VERTROOSTING VAN GOD TYDENS BEPROEWINGE

David Wilkerson (1931-2011)

Een van die bedienings wat die nodigste is in die kerk van Christus vandag, is dié van vertroosting – om ander te troos in hulle probleme en verdrukkings. Baie gelowiges weet eenvoudig nie waarheen om gaan as hulle ly nie.

Paulus was een van die mees goddelike diensknegte van die Here wat ooit op die aarde gelewe het, maar hy het sulke oorweldigende en kragtige lyding verduur dat hy heeltemal raadop was. Trouens, hy was soms só mismoedig dat hy gedink het dat hy op die rand van die graf was. Tog het hy na ons hemelse Vader verwys as “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting" (2 Korinthiërs 1:3). Hy het verder in dieselfde hoofstuk gesê, "Dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het." (2 Korinthiërs 1:8)

Deur te verwys na God as “die Vader van ontferminge,” het Paulus getoon dat hy uit sy lyding geleer het. Hy was selfs in staat om te juig in al sy beproewings want hy het geweet dit was vir hom ‘n soort skoling. Hy het geleer om te sê: “God het ‘n plan hiermee! Mense gaan my invloed, my ontferming en vertroosting nodig hê.” In sy lyding, het Paulus die waardevolle les geleer van vertroosting by die Here te kry.

Wanneer jy in jou liggaam ly, raak jy baie geduldig met ander wat ly. Jy kry nuutgevonde empatie vir ander. Wanneer jy ly en tog die Here innig liefhet (en nie sonde wegsteek nie), kyk jy nie langer na ander se lyding en sê, “Ek wonder wat hulle gedoen het om dit te verdien” nie.

Mense wat lyding verduur en getrou aan God daardeur kom, word sterk, hartlik en geduldig. Hulle besit ook die sagmoedigheid van Christus. Dit is bemoedigend om in die teenwoordigheid van sulke mense te wees!

As jy ly, vertrou God om jou deur te dra. Mense sal sien hoe jy oorwinning en vertroosting kry deur die krag van God alleen en hulle sal aangetrek word deur wat jy het.