VIND RUS IN GOD

David Wilkerson (1931-2011)

Satan hou daarvan om te lieg vir die kinders van God. Hy teiken diegene wat vasbeslote is om God se beloofde rus binne te gaan. “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:9-11).

Wat beteken dit om te “rus in God”? Dit is om by ‘n plek te kom van volkome vertroue in die Here se beloftes – ‘n plek waar daar geen stryd, twyfel of vrees is nie, maar liewer ‘n vaste vertroue. Dit is ‘n konstante geloof dat God met ons is, dat Hy nie kan faal nie, en dat Hy wat ons geroep het, ons sal deurdra.

Net wanneer jy dink jy betree hierdie nuwe lewe van vertroue – wanneer jou vlees gekruisig is en jy volkome afhanklik is van die Here – kom die ou slang in met ‘n klomp nuwe saamgeflansde beskuldigings. Hy weet van jou toewyding aan die Here, jou begeerte om alles te doen waarvoor God jou geroep het. Daarom werk Satan om jou oor te kry sodat hy met sy verskriklike gelieg kan begin. Party voorbeelde van die leuens van die vyand is:

  • “Jy maak geen geestelike vordering nie.”
  • “Jy is te swak vir geestelike oorlogvoering.”
  • “God is nie met jou nie; jy het Hom op een of ander manier bedroef.”

Satan fluister en probeer jou afbreek. Maar net soos Jesus getrou was in sy vertroue in die Vader, word ons geloof net so gemeet. “Maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:6). Alle gelowiges behoort hierdie drie dinge daagliks te doen:

  • Herinner jouself daaraan dat jy ‘n vyand het wat daarop uit is om jou te verslind.
  • Ondersoek jouself om te sien of jy skuldig is aan die sonde van ongeloof.
  • Wees volkome oortuig dat jy volle toegang tot die troon van God het.

Geliefde, bou jouself op “in jou allerheiligste geloof en bid in die Heilige Gees” (sien Judas 20).