UITOEFENING VAN ONS GESAG

Gary Wilkerson

Terwyl Petrus en Johannes eendag op pad was om te bid, het hulle op ‘n kreupel man afgekom wat by die poort van die tempel gelê het en vir aalmoese gevra het. Toe hy sy versoek hoor, het Petrus vir die man gesê om na hulle te kyk. Die kreupel man het iets van hulle verwag, maar in plaas daarvan, het hy Petrus hoor sê, “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasárener, staan op en loop!” (Handelinge 3:11).

Wat ‘n interessante frase: “Maar wat ek het.” Petrus het binne-in hom die vermoë gehad om in die Naam van Jesus te verklaar, “Staan op en loop!” Let op dat Petrus nie oor die man gebid het voor hy hierdie proklamasie gemaak het nie. Omdat hy die Heilige Gees binne-in hom gehad het, het Petrus geweet wat die Vader besig was om te doen, sodat hy dit as ‘n werklikheid kon verkondig. Trouens, hy was so vol vertroue dat hy afgereik het, die kreupel man aan die regterhand geneem het, en hom op sy voete gelig het. Onmiddellik het krag die man se voete en enkels binnegedring en hy het begin loop, spring en God prys.

Daar is ‘n tyd om te bid, “As dit U wil is,” selfs wanneer dit by genesing kom. Daar mag tye wees wanneer jy nie oortuig is dat die Here iemand gaan genees nie, maar as jy daardie gevoel van vertroue in jou gees ontvang, moenie terughou nie! Begin om met geloof vir mense te bid, “Jy is genees in die Naam van Jesus!”

Brei hierdie gebed ook uit na ander omstandighede:

“Jou huwelik word herstel in die Naam van Jesus!”

“Jy word vrygemaak in die Naam van Jesus!”

“My seun/dogter kom huistoe in die Naam van Jesus!”

Daar is krag in die Naam van Jesus! Ons moet ons gesag uitoefen om die Woord van die Here oor mense en omstandighede te proklameer omdat Jesus gesê het, “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Matthéüs 28:18).