VRA, SOEK EN KLOP IN GEBED

David Wilkerson (1931-2011)

Sommige Bybelkenners maak daarop aanspraak dat ons in ongeloof wandel as ons God oor en oor vir dieselfde ding vra. Dit is kettery! God beveel ons om te vra, te soek en te klop – om uit te roep in doeltreffende, ernstige smekinge (sien Matthéüs 7:7-8). Van die heel begin af, het ware dienaars God se beloftes in gebede verander:

  • Jesus het geweet dat sy Vader voor die grondlegging van die wêreld aan Hom alle dinge belowe het. Tog het Christus ure in gebed deurgebring sodat God se wil op hierdie aarde sal geskied. Hy het selfs ‘n gelykenis vertel waarin die volharding in gebed geïllustreer word deur ‘n “onbelangrike weduwee” wat by ‘n regter aangedring het om geregtigheid totdat sy dit gekry het (Lukas 18:1-8).
  • God het vir Esegiël wonderlike profesië uitgespreek oor Israel se herstel en het belowe dat die volk se puin soos die Tuin van Eden sou word. Tog het die Here gesê dat sy woord nie sonder gebed vervul sou word nie: “So sê die Here: “Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen” (Esegiël 36:37). Met ander woorde, “Ek het aan jou ‘n belofte gemaak, maar Ek wil hê dat jy dit in vervulling moet bid. Soek My met jou hele hart totdat jy my woord vervul sien. Ek sal red, maar eers moet jy vra.”
  • God het aan Daniël belowe dat Israel na sewentig jaar herstel sou word. Toe Daniël die aangewese jaar sien aankom, kon hy in geloof op God gewag het todat dit in vervulling gekom het. In plaas daarvan, het Daniël op sy aangesig geval en vir twee weke gebid totdat hy gesien het dat die Here alles in vervulling gebring het (Daniël 9:24-27).

In die Ou Testament het Israel se hoëpriester die name van al die stamme van Israel op sy borsplaat gedra. Dit dui daarop dat die mense se nood voortdurend in gebed op die priester se hart was. Wat ‘n wonderlike toonbeeld! Dit dui op Christus wat ons op sy hart dra en ons behoeftes voor die Vader bring. Tog is dit ook ‘n beeld van elke Christen vandag, ‘n koninklike priesterdom, wat die behoeftes van ander op ons harte dra.