VERTROUE IN JESUS

David Wilkerson

Die vyand kom soos ‘n bruisende stroom teen gelowiges wat geen deel het aan duisternis nie. Satan kan dit laat lyk of alles in hulle lewens in duie stort: hulle gebede lyk of dit verhinder word en die hemel soos koper is, terwyl hulle van alle kante af verdrukking ly. In sulke tye, kan hulle harte veroordelend fluister: “Jy het te min geloof. As jy net meer regverdig was in jou geloof – as jy net nader aan Jesus was, as jou gedagtes nie so goddeloos was nie – dan sou geen van hierdie dinge met jou gebeur het nie. Jy sou in beheer van alles gewees het, net soos hulle wat jy rondom jou sien. Jy sou oorvloed geniet het en duidelik van God gehoor het.”

Glad nie! Diegene waarna verwys word in Hebreërs 10, wat aangeval was, het ‘n ware geloof gehad, wat hulle tot God laat “toetree het met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekering” (Hebreërs 10:22). Trouens, hulle word in hierdie sendbrief as “heilige broeders” aangespreek in Hebreërs 3:1. Die skrywer weet dat daar ‘n stryd is om hulle harte te midde van groot verdrukking.

Eenvoudig gestel, Satan se hoofdoel is om ‘n gelowige se lig te laat verflou, om dit uit te doof of heeltemal af te skakel. Wys vir my ‘n Christen wat skielik uit geestelike duisternis uitgekom het, in die lig van Christus en sy heiligheid en reinheid ingekom het, en ek sal vir jou een wys wat in die stryd van sy lewe gewikkel is.

Beskryf dit jou? Gaan jy tans deur ‘n groot stryd? Geliefde, dit is heel moontlik nie weens twyfel of sonde nie, maar omdat jy die lig omhels het. Lig produseer vertroue in Jesus, en hoe meer lig jy ontvang, hoe groter is jou vertroue in Hom.

Dit is jou vertroue in Christus wat Satan vasbeslote is om te laat skipbreuk ly. Hy het al die magte van die hel op jou gemik om jou neer te trek tot in vrees en ongeloof. Maar selfs nou stel God baie belang in elke saak rakende jou lewe: werk, familie, kinders, verhoudings en gesondheid. Dit is waarlik vir Hom belangrik; jy maak vir Hom baie saak.