VRYGEMAAK DEUR DIE WAARHEID

David Wilkerson

“En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees; sodat die huis van Israel nie meer agter My wegdwaal nie en hulle nie meer verontreinig met al hulle oortredinge nie.  Dan sal Ek vir hulle ‘n God wees, spreek die HERE” (Esegiël 14:10-11).

God sê vir ons in sagte terme: “Ek sal doen wat dit ook al mag verg om jou weg te kry van jou afgode af. Ek sal jou liefdevol na My toe teruglok, maar as dit nie werk nie, sal Ek die nodige kastyding bring.”

“...as julle hulle weg en hulle handelinge sien...en julle sal weet dat Ek nie tevergeefs alles gedoen het wat Ek daarin gedoen het nie” (vers 23). Die Here sê met ander woorde: “Julle weet dat my sterk optrede teen julle vir ‘n rede is. Ek sal julle eenvoudig nie laat gaan nie!

Het jy ‘n struikelblok van ongeregtigheid of ‘n boesemsonde in jou hart? Is daar ‘n verslawing wat jou maklik kan vernietig? Indien wel, en as jy deur hierdie boodskap jouself onder oortuiging van sonde bevind, is daar hoop vir jou.

Dit maak nie saak wat jou afgod is nie, vra die Heilige Gees om jou oë daarvoor oop te maak. Hy sal jou hart sensitief maak vir sy oortuigende woord en jy sal jou sonde begin haat. Besluit in jou hart dat jy geen vrede daarmee sal maak nie!

Roep nou uit tot Hom: “Here, moenie my blind laat nie! As daar enige misleiding of verleiding in my is, openbaar dit. Ek wil geen leuens meer glo nie. Ek wil net U stem hoor en U mag en gesag hê om my lewe te regeer.”

Daar is verlossing vir jou, as jy dit waarlik wil hê. Maar God sal vir jou wag om jou afgode te laat staan. Dan, op die oomblik wat jy gereed is om aan Hom oor te gee, sal Hy jou bemagtig deur Sy Gees – nie meer ‘n slaaf van gebondenheid nie, maar ‘n kind van God, vrygemaak deur die waarheid!