VRYHEID EN OORVLOEDIGE LEWE

David Wilkerson

God kan nie gebed verhoor waar daar geen geloof is nie. En Satan sal nie wegvlug waar daar vrees en ongeloof is nie. Trouens, ons het misluk om ons Godgegewe gesag oor die duiwel en sy demoniese heerskappy op te neem.

God se Woord sê vir ons dat die vyand nie in beheer is nie. Ons het mag oor hom!

“Weerstaan die duiwel, en hy sal van hulle af wegvlug” (Jakobus 4:7).

Daar is baie mense wat toelaat dat Satan oor hulle geloof stoomroller sonder enige weerstand. As dit jou beskryf, bied Maleági vir jou ‘n wonderlike woord: “Julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal” (Maleági 4:2).

Wat ‘n interessante en wonderlike woord vir die mense van God in hierdie laaste dae. Maleági beeld gelowiges uit soos kalwers opgesluit in stalle. Die Hebreeuse stamwoord vir stal hier beteken “vasgebind,” “in sirkels rondloop.”

LUIDRUGTIGE, HUPPELENDE KALWERS

Het jy al ooit lewenslustige kalwers opgesluit in stalle gesien? Hulle hardloop in sirkels, skop en maak baie geraas. Begryp jy die beeld wat Maleági vir ons gee? Satan het daarin geslaag om menigtes van gelowiges in klein stalletjies op te sluit. Hy het hulle uitgesluit gehou van Christus se groen weivelde, weg van Sy koel, verfrissende waters.

Geliefde, ek dring by jou aan: Moenie nog ‘n dag verder voortgaan om tevrede te wees met dinge soos dit is nie. Jou vrylating moet kom deur geloof en die Here gee Sy Heilige Gees vir diegene wat Hom vra. As God belowe, “Julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal,” bedoel Hy meer as net vrylating uit opsluiting. Wanneer Hy die hekke van ons stal oopmaak, sal ons huppelend van blydskap daar uitspring. ‘n Wolk van somberheid sal nie langer oor ons hang nie, maar ons sal vrygelaat word tot ‘n wandel van hoop, vryheid en oorvloedige lewe.