maar Hy gaan baie verder – en tel elke haar, been, spier, sel en vesel. Hy is bewus van elke traan wat jy gestort het. Hy het dit alles getel en in ‘n kruik opgevang. “Ú het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:9). Ek kan dit nie alles verstaan nie. Hy tel my hare; Hy tel my trane en Hy vang dit op in ‘n kruik en bêre dit. Dink daaraan – nie ‘n vermorste traan of smart, blydskap of berou nie.

Hy dink aan ons wanneer ons gaan lê in die bed en wanneer ons opstaan. Hy dink aan ons met elke tree wat ons gee. Hy ken en verstaan elke gedagte wat ons dink. Dit staan geskrywe. “Maar Jesus het hulle redeneringe bemerk” (Lukas 5:22).

Die hemel word bevolk met hoogs intelligente, skepsels – engele, serafs, gerubs en die vier-en-twintig ouderlinge. Hulle is getuies van die getrouheid van ons God. Hulle ken al die beloftes wat Hy aan ons gemaak het oor Sy aandag aan elke besonderheid. Hulle hoor Hom vertel van selfs Sy haarfyn, totale voorsiening om ons te bewaar en oor ons te waak!

As God in ‘n enkele een van hierdie beloftes sou faal, sou die hele hemel en chaos en puin verander, want die hemelse leërskare sou kon sê, “God het misluk om Sy Woord na te kom! Hy kan nie vertrou word nie!” Maar die feit dat die hele hemel God prys, hulle krone voor Sy voete gooi, is bewys dat hulle Sy getrouheid sien en daarin glo. God kan vertrou word om alles te doen wat Hy gesê het Hy sou!

Laat ons nou teruggaan en sien wat Jesus gesê het die wonderlike resultaat sou wees van ons wat alle vrees en bekommernis “weg werp”!

Bely dat Christus algenoegsaam is.

“Wees dan nie bevrees nie; julle is meer werd as baie mossies. Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wa in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Matthéüs 10:31-33).

Vir jare het ek dit in my stadswye veldtoge aangehaal. Ek het dit by die altaar gesê om mense aan te moedig om vorentoe te kom en Christus te bely. Maar om God te vertrou is soveel meer as net ‘n openbare belydenis – “Jesus vergewe my sondes. Ek glo in U!” Goedbedoelende miljoene het daardie soort “belydenis” gemaak, en tog was dit nie blywend nie.

Die sleutel om te verstaan wat Jesus sê, is in Psalm 31:19, “o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in die teenwoordigheid van die mensekinders!”

Hierdie “belydenis” is iets wat die wêreld moet sien en nie net hoor nie! “En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou” (Psalm 40:4).

Ons praat dikwels oor “getuig vir Jesus,” en ons dink dit is straatbediening, traktaatjies uitgee, en vriende en vreemdeling vertel dat Jesus hulle liefhet. Geliefde, dit is slegs deel daarvan!

Die wêreld soek nie meer leerstellige bewyse oor die werklikheid van God nie! Dit soek nie na groter bewyse van die opstanding of beter argumente oor die skepping nie. Die wêreld soek Christene wat kan staande bly teen elke krisis, vrees, bekommernis en moeilikheid en wat kalm en gerus kan bly te midde van dit alles. Die wêreld moet sien dat God se kinders volkome op hulle Here vertrou.

Die wêreld moet in staat wees om na ‘n Christen te wys en te sê, “Daar gaan iemand wat nie ‘n klaer is nie! Hy is nie angstig of vrees of vlug in tye van moeilikheid nie. Hy is nie bekommerd oor môre nie! Sy geloof bly staande te alle tye!”

Of jy dit weet of nie, jy getuig en bely elke dag – teenoor jou medewerkers, jou familie, jou prokureur, jou haarkapper, jou buurman, jou broers en susters in Christus! Hierdie mense sien jy gaan deur ‘n moeilike tyd en hulle kyk en luister, terwyl hulle vir hulself sê, “Sal hulle doen wat hulle verkondig? Sal hierdie Jesus hulle teleurstel? Sal sy net soos die res van ons praat wat nie Christus bely nie?”

Wat hoor diegene rondom jou uit jou lippe kom wanneer dinge moeilik raak? Voortgesette hartseer is ‘n verskriklike belydenis vir ‘n gelowige. Dit maak die wêreld dink dat God jou op een of ander manier teleurgestel het. Die Skrif sê van Hanna, Samuel se moeder, “ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort,” en terwyl sy weggegaan het, was haar “aangesig was anders” (1 Samuel 1:15,18).

Hoe verlaat jy die Here se teenwoordigheid na gebed. Steeds bedroef en swaar belas? Lyk jy neerslagtig? Dan het jy nie werklik jou laste op Hom gelaai nie. “Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid” (Psalm 125:1).

Die groot Skepper God is aan ons kant!

Die majesteuse Here wat al hierdie ontsaglike werke gedoen het, en wat alle krag en mag besit, is aan ons kant! Dit is wat Jesus die hele tyd vir Sy kinders probeer wys! Hy sê, “As jy kan, begryp die grootheid van God en die feit dat Hy aan jou kant is!”

“Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is” (Psalm 56:10).

“Die HERE is vir my; ek sal nie vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen? Die HERE is vir my as my helper; so sal ek dan neersien op die wat my haat” (Psalm 118:6-7).

Die Heilige Gees het vir ons Psalm 124 gegee as ‘n teenmiddel teen vrees en bekommernis: “As die HERE nie vir ons was nie – laat Israel dit sê – as die HERE nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie, dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het; Dan het die waters ons oorstroom, ‘n stroom het oor ons siel gegaan; dan het die trotse waters oor ons siel gegaan. Geloofd sy die HERE wat ons aan hulle tande nie as buit oorgegee het nie! Ons siel het vrygeraak soos ‘n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak. Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.”

God wil hê ons moet bestand wees teen slegte nuus! “Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE. Vas is sy hart, hy vrees nie” (Psalm 112:7-8).

“As jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees...Jy hoef nie bang te wees vir ‘n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik” (Spreuke 3:24-26).

Vertrou op God met jou hele hart. Om vry te wees van vrees en bekommernis, is om met vertroue te rus in die Here van die Leërskare. Rus in die Een wat jou geskep het!