Verdorwe Christene!

David Wilkerson

Die kerk van Jesus Christus het ‘n verdraaide  beeld van wat verdorwenheid is. Nie baie Christene verstaan God se definisie van verdorwenheid nie – en baie min sou erken dat hulle daaraan skuldig is!

As ons dink aan verdorwe mense, dink ons meestal aan goddelose sondaars. Volgens ons teologie, behels verdorwenheid alkohol of dwelmmisbruik, owerspel of hoerery, bedrog, dobbel, homoseksualiteit, moord, verkragting, bloedskande en ander sulke goddelose dade. Ons beperk verdorwenheid om wilde passies en lewensbeherende welluste beteken.

Ons misluk egter om te begryp hoe God na verdorwenheid kyk! God se definisie strek baie dieper as die passies van die vlees. Die woord verdorwe, beteken “’n verandering van dit wat eens heel en goed was na iets wat bederf en verrot is.” Verdorwenheid dui op iets wat eens heel en gesond was – maar nou nie meer nie, omdat verrotting en bederf ingetree het.

Israel was deur God beskuldig van ‘n verdorwenheid wat selfs erger was as dié van hulle goddelose vyande! Terwyl Moses op die berg was met die Here, het die Israeliete besluit om ‘n altaar te bou ter ere van ‘n goue kalf. Hulle het geëet, gedrink, gedans en voor hierdie leë afgod gespeel. En God het vir Moses gesê, “...Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel” (Exodus 32:7). Hierdie verdorwenheid was so groot in God se oë, dat Hy gedreig het om hulle net daar te verteer: “Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk. Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak” (Exodus 32:9-10).

God het bedaar, maar wat ‘n ernstige beskuldiging! Wat het die volk gedoen om Hom so woedend te maak? Was dit hulle dronkenskap, hulle wellus, hulle naaktheid? Was dit hulle ligsinnigheid en speelsheid tydens ‘n plegtige tyd? Nee – dit het selfs baie dieper as hulle afgodery gegaan.

Slegs weke voor dit, was dieselfde Israeliete verlos uit die kloue van Farao en sy leër. En hulle het verstom op die strand van die Rooi See gestaan en die Here se lof besing: “...Hy is hoog verhewe...Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword...u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand” (Exodus 15:1-2;6). Nou, net ‘n kort rukkie later, was hulle almal verdorwe – en op die rand van vernietiging deur ‘n beledigde God! Die Nuwe Testament gebruik hulle voorbeeld om ons te waarsku: “Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:11).

Ek wil kyk na hierdie verdorwenheid uit God se oogpunt. En ek wil hê ons moet die waarheid in die oë kyk dat ons moontlik net so skuldig aan verdorwenheid is soos Israel, toe hulle rondom die goue kalf gedans het!

1. Verdorwenheid is om alle vertroue op God te verwerp weens vertragings!

“Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie” (Exodus 32:1).

Wat ‘n ontsaglike blindheid wat oor hierdie mense gekom het! Op die presiese oomblik toe hulle hul vertroue in God verloor het, was die hemel in beweging en het wonderlike planne vir hulle toekoms gemaak!

Op die berg, is ‘n tabernakel aan Moses geopenbaar waardeur God self sou neerdaal en in hulle midde wandel. Hy het vir hulle ‘n wet gegee wat hulle sou onderskei van alle ander op aarde. Hulle vyande sou op die vlug gejaag en vernietig word. Reuse sou verslaan word.

God het ook vir Israel gebring by ‘n plek van rus, vrede en oorvloed. Hy het beplan om vir hulle ‘n heerlike erfenis te gee – huise wat hulle nie gebou het nie, boorde wat hulle nie aangeplant het nie en alles wat hulle ooit begeer het. En dit alles was in ‘n land van melk en heuning, groen gras en groente.

Op daardie oomblik, was die Godheid gefokus op Israel se teenswoordige behoeftes en hulle toekomstige seëninge. Terwyl die Here alles georden het tot hulle voordeel en erfenis, het die mense het uitgeroep, “Waar is God? Waar is Sy leiding? Ons sien geen bewyse van Sy getrouheid nie. Daar is net stilte. Watter soort God sou ons alleen en bang laat, sonder ‘n woord? Genoeg van hierdie gewag – genoeg van stilte en vertragings. Laat ons oorgaan tot aksie. Kom ons doen iets!”

Toe het Israel doelbewus al die wonderbaarlike dinge wat God vir hulle gedoen het uit hulle gedagtes uitgehaal. Hulle het die bonatuurlike plae wat Hy teen Egipte gestuur het vergeet. Hulle het die Rooi See wonderwerke vergeet. Hulle het vergeet van die versoete waters van Mara en die engele voedsel wat Hy elke oggend vir hulle gegee het. Nie eens die donderende stem by Sinai het meer vir hulle saak gemaak nie. Al wat saak gemaak het, was dat hulle ‘n behoefte gehad het, maar hulle het egter net stilte gehoor.

Hulle was onder die aantrekkingskrag van ongeloof! Niks kon hierdie mense skud uit hulle oortuiging dat God nie langer met hulle was nie. Die enigste ding wat hulle wou hê, was om hulle innerlike begeerte vir aksie te bevredig!

Die Bybel sê hierdie mense het letterlik hulle oorringe afgeruk, sodat Aäron die afgod kon begin vorm: “Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring” (Exodus 32:2). Ek kan amper hulle opgewonde geroep hoor terwyl die kalf vorm aangeneem het: “Nou kom ons êrens!”

Dit lyk vir ons onmoontlik dat ‘n volk wat so onlangs God se bonatuurlike krag beleef het, so vinning sou offer aan ‘n lewelose goue kalf. Was hierdie Israeliete werklik so dom om na hulle gesmelte oorringe te kyk en te sê, “Dit is die god wat ons uit Egipte gelei het?” Wat ‘n ontsaglike blindheid!

Blindheid en geestelike verdowing is die vloek wat kom oor almal wat van God afvallig word om hulp en leiding by ander bronne te soek. Ons kan inderdaad net so vervloek en verdorwe wees as wat Israel was, wanneer ons ons wend na menslike bronne vir krag en leiding! Net soos Israel, vergeet ons al God se voormalige seëninge en barmhartighede oor ons. Ons vergeet die talle kere wat Hy ons verlos het van die vyand se strik. Ons vergeet al Sy beloftes aan ons in ons geheime binnekamer van gebed, en Sy eed om ons te lei selfs tot die dood.

In plaas daarvan ons om te vlug na ons geheime binnekamer om ons harte uit te stort voor die Here van die heerlikheid, hardloop ons na die telefoon om hulp te soek by ‘n vriend. Ons ontboesem ons harte voor herders, beraders, familielede en selfs vreemdelinge. Ons soek oral na simpatieke raad. Ons kerm en beskuldig God dat Hy nie ons hulpgeroep hoor of verhoor nie. En ons huil onsself aan die slaap en kwyn in verskriklike vlae van eensaamheid.

Geliefde, dit is verdorwenheid van die ergste soort om toe te gee aan sulke vrees en wanhoop! Om dit te doen, ignoreer ons die majesteit en getrouheid van ons liefdevolle Vader! God het vir Israel gesê:

  • “...Julle het self gesien dat Ek met julle van die hemel af gespreek het...Op elke plek waar Ek my Naam sal laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën” (Exodus 20:22,24).
  • “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor my” (Jesaja 49:15-16).

Maar Israel het geantwoord: “...God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie” (Psalm 10:11). “...Die HERE het my verlaat, en die HERE het my vergeet” (Jesaja 49:14).

Ek het ‘n brief nie lank gelede nie ontvang, geskryf deur ‘n jong Bybelskool gegradueerde wat jare deurgebring het om voor te berei vir die bediening. Hy het oral gesoek na werk, maar was afgekeur elke keer wat hy probeer het. Uiteindelik het hy vir ‘n vriend geskryf dat hy so moedeloos was, dat hy in die versoeking gekom het om sy eie lewe te neem.

Die vriend het die jongman se brief vir my gestuur. Dit het gelees: “Ek kan dit nie meer verdra nie. Ek wil net my talente gee vir die bediening aan die Here, maar al die deure voor my is toe. Ek het nou geen geld nie en ek is wanhopig. Daar is vir my niks oor nie. Ek bid en roep uit na God en ek hoor preke oor om op God te vertrou. Maar ek sien niks in my toekoms wat die moeite werd is om voor te lewe nie. Ek het geen ander keuse as om my lewe te neem nie.”

Ek het vir hierdie jongman gebid en sal daarmee volhou. Maar moenie mislei wees nie: Sy wanhoop is ‘n teken van verdorwendheid!

Hierdie jongman sê in wese, “God het my gered – maar toe het Hy my hulpeloos laat ronddryf soos ‘n stuk hout op die oseaan.” Hy het al sy vertroue op die Here laat vaar – weens ‘n vertraging! Hy weet nie dat God agter die gordyn besig is om vir hom te werk nie, terwyl Hy alles ten goede vir hom meewerk. En Hy wag vir daardie jongman om te sê, “Here, lewe of dood, ek gaan U vertrou!” Wanneer hy by daardie plek uitkom, sal God vinnig optree!

Almal van ons word verdorwe wanneer ons onnodige laste van skuld, vrees, eensaamheid, angs en onrus dra. Dit beteken ons weier om te rus in God se groot en kosbare beloftes! God terg nie Sy kinders wanneer Hy sê:

*“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meerwerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

*“Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep...Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede” (Psalm 34:16,18).

Wat ‘n ontsaglike gesig om te aanskou as die Here ons ‘n kykie agter die gordyn gee waar Hy alles ten goede meewerk vir almal wat Hom aanroep. Maar omdat ons nie vertragings kan verduur nie, maak ons soos Israel en word afvallig van Hom – en in plaas daarvan kies ons om op die arm van die vlees te vertrou!

2. Verdorwenheid is om kaal te staan voor jou vyande!

“Toe Moses sien dat die volk bandeloos (kaal) was – want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak van onder hulle teëstanders” (Exodus 32:25). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir bandeloos is “para,” wat beteken, “Om los te word, naak, alle teëhouding te laat vaar.” Dit bedoel ook “’n nuwe begin.” Die Israeliete het in wese gesê, “Dinge gebeur nie soos dit moet nie. Ons is moeg vir hierdie stryd, moeg om vir God te wag. En nou gaan ons onsself geniet. Weg met die oue! Ons wil nuwe vryheid hê, ‘n nuwe begin – en ons wil dit nóú hê!”

Naaktheid in die Bybel het ook te doen met jou skild. Elke man wat nie sy skild gehad het nie, was beskou as naak. Hierdie Israeliete was letterlik naak – uitgetrek en dansend voor die goue kalf – hulle het egter ook hulle wapenrusting neergelê.

Kan jy jou voorstel hoe hulle vyande, die Amalekiete, afkyk na hierdie wilde toneel vanaf die omliggende berge? Hierdie Amalekiete het eens gesidder met die blote aanskoue van Israel. God het ‘n vrees in hulle harte geplaas vir Sy volk, sodat hulle nooit hulle waaksaamheid kon laat verslap nie.

Maar nou het hulle gekyk hoe Israel hulle wapenrusting afgehaal het en hul klere uitgetrek het. En die Amalekiete het vir hulle gelag en hulle bespot! “Kyk na hulle – hulle is net soos ons! Hulle God het geen krag nie. Hulle vertrou Hom nie. Sien? Hulle verwerp al hulle nougesette weë! Hulle wil begeer en partytjie hou en speel net soos die res van ons. Watter heiligheid! Watter skynheiligheid!”

In daardie een daad van bandeloosheid en naaktheid, het Israel hulle God verkleineer in die oë van die goddeloses! Hulle het die Here laat lyk of Hy harteloos, wreed, onbesorg en hulpeloos was. Hulle het Sy eer, Sy majesteit, Sy almag beswadder. Hulle was nie langer ‘n voorbeeld vir die wêreld nie.

En dit is presies wat ons doen wanneer ons ons kleed van geloof uittrek en ons vertroue op God laat vaar! Sonder kinderlike vertroue op God, staan ‘n Christen naak voor die wêreld – ontbloot voor alle twyfel, vrede en ongeloof!

God het ‘n besondere plan vir jou en Hy is besig om elke besonderheid uit te werk – maar jy kan dit in die wiele ry!

Israel het vir die wêreld gesê, “Ons wil nie meer teen vyande veg nie. Ons wil nie langer weerstaan nie. Ons het genoeg gehad van verwerping en opofferrings, toekomstige hoop en seën wat ver weg is. Ons wil nou leef en onsself geniet!”

Net so is daar vandag menigtes van naakte gelowiges die kerk binne. Dit is Christene wat moeg is van die stryd, die swaarkry, die lang vertragings, die eensame tye, die pyne en smarte. Daarom laat vaar hulle alle vertroue op God. En hulle praat asof Hy hulle verlaat het. Nou smag hulle net na goeie tye, pret, gelag en vrystelling van die stryd.

Hulle draai van al Sy beloftes af weg. Hulle verwerp die geheime binnekamer. Hulle laat hulle Bybel eenkant lê. Hulle gaan nie meer kerk toe nie. En hulle begin te dryf na ‘n selfgesentreerde najaag van geluk. “Niks meer wettiesheid nie, niks meer swaarheid nie,” sê hulle. “Ons wil vry wees!”

Ek is geskok oor die aantal bedienaars wat deesdae hulle pastorate bedank. Ons bediening ontvang briewe van herders wat sê, “Ek is so moeg – ek kan dit nie meer hanteer nie.” Sommige het senu-ineenstortings.

Ek luister ook na talle beklaenswaardige pleidooie van bedienaars en gemeentelede dwarsdeur die nasie wat ons bediening vir berading skakel. Om hulle te hoor praat, sou ‘n mens dink God was ‘n tiran – dat gebed nie werk nie en geloof nutteloos is!

Hulle het hulle vertroue in God verloor! Hulle leef in vrees en twyfel en dink God het hulle verlaat om alles vir hulleself uit te werk. Dít, my vriend, is verdorwenheid!

God sien dit en moet sê, “Jy laat dit lyk asof Ek ‘n wrede leermeester is voor die hele wêreld, asof Ek jou verlaat het. Watter soort getuienis is dit?” My eie mening is dat ek dink dit sou beter vir jou wees om te drink, te rook, te vloek of te hoereer, as om God so te laat lyk voor die oë van die wêreld! Jy het jou kleed van geloof afgegooi – jou helm, jou skoene, jou skild. Jy het jou hele wapenrusting uitgetrek. En jy staan naak voor ‘n Christus-bespottende wêreld!

‘n Bier advertensie vermaan ons geslag om “vanaand los te raak.” Met ander woorde, “Verwerp al jou morele inhibisies. Skud los van alle wette en behaag net jouself. Doen wat ook al jou gelukkig maak.”

Voorspoedspredikers is nie ver van hierdie denkwyse af nie. Sommige onderrig, “Moenie wag vir die onmoontlike nie. Jy kan jou droom nou dadelik hê! Jaag dit na. Noem dit en eis dit op, en dit is alles joune!” Selfs Pinkstergroepe hou seminare met hierdie boodskap: “Jy hoef nie so ‘n streng lewe te leef nie. God is nie so nie. Hy wil hê jy moet ontspan en jou reis na die hemel geniet. Dit is pret – ontspan!”

Wat my die meeste verafsku vandag, is die toestand van ons jongmense. Ek is geskok oor wat ek hoor van Christen studente. Soveel van ons jeug het geen verhouding met die Here nie, geen gevoel van rigting nie. En hulle het ‘n onheilspellende vrees vir die toekoms, meer as enige vorige geslag. Min sê, “God praat met my.” En nog minder sê, “Ek praat met God.”

In te veel Bybelskole is die uitroep, “Weg met alle beperkinge. Dit is alles wettiesheid!” Elke keer wat ek ‘n oënskynlike harde boodskap bring, sê ‘n toenemende aantalle studente, “Ek kan nie daardie soort prediking hanteer nie. Dit maak my senuagtig!”

Te veel word verdorwe – nie bloot weens kwynende sedes nie, maar omdat hulle nog nie ‘n diep vertroue op die Here ontdek of gekweek het nie. Hulle het geen rotsvaste lojaliteit teenoor Hom nie. Hulle leef volgens hulle emosies, omdat hulle nog nooit ware rus in God geken of beleef het nie. In plaas daarvan, leef hulle vir die oomblik en doen die beste wat hulle kan met wat hulle het.

Hulle het afvallig geword van die Gees van God agter die musiek van die wêreld aan – sy maniere, sy kleredrag, sy partytjies en ligsinnigheid. En bietjie vir bietjie het hulle die geestelike wapenrusting wat hulle oorgehad het, afgegooi. Dit is ‘n geestelike naaktheid – ‘n verwerping van ou waardes en ‘n smagting na pret en plesier.

Ek dank God vir daardie studente wat groei in die vrees en kennis van ons geseënde Here. God het belowe om ‘n muur van vuur te hou rondom almal wat op Hom vertrou. Maar basiese dinge soos gebed is so te sê onbekend aan meeste Christene vandag.

Ek glo Satan se belangrikste dryfveer in hierdie laaste dae is om die hele Christelike jeugbevolking te verdorwe. Hy is vasbeslote om hulle vertroue in God se sorg vir hulle te verpletter. Hy wil hulle oortuig dat geloof en gebed nie meer effektief is in hierdie eeu van wetenskap en rede nie.

Die kerk moet op sy knieë neerval vir ons jongmense! Ons moet tot God uitroep vir ‘n ontwaking van geloof en vertroue onder hulle teenoor God. As ons dit nie doen nie – en as die neiging voortduur – sal sommige van ons Christen kolleges die mees verdorwe plekke op aarde word!

3.Terwyl sommige hulle klere uitgetrek het, het ‘n heilige oorblyfsel hulle wapenrusting opgeneem!

Toe “het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vir die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. En Hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drieduisend man geval” (Exodus 32:26-28).

Hier is die beeld:

Die “seuns van Levi” was die agterkleinkinders van Levi – ‘n man wat ‘n geestelike swakkeling was! Levi was die seun van Jakob wat, saam met sy broer Simeon, sy familie laat stink het voor die omliggende heidene. Hierdie twee broers het elkeen ‘n swaard geneem en Sigem verslaan oor die verkragting van hulle suster Dina. Hulle het ook Sigem se vader, Hemor doodgemaak en al hulle skape, osse, donkies en rykdom gebuit – selfs hulle vroue en kinders. Wat ‘n verskriklike, aaklige beeld van Levi!

Nou het sy nakomelinge egter opgestaan om te doen wat reg was in God se oë: “...Toe het al die seuns van Levi by hom (Moses) versamel” (Exodus 32:26).

Hierdie mense het nie enige geestelike erfenis gehad om op te staan nie. Maar iets diep binne-in hulle het uitgeroep, “Ons sal nie soos ons vader oneer bring oor die naam van ons God nie. Ons sal staan vir die Here!”

Moses het vir hulle gesê, “As jou vrou of broer of suster of enigeen voor daardie goue kalf gedans het, maak hulle dood! Daardie soort afgodery kan nie toegelaat word nie!” Die Skrif sê dat hierdie manne gehoorsaam was: “En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses...” (Exodus 32:28).

Die boodskap hier is: Jy kan die eerste van nuwe, heilige nasate vir God wees – ‘n nuwe erfenis! Dit maak nie saak wat jou agtergrond is nie. Jy kan die moeder, vader of jongmens word wat ‘n stand inneem vir God – en wat Sy seën ontvang!

God gee nie om wat jou opvoeding was nie. Ek het geestelike kinders dwarsdeur die wêreld wie se pa óf ‘n dwelmverslaafde, alkoholis óf smokkelaar was, en wie se ma óf dwelms gesmous het óf ‘n prostituut was. Toe hierdie jongmense na Jesus gekom het, het Hy hulle aanvaar en geroep om Sy dienaars te wees. En nou respekteer hul eie kinders hulle. Hulle het moeders en vaders van Sion geword!

Die Here wil net een ding weet: Sal jy jou swaard optel en ‘n stand vir geregtigheid inneem vandag? Sal jy ‘n stand inneem selfs tussen jou familie en vriende – tussen almal wat naak en vol ongeloof staan?

Die kinders van Levi het hulle eie tradisie van goddelikheid begin. Elkeen van hulle wat ‘n swaard gedra het op daardie dag, het kinders en kleinkinders gehad wat opgekyk het na hulle en hulle onthou het vir hulle goddelike stand. Ek vra julle vaders: Wanneer jou kinders tieners word, wat sal hulle van jou dink? Sal hulle vir hulle vriende sê, “My pa sit net op die rusbank. Al wat hy doen is om TV te kyk en gholf te speel”? Moeders – wat sal jou kinders van jou onthou?

God roep jou nou om te doen wat heilig is – om op te staan teen die neigings van die tyd! Hy wil hê jy moet die een wees na wie mense opkyk. Hy wil ‘n nuwe tradisie begin. Dit maak nie saak of jy getroud of enkellopend is nie, of jy van ‘n disfunksionele familie of ‘n soliede een kom nie. God wil Sy heilige vuur in jou plaas!

Jy kan moontlik sê, “Maar ek het reeds misluk. Ek het reeds my kans verbeur! Eens op ‘n tyd het ek die Here met my hele hart gedien. Ek was gesalf, vol geloof en vertroue op Hom. Al my kinders en vriende het my gerespekteer. Maar toe het ek gesondig en God teleurgestel. Ek het dit alles verloor!”

Nee – dit is nooit te laat by God nie! Dit is nooit te laat om jou swaard op te neem en deel te wees van Sy Levi-priesterskap nie. Jy kan enige tyd weer oor begin!

Daar is ‘n waterfontein in laer Manhattan wat gewy word aan die herinnering van ‘n man genaamd Jerry Macauley. Vir jare was hierdie man ‘n alkoholis en straat boemelaar wat keer of keer afvallig geword het. Maar eendag het God gesê, “Genoeg!” – en Hy het Jerry se hart vasgegryp. Jerry het ‘n sending in hierdie stad begin wat nou al vir baie dekades lank voortduur. Toe hy begrawe is, was die skares so groot dat verkeer in laer Manhattan tot stilstand gekom het. Dit was ‘n man wat sy erfenis opgemors het. Maar hy het hom bekeer – en God het alles vir hom vele kere meer teruggegee!

So, wat gaan jy doen? Gaan jy opgee? Of gaan jy jou swaard aangord?

Jy kan moontlik vra, “Wat beteken dit om ‘jou naakte broers en susters dood te maak’? Hoe kan jy sulke mense deesdae ‘verslaan’?” Jy doen dit deur tussen hulle te leef met geduld, hoop en blydskap! Wanneer almal rondom jou die stryd gewonne gee, bou jy meer en meer veglus in jou op. Jy getuig meer en meer van God se getrouheid, selfs al kan jy nie ‘n antwoord sien nie. Dit sal almal rondom jou verslaan met skaamte oor hulle eie ongeloof.

O, die weergalose genade van God – om die mees onwaardige van alle mense te kies om Sy instrumente te wees: die seuns van Levi! Moses het vir hulle beloof, “Vul vandag julle hand om te offer aan die HERE – want elkeen is teen sy seun en teen sy broer – sodat Hy vandag ‘n seën oor julle kan gee” (Exodus 32:29).

En God het hulle beloon. Hy het vir hulle ‘n semi-priesterlike orde gemaak, genaamd die Leviete, aan wie die diens aan God se huis gegee is.

Dierbare heilige, dit maak nie saak wat jou agtergrond of erfenis is nie, jy moet opstaan en verklaar, “Ek is aan die Here se kant! Ek sal staan teen alle aanvalle teen Sy majesteit en getrouheid. Ek sal alle vrese en twyfel neerwerp. En ek sal heeltemal en finaal afreken met alle geneigheid tot wêreldse plesiere en afgodery. Ek gee nie om of my familie of vriende misluk het nie, ek is aan die Here se kant!”

Is daar iets binne-in jou wat jou dring na ‘n hoër stand in die Here? Voel jy ‘n vuur vir Hom wat binne-in jou aan die brand gesteek word? Voel jy jy word getrek tot hernude geloof en vertroue in God? Wees dankbaar! Dit is die stem van jou Moses – Jesus Christus die Here – wat jou roep om vir Hom te staan in hierdie goddelose tyd!

Mag God jou help om waaksaam te wees vir die verdorwenheid van om Sy sorg vir jou in twyfel te trek. En mag jy geduldig wag in geloof vir God om alle dinge ten goede vir jou mee te werk. Sy belofte vir jou is selfs groter en kosbaarder as Sy belofte aan die Leviete. Hy sê vir jou: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Korinthiërs 2:9).

Sal jy jou swaard opneem vir Hom vandag? Sal jy vir Sy naam se onthalwe staan in hierdie bose uur? Gee Hom jou hele hart, al mag dit swak wees. En Hy sal jou ‘n goddelike erfenis gee ver bokant jou grootste drome! Halleluja!