UIT DIE WOESTYN GELEI

David Wilkerson (1931-2011)

Vandag dra talle diensknegte van God swaar laste en God wil almal herinner, “My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop” (Jesaja 51:5).

God sê in wese, “Ek het reeds die woord van jou verlossing gespreek – Ek het dit in my verbondsbeloftes uitgevaardig – en Ek het my magtige arm uitgestrek om jou uit jou woestyn belewenis uit te haal. Waarom eis jy nie op wat Ek uitgevaardig het en lewe in die lig van my vryheid, blydskap en vrede nie?

God belowe sy kinders, “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere” (51:3). Hy wil hê sy kinders moet weet, “Ek gaan vir jou vertroosting bring. Tans is al wat jy sien mislukking, maar dit is op die punt om te verander! Ek gaan jou woestyn in ‘n tuin verander waar jy in my blydskap sal ingaan.”

Dit is nie dwase, leë beloftes nie. Dit word aan ons gespreek deur Almagtige God, Hy wat oor alles heers. Sy gedagtes vir sy kinders is goed; Hy het ons lief en Hy is daarop ingestel om ons te verlos van alle vrees en depressie. Maar die Here wil vir ons wys hoe ons by so ‘n lae toestand uitgekom het. “Jy het toegelaat dat die duiwel op jou trap.”

Ons sien ‘n voorbeeld hiervan in Koning Dawid, wat erken het, “Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart” (Psalm 38:9). Dawid het geweet hy het sy moedeloosheid vererger deur toe te laat dat sy eie vrees sy bekommernis aanhits.

Dan sien ons die vrees wat die dissipels beleef het toe hulle in ‘n verskriklike storm was. Hulle boot was heen en weer geslaan deur kragtige winde en hoë branders ... maar toe het Jesus verskyn met sy lewegewende boodskap: “Dit is Ek! Moenie vrees nie” (Matthéüs 14:27).

Dit is die boodskap vir elke gelowige vandag. Jesus is met jou in jou krisis en Hy sal by jou kom en vrede spreek.