UIT DIE DONKERSTE TYE

David Wilkerson (1931-2011)

Die profeet Jesaja waarsku ons dat God in die laaste dae die wêreld onderstebo gaan keer. Hy sê: “Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners” (Jesaja 24:1). Volgens hierdie profesie, kom daar skielike oordeel oor die aarde en dit sal alles verander binne 'n kort tydsbestek. Die mensdom sal beleef dat ‘n vinnige verwoesting oor ‘n stad en ‘n land kom, en die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie.

As jy aan materiële dinge geheg is – as jy hierdie wêreld en die dinge daarvan liefhet – sal jy nie wil hoor wat Jesaja geprofeteer het nie. Trouens, selfs vir die mees regverdiges van God se kinders, is dit ondenkbaar wat Jesaja sê; baie sal sekerlik vra: “Hoe kan die hele wêreld in een uur getref word?” Die Skrif maak dit duidelik: Die wêreld gaan verander; die kerk gaan verander; elke individu op aarde gaan verander.

In Jesaja se profesie, word die stad onder oordeel in verwarring gewerp:  “Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand daar kan inkom nie” (Jesaja 24:10). Die hele stad is verwoes (sien 24:12).

Toe die Twin Towers in New York City aangeval is, kon vir myle ver gesien word hoe die onheilspellende brande en rook in die lugruim opstyg. Jesaja dui nie die stad aan waarop vernietigende oordeel sal val nie, maar enige groot stad in die wêreld is kwesbaar.

Jy mag dalk vra: “Wat van God se kinders te midde van dit alles?” In die donkerste ure sal ‘n wêreldwye koor van stemme lofliedere sing tot eer van God: “Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die HERE juig hulle van die see af” (24:14).

Dit is die hoop van ons allerheiligste geloof: ons Here laat daar ‘n lied uit die donkerste tye kom. Begin nou om jou heilige geloof in Hom op te bou en leer om stil sy majesteit in jou hart te prys. Wanneer jy jou lied sing, sal dit jou broers en susters versterk en bemoedig en dit sal getuig teenoor die wêreld: “Die HERE het gesit oor die Watervloed” (Psalm 29:10). Halleluja!