VERANDER NA CHRISTUS ALLEEN

David Wilkerson (1931-2011)

Die hart van die ware boodskap van genade is nie ‘n verdraaide evangelie nie, maar een wat heiligheid leer!

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Volgens Paulus, lewe ons nie in genade totdat ons gebreek het met wêreldse verdorwenhede nie. As ons nie deur die krag van die Heilige Gees poog om goddelike en regverdige lewens te leef en uitsien na die Here se koms tydens elke oomblik waarop ons wakker is nie, dan ken ons nie God se genade nie.

Die meeste Christene wil vergifnis hê – maar dit is al. Hulle wil nie verlos word van hierdie huidige wêreld nie, omdat hulle dit liefhet. Hulle is verslaaf aan hulle sondes en wil nie die plesiere van hierdie wêreld prysgee nie. Daarom klou hulle vas aan ‘n leerstelling wat sê, “Ek kan leef soos ek wil – solank ek sê dat ek glo.’ Dit is jammer dat hierdie Christene nie wil hoor van gehoorsaamheid, bekering en selfopoffering nie. Hulle wil liewer in hierdie wêreld leef sonder selfbeheersing.

Paulus skryf, “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Ons moet heeltemal met hierdie wêreld breek en verander word na Christus alleen!

Jesus regverdig ons deur geloof vir ‘n doel - om ons aan te moedig en ons te bemagtig om die duiwel te weerstaan en die wêreld te oorwin met die krag van God se Gees. Ja, Jesus het vir ons gesterf sodat ons die ewige lewe kan hê, maar Hy het ook gesterf sodat ons verlossing in en van hierdie teenwoordige bose wêreld kan geniet!

“Jesus Christus, wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galásiërs 1:4).