VOOR DIE VADER SE TROON

David Wilkerson (1931-2011)

God se dienaars moet sy teenwoordigheid binnekom, ten volle oortuig dat Hy sal verhoor. Dit is ‘n goeie ding om die beloftes van God in gebed saam met jou te bring – om daarop te staan terwyl jy Hom daaraan herinner. Hy het sekerlik nie geheueverlies nie, maar die Here hou daarvan dat ons sy beloftes voor Hom bring.

Petrus was ‘n visioen gegee en hy het gewonder wat dit kon beteken. Terwyl hy daaroor gewonder het, het God vir hom gesê, “Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur” (Handelinge 10:19). Hierdie gedeelte van die Skrif sê vir ons dat as God iets as waarheid verklaar, moet ons dit glo en daarop staan, sonder om ons vlees te raadpleeg. Ons kan bloot nie die betroubaarheid van God se Woord meet deur ons situasies of ons eie waardigheid te ondersoek nie. As ons dit doen, sal ons op die ou end slegs sien dat ons onwaardig is. Dan mag ons op die ou end onsself net ontmoedig om sy Woord op te eis en toe te eien.

Die Bybel sê ons is petisionarisse voor God se troon en Christus is daar as ons middelaar of advokaat. “Want daar is een God en Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Timótheüs 2:5). “Omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:25). “As iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Johannes 2:1).

Deur die gestorte bloed van Jesus aan die kruis, het die deur na die Vader se troon vir ons oopgegaan en het ons toegang om ons versoeke persoonlik na God te bring. Ons het ook die Heilige Gees, wat ons “parakleet” is, een wat instaan as ons adviseur, advokaat, trooster, middelaar en voorspraak. Hy herinner ons aan die ewige dekrete en goddelike konstitusie wat bestaan uit God se Woord – so ons het hierdie ontsaglike beloftes.

Dit is gerusstellend om te weet dat God werklik bly is wanneer jy sy troon nader met vrymoedigheid, en Hom bind aan sy eie Woord. En Hy sal seker maak dat jy weet Hy bly is oor jou.