VAT JESUS SE HAND EN VOLG

David Wilkerson (1931-2011)

Geliefde, wanneer jy by die kruis kniel, sal jy nie ‘n gerusstellende, sagte woord hoor nie – nie aanvanklik nie. Selfs al is die kruis die enigste deur na die lewe, sal jy hoor van die dood – dood vir alle sonde.

By die kruis beleef jy die krisis van jou lewe en dit is wat kortkom in so baie kerke vandag. Die verkondiging van die kruis bring ‘n krisis van sonde en eie wil teweeg. Dit sal tot jou spreek met liefdevolle, maar ferm woorde oor die gevolge van voortgaan in jou sonde: “Verloën jouself. Gryp die dood van die kruis aan. Volg My!”

Bekering beteken meer as om te sê, “Here, ek is verkeerd.” Dit beteken ook om te sê, “Here, U is reg!” Dit is ‘n plek van bekentenis waar jy erken, “Ek kan nie voortgaan met my sonde terwyl die Heilige Gees binne-in my leef nie. Here, U is reg dat sonde die dood oor my bring en ek besef dat as ek daarmee voortgaan, sal dit my en my familie vernietig.”

Die heerlike waarheid van die evangelie is dat, as ons saam met Jesus sterf, dan sal ons ook kom by die heerlikheid van sy opstanding en in die nuwigheid van die lewe. Sy kruis is ons kruis, sy dood is ons dood, en sy opstanding is ons opstanding, deur ons identifisering en vereniging met Hom. Dit is die ware kruis wat ons dra. Dit is egter die kruis waarmee talle sogenaamde bedienaars van die evangelie egter weggedoen het. Die ware kruis handel nie oor die lieflike woorde wat ons Verlosser se lyding en bloeding op Gólgota beskryf nie. Nee, die ware betekenis van die kruis is dat Jesus gebloei en gesterf het om ons sondesiek siele na heerlike vryheid te bring – om elke boei van die sonde wat ons verslaaf te verbreek!

Jesus kom na ons en sê, “Neem my hand en volg My – in my dood, my begrafnis, my opstanding. Kyk na die kruis en gryp dit aan. Hou vas aan my oorwinning!” Dank God, jy kan Jesus se oorwinning en krag in jou lewe hê!