VIND RUS VIR ‘N MOEË SIEL

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het na die aarde toe gekom as ‘n mens om die mensdom van ons sondes en van allerhande soorte slawerny te verlos. Maar Hy het ook na die aarde gekom met die doel om die hemelse Vader aan ons te openbaar.

Hy het vir die dissipels gesê dat “...die Vader My gestuur het” (Johannes 5:36). Hy het ook gesê, “Ek kan uit Myself niks doen nie...omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:30). En toe het Hy gesê, “Ek [gaan] na my Vader” (Johannes 14:12).

Jesus het in wese drie dinge gesê: “Ek het van die Vader gekom. Terwyl Ek hier is, sal Ek slegs sy wil doen. Binnekort gaan Ek terug na die Vader.” Jesus se hele lewe – sy koms na die aarde, sy doel hier, en sy terugkeer na die hemel – was om die hemelse Vader te openbaar.

“Jesus het vir die Fariseërs gesê, “Kyk na my lewe, my bediening, al die wonderwerke en goeie werke wat Ek doen, en julle sal die hemelse Vader sien. Alles wat ek doen, is ‘n weerspieëling van wie Hy is en dit alles is bedoel om Hom aan julle te openbaar”

“Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar” (Matthéüs 11:27).

Jesus sê in wese hier dat dit onmoontlik is vir julle om die Vader te ken, tensy Ek Hom aan julle openbaar. Heel betekenisvol voeg Hy by in die volgende vers: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28).

Jesus wys vir ons dat as ons rus vir ons siel en ‘n einde aan innerlike strewes wil hê, moet ons ‘n openbaring hê van wie die Vader is. Jy moet weet dat jy ‘n Vader in die hemel het wat vir jou omgee! Niemand ontvang hierdie openbaring sonder Christus nie en in alles wat Hy doen en sê, toon Hy vir ons die hart van die Vader.