UIT DIE PUT UIT

Gary Wilkerson

Het jy al ooit gevoel of jy in ‘n put geval het? Jou “put” kan ‘n moeilike verhouding, ‘n finansiële gat, of ‘n siekte wees waarteen jy al ‘n lang tyd stry. Jou eens intieme wandel met Christus voel soos ‘n droom van lank gelede en jy word versoek om terug te val in ‘n ou sondige gewoonte of ongesonde lewenspatroon. Wel, wees bemoedig! God het iets kragtigs om aan jou te sê oor waar jy tans is.

Josef se storie in Génesis vertel vir ons baie van putte. Twee woorde herhaal hulleself immers regdeur die Génesis verhaal van Josef: droom en put. Amper elke keer wat Josef ‘n droom gehad het, het dit tot ‘n put gelei; die eerste keer was toe hy gedroom het hy heers oor sy broers. In sy jeugdige entoesiasme, het hy sy droom aan hulle meegedeel, maar dit het nie goed afgeloop nie. Hierdie mans het so verteer geraak met woede, dat hulle hul kleinboetie in ‘n put gegooi het. God het dit egter gebruik as ‘n manier om die proses te verhaas om Josef in ‘n posisie te plaas om sy koninkryksdoel te bereik. Josef was uitverkore!

Dink aan die ontsaglike trajek van die lewe van hierdie tienerjarige herder, hierdie dromer, wat tweede in bevel van die wêreld se grootste koninkryk geword het. Sy pad na die vervulling van God se plan was nie maklik nie, maar langs die pad was hy gewillig om elke toets getrou deur te gaan, terwyl God hom strategies geposisioneer het vir sy bestemming.

Baie gelowiges is te bang om met geloof te droom. Hulle sal liewers in hulle huidige put bly sit as wat hulle die risiko sal neem om na hoër grond te beweeg. Hulle weet dat daar ‘n prys is om God te volg, ‘n offer wat die onbekende insluit en hulle sidder om dit te betaal.

Ek moedig jou aan om die droom wat God vir jou gegee het op te tel. Vra God om jou vrees vir geloof om te ruil en om jou te gebruik ten spyte van jou talmende angstigheid. Hy sal juig oor jou geloof en jy sal op sy pad na grootheid wees.