VERANDER MY HART?

David Wilkerson (1931-2011)

“Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Korinthiërs 13:5).

Die Griekse woord vir “ondersoek” hier, beteken “bestudeer, evalueer.” Die apostel Paulus sê in wese, “Toets jouself om te sien of jy volgens God se Woord lewe.” Ons moet voortdurend vir onsself vra, “Verander ek? Word ek meer liefdevol en goedhartig? Is my gesprekke meer regverdig? Kla ek steeds of begin ek opbouende woorde van geloof te spreek? Probeer ek bewustelik om Jesus te behaag?” 

Ons moet hierdie saak van selfondersoek baie ernstig beskou. As jy ‘n Christen is, maar steeds apaties is teenoor jou geestelike groei, dan het jy nie toegelaat dat God se Gees sy werk in jou doen nie. Vra jouself af of jy meer opgewonde raak oor Jesus en sy Kerk elke dag. Of hou jy wrokke, griewe en wortels van bitterheid?

Dit is moontlik vir jou om groei te beleef op baie gebiede in jou lewe en tog kinderlik te bly op ander gebiede. Hier is ‘n maklike toets om te bepaal of geestelike groei plaasvind. Vra bloot vir jouself, “Is ek dors? Wil ek meer van Jesus en sy heiligheid hê?” As die antwoord ja is, kan jy verseker wees dat jy groei, want die Woord beloof, “Salig is die wat honger en dors van geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matthéüs 5:6).

Wil jy geestelik groei? Indien wel, vra die Heilige Gees om sy lig op enige gebied van swakheid of sonde in jou lewe te skyn en roep uit tot Hom, “Here, ek het U lief en verlang om U beter te leer ken. Ek wil gehoorsaam wees aan u Woord. Help my asseblief om deur geloof te besef dat U besig is om te werk in my en my in staat stel om geestelike te groei!”

Moenie vergeet nie, God staan nou reg langs jou, selfs as jy in ‘n storm is. Hy maak jou gees nat, voed jou siel, vestig sterk wortels binne-in jou – en help jou om in Hom te groei!