Twyfel — Die Sonde Wat God Die Meeste Haat

Van al die sondes wat ons kan pleeg, is twyfel die één wat die meeste deur God gehaat word. Volgens beide die Ou en Nuwe Testament, bedroef ons twyfel die Here, dit maak Hom kwaad en veroorsaak vir Hom baie pyn. Ons sien ‘n uitstekende voorbeeld hiervan in antieke Israel, nadat God sy volk uit die hande van Farao verlos het.

Die Psalmis treur, “Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen, goddeloos gehandel. Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee” (Psalm 106:6-7).

Die skrywer maak hier ‘n belydenis. Wat was die bose sonde wat Israel gepleeg het? Dit was hulle twyfel daaraan dat God hulle verder sou verlos, selfs nadat Hy ‘n ontsaglike wonderwerk vir hulle by die Rooisee gedoen het.

Die Psalmis vra ons om onsself voor te stel waar God se volk aan die kant van die see gestaan en jubel het. Die Here het pas een van die grootste wonderwerke in die geskiedenis van die mensdom verrig en Israel verlos van die magtige Egiptenare. Hoe het dieselfde mense egter gereageer toe hulle daarna swaarkry beleef het? Hulle het God se getrouheid in twyfel getrek.

Die skrywer het in wese gesê, “Kan jy dit glo? Ons Here het bonatuurlik vir ons opgetree en ons van die vyand verlos. Selfs na hierdie ontsaglike wonderwerk, het ons Hom egter wantrou. Hoe kon ons God ooit op daardie manier uitgetart het?”

Dit was ‘n heeltemal ander storie toe Israel op die oorwinningskant van die see gestaan het. Hulle het gesing en gedans terwyl hulle gekyk het hoe die magtige Egiptiese leër gesink het en verwoes is: “En Hy het die Skelfsee gedreig, sodat dit opgedroog het, en hulle deur die watervloede laat gaan soos deur ‘n woestyn. En Hy het hulle verlos uit die hand van die hater en hulle bevry uit die hand van die vyand. En die waters het hulle teëstanders oordek: nie een van hulle het oorgebly nie. Toe het hulle aan sy woorde geglo, hulle het sy lof gesing” (Psalm 106:9-12).

Die Israeliete het die regte lied gesing — ‘n lied van lof aan die almagtige God — maar hulle het dit aan die verkeerde kant van die see gesing. Enigeen kan sing en juig nadat hulle die oorwinning gekry het. Maar Israel het ongelukkig misluk aan die beproewingskant van die Rooisee. Hulle het God glad nie daar vertrou nie.

Nou, nadat hulle ‘n wonderbaarlike verlossing uit Egipte beleef het, het die Psalmis hierdie skokkende verklarings gemaak: “Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie...Hulle het ook die kosbare land versmaad, sy woord nie geglo nie” (Psalm 106:13,24).

Sien jy wat hier gebeur? God het Homself bewys aan sy volk in Egipte en ontsaglike tekens en wonders vir hulle gedoen. Op tien verskillende geleenthede, het Hy oordeel oor Egipte gebring, maar die Israeliete veilig bewaar.

Volgens die Psalmis, het hierdie wonderwerke absoluut geen indruk op Israel gemaak nie. Toe die moeilike tye kom, het die mense waarskynlik teruggekyk en daardie vorige wonders gesien as blote natuurlike rampe. Moses het hulle probeer oortuig dit was God wat namens hulle opgetree het. Hy het gepleit, “Die Here gebruik hierdie wonderwerke om julle verlossing te bewerkstellig.” Maar hulle het God steeds in twyfel getrek en sy magtige werke vir vanselfsprekend aanvaar.

Natuurlik moet ons nooit ons geloof op wonderwerke alleen bou nie. Die Heilige Gees versterk eerder ons vertroue in die Here deur middel van ons beproewings en toetse. Nietemin, Israel het egter tien aardskuddende tekens en wonders gesien, soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie. Maar hulle het by die Rooisee aangekom sonder ‘n greintjie geloof in God.

Israel het aan die oorwinningskant van die Rooisee aangekom. Die plek waar hulle gestaan het, was in Hebreeus bekend as “die ingang tot ‘n steil krans.” Die naam beteken ook “op die rand van ‘n krisis.” God se volk het  letterlik gebalanseer op die rand van ‘n groot wildernis. Die Here het hulle egter daarheen gelei, omdat Hy ‘n plan vir hulle in gedagte gehad het.

In die komende dae, sou God bonatuurlik voorsien vir elke behoefte wat sy mense gehad het. Daar was geen kruidenierswarewinkels in die wildernis nie, tog sou Israel gevoed word met manna uit die hemel. Daar was geen water nie, maar die Here sou fonteine uit ‘n rots laat opspring om hulle dors te les. Daar was geen winkelsentrums nie, maar die mense se klere en skoene sou wonderbaarlik nooit verslyt nie. God het nie ‘n ‘n enkele onvoorsiene omstandheid oorgesien nie.

Hy het hulle selfs met silwer en goud oorlaai voor Hy hulle uit Egipte gebring het. Toe hulle eers in die woestyn was, het Hy vir hulle bonatuurlike krag beskik. Daar was nie een swak persoon onder hulle nie. God het hulle van die skroeiende woestyn son beskerm deur hulle met ‘n wolk te oordek. In die nag, het Hy ‘n bonatuurlike vuur voortgebring om hulle warm te hou in die woestyn se koue en hulle te vertroos met ‘n gloed wat die donkerheid opgehelder het.

Ek sê vir jou, Israel het hoegenaamd geen gevaar beleef nie, omdat God vir hulle om elke draai voorsien het. Daar was egter een ding wat Hy nie kon voorsien nie: vertroue en geloof. Selfs nadat God baie kere wonderbaarlik voorsien het, het sy volk aangehou om in Hom te twyfel.

Laat my jou nou eers ‘n vraag vra: waarom dink jy het God Israel as sy volk gekies? Per slot van rekening was hulle maar ‘n klein nasie, ‘n nietige volkie. Watter doel het God gehad om hulle uit Egipte te neem en hulle in Kanaän te plaas? Was dit om vir hulle mooi huise, wingerde en oorvloed melk en heuning te voorsien? Was dit om vir hulle ‘n lewe van gemak te beskik, sodat hulle vrylik kon offer en aanbid, vir geslag na geslag?

Nee. Hierdie groot verlossing het nie gegaan oor God wat sy mense na ‘n plek gebring het waar hulle hulself heeltyd kon verlustig in sy seëninge nie. Dit is duidelik dat die Here iets in sy mense probeer doen het deur hierdie belewenis. Hy het hulle tot op die randjie van ‘n katastrofe gebring om ‘n krisis te beleef soos nog nooit tevore nie.

Eenvoudig gestel, God wou sy mense oplei om sy boodskappers vir ‘n verlore wêreld te word. Jy sien, sy doel van die heel begin af was om uit te reik na ‘n verlore mensdom. Hy het Israel gekies om ‘n lig vir die nasies te wees, ‘n skitterende voorbeeld van sy genade en liefde. Hy wou hê die wêreld moes weet dat Hy ‘n hart van liefde het vir elke nasie, selfs diegene wat teen Hom gesondig het.

Israel se profete het dit geweet. Hulle het keer op keer geprofeteer dat God se wet vanaf Jerusalem na die res van die wêreld sou uitgaan. En nou, hier in die wildernis, het God begeer om ‘n “eerste geslag,” wat Hom volkome sou vertrou, te vorm. Hy wou aan die nasies bewys dat daar slegs een God is en dat Hy sy wonders deur ‘n volk wat glo, doen.

Die Here sal egter nie werk deur ‘n volk wat vol twyfel en ongeloof is nie. Die Bybel vertel vir ons, “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 1:6). Selfs Jesus self was verhoed om wonders te doen toe die mense nie geglo het nie: “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie” (Matthéüs 13:58).

Geliefde, die Here het ons gered, nie sodat ons eenvoudig kan voortgaan om eindeloos sy goedheid, genade en heerlikheid te geniet nie. Hy het ‘n ewige doel gehad om elkeen van ons te kies. En daardie doel strek verder as ons seëninge, gemeenskap en openbaring. God reik in werklikheid steeds uit na die verlore mensdom. En Hy soek na ‘n gelowige, volk wat Hom vertrou en wat Hy kan vorm in sy grootste evangelistiese werktuig.

Ons Here gebruik nie engele om van sy heerlikheid te getuig nie. Hy gebruik sy mense. En Hy begeer om ons op te lei as ‘n spesiale, “uitverkore” geslag (sien 1 Petrus 2:9). Hy soek daarna om sy woord in ons lewens te bewys, sodat die wêreld dit kan glo wanneer ons dit verkondig. Hy wil aan die ongelowige nasies voorstel ‘n getroue volk, wat geskud is deur moeilike tye, gebreek is deur diepe beproewings, maar wat steeds aanhou om Hom te vertrou.

Ons sien God soek na so ‘n volk in Gideon se dag. Toe Gideon ‘n oproep gerig het aan vrywilligers om teen die Midianiete te gaan veg, het duisende Israeliete gereageer. Maar die Here het vir Gideon gesê, “Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee...Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai” (Rigters 7:2-3).

God het in wese vir Gideon gesê, “As enigeen hier bang is, beveel hom om nou huistoe te gaan. Ek sal nie toelaat dat my leër met vrees geïnfekteer word nie.” God het inderdaad vrywilligers vir sy leër weggewys. Op een stadium, is 22,000 twyfelaars huistoe gestuur. Gideon het uiteindelik die aantal vrywilligers uitgedun na 10,000, maar God het vir hom gesê daar is nog te veel. Die Here het uiteindelik op 300 oorlog beproefde soldate besluit.

Dit behoort vir ons iets te sê. As die Here evangelie boodskappers soek om uit te stuur na die wêreld, sal Hy nie kerke, wat se banke vol vreesagtige, twyfelende, onbeproefde mense is, werf nie. Hy sal nie soek na magtige, doeltreffende godsdienstige organisasies of hoogs opgeleides uit die kweekskool nie. God gebruik wel organisasies en die hoogs opgeleides, maar in hulleself, het nie een van hulle die hulpbronne wat nodig is om God se beproefde en getoetste boodskappers te wees nie.

So, wat is nodig om ‘n verlore en lydende wêreld te bereik? ‘n Klein leër van soldate wat ingeskryf is by die skool van swaarkry en beproewings. God soek diegene wat gewillig is om getoets te word. So, Hy neem almal, wat gewillig is om getoets te word deur vuur, wie se geloof Hy kan louter en so suiwer soos goud voortbring, in diens.

Regdeur my jare in bediening, het ek ‘n patroon in die lewe van die meeste Christene raakgesien. Amper onmiddellik nadat God ons gered het, lei Hy ons in die wildernis van beproewing in. Dit is selfs waar in Jesus se lewe. Toe ons Here uit die doopwaters gekom het, was Hy deur die Gees na die woestyn gelei, waar Hy ten seerste getoets was (sien Lukas 4:1-2). Dieselfde ding het met die Israeliete gebeur. God het skaars sy volk uit Egipte gelei, toe hulle gelei is na die randjie van ‘n wilderniskrisis.

Waarom is dit so? Dit is omdat God mense wil hê wat Hom voor die wêreld sal vertrou in onmoontlike situasies. En jy kan seker wees dat die wêreld toekyk, terwyl sy dienaars beproewings en toetse deurstaan, terwyl hulle aan geloof vashou.

Ons sien hierdie soort vertroue in Daniël gedemonstreer. Daniël se jaloerse mede goewerneurs het teen hom saamgesweer en Koning Darius oortuig om gebed vir dertig dae te verbied. Net soos sy ampsgenote verwag het, was Daniël ongehoorsaam aan daardie verbod en het aangehou bid, drie keer per dag. Hoewel Koning Darius Daniël gerespekteer het, was hy deur sy eie bevel geforseer om hierdie toegewyde man in die leeukuil te gooi.

Daniël was ten volle bewus, dat die straf vir die verontagsaming van die verbod op gebed, die dood was. Tog het hy nooit opgehou bid nie, omdat hy God vertrou het. Hy het geweet die Here sou hom deurdra deur hierdie beproewing.

Die hele tyd deur sy vuurproef, het Koning Darius Daniël angstig dopgehou. Hy het elke moontlike manier probeer om Daniël te red, maar hy kon doodeenvoudig nie. Uiteindelik, net voor Daniël in die leeukuil gegooi is, het die koning hom gerus gestel, “Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!” (Daniël 6:17). Daardie nag kon die koning egter nie slaap nie. Die Skrif sê hy het “na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring” (Daniël 6:19).

As jy vir die wêreld vertel dat Jesus jou Here en Verlosser en Geneesheer is, ‘n God wat die onmoontlike kan doen, sal hulle wag en kyk om te sien hoe jy in ontmoontlike situasies reageer. Hulle oë is vasgenael op almal wat roem in God se goedheid, krag en heerlikheid. En die duiwel kyk ook toe en hoop ons geloof sal misluk.

Die Psalmis skryf, “o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van mensekinders” (Psalm 31:19). Wat is hierdie “groot goedheid” wat God weglê vir diegene wat Hom vertrou deur moelike tye? Dit is ‘n ondeurdringbare, heerlike getuienis aan die wêreld dat jou geloof enige situasie kan oorleef.

Hoe het God op Daniël se geloof gereageer? Hy het die monde van daardie honger leeus toegesluit. Die volgende oggend, was Koning Darius vroeg op, angstig om te sien of God Daniël se gebede beantwoord het. Hy het gou na die leeukuil gehardloop en “met ‘n droewige stem na Daniël geroep...Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?” (Daniël 6:21).

Dit is steeds die vraag van die uur. Net soos Darius, begeer die wêreld om ‘n getuienis van God se bewarende krag te sien. En hulle sal aanhou vra totdat Jesus kom, “O, Christen, ek sien jy dien God getrou. Jy vas, bid en getuig van sy heerlikheid en mag. Nou is jy egter in die beproewing van jou lewe. Sê vir my, dra God jou deur hierdie vuurproef? Wat is jou getuienis nou dat jy in die leeukuil is?”

Jy kan jou voorstel Darius se blydskap toe hy Daniël se stem gehoor roep het, “Mag die koning vir ewig lewe!  My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie” (Daniël 6:22-23). Daniël was perdfris en gesond. Ek glo egter nie hierdie goddelike dienaar het rustig deur die nag geslaap nie. Daniël was geen supermens nie, nes ons vandag. En ons God verwag nie van ons om onnatuurlik op te tree wanneer ons sulke krisisse beleef nie. Ons gevoelens van onsteltenis tydens sulke oomblikke is normaal.

Na my mening, het Daniël heelnag gewaak en gebid. Elke keer wanneer ‘n leeu gegaap en sy tande gewys het, moes Daniël stilweg uitgeroep het, “Ek vertrou steeds, Here. Ek glo U gaan daardie dier se bek toesluit. “So is Daniël uit die kuil opgetrek sonder dat daar ‘n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het” (Daniël 6:24).

Een man het God vertrou voor die oë van mense. ‘n Hele koninkryk is aangeraak. Die Bybel verklaar: “Toe het Koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe...Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe. Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde, Hy wat Daniël uit die mag an die leeus verlos” (Daniël 6:26-28).

Sien jy wat Darius hier gesê het? Hy het God verhoog, nie net vir sy natuurlike wonders nie, maar omdat hy Daniël uit die dood verlos het. Hierdie heidense koning het net nodig gehad om een gelowige, wat waarlik geglo het wat hy gepreek het, te sien. En op sy beurt het hy verklaar, “Ek het ‘n man, wat ‘n getuienis van sy God gehandhaaf het, gesien. Hy het nooit getwyfel nie. En die Here het hom verlos uit die magte van die hel.”

Daar bestaan ‘n plek in Christus waar daar geen angs oor die toekoms is nie. In hierdie plek, is daar geen vrees vir ‘n skielike ramp, of beproewing, of werkloosheid nie. Daar is geen vrees vir mense, mislukking, of om jou siel te verloor nie. Hierdie plek is een van totale vertroue in God se getrouheid. Die skrywer van Hebreërs noem dit ‘n plek van volmaakte rus.

So ‘n volmaakte rus was vir Israel aangebied. Maar die mense se twyfel en ongeloof het hulle uit God se rus uitgehou: “Diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie” (Hebreërs 4:6). Die Israeliete het in voortdurende vrees en angs geleef, altyd op wag vir die volgende krisis om plaas te vind. Die gevolg was dat hulle troosteloos in hulle beproewings gelaat is.

As Israel sy rus binnegegaan het, sou God se werk in sy volk volmaak gewees het. Maar omdat hulle nie het nie, het die Here aangehou om in elke geslag ‘n volk te soek wat dit wel sal binnegaan: “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9).

God vertel vir ons, “Hierdie offer van rus is vir jou, vandag. Daar bestaan steeds ‘n plek binne-in my waar alle twyfel en vrees glad nie meer bestaan nie. Dit is ‘n plek waar jy voorberei sal word vir wat ook al mag kom.” Daarom dring sy Woord by ons aan, “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie” (Hebreërs 4:1).

Vandag weet menigtes van God se mense niks van hierdie rus in Christus nie. As hulle die verskriklike berigte in die daaglikse nuus lees — berigte van tragedies, rampe en dodetalle — word hulle gevul met vrees en angs. Hulle aanhoudende gebed is, “O, God, moet asseblief nie my geliefdes wegneem nie. Ek sal nooit die droefheid kan hanteer nie.”

As jy egter rus in die Here, sal jy nie aan vrees toegee nie. Jy sal nie paniekerig raak of ineenstort as jy deur een of ander onverwagse krisis getref word nie. En jy sal nie hoop verloor nie en God blameer vir jou probleme nie. Ja, jy sal die pyn wat alledaags is vir elke mens verduur. Maar jy sal rustig wees in jou siel, omdat jy weet God is in beheer van alles wat jou betref.

My vrou, Gwen, was vier-en-dertig jaar oud toe kanker die eerste keer by haar gevind is. Ons was platgeslaan toe ons die nuus kry. Ons het pas ons familie na New York verskuif, sodat ek ‘n bediening onder die straatbendes kon begin. Soos dit gebeur het, moes ek wanneer ek deur die strate geloop en preek het vir bendelede en verslaafdes, trane van vrees en angs probeer inhou. Maar die Here het my gedurig deur gerus gestel, “Ek is getrou, Dawid. Ek sal jou of jou geliefdes nie verlaat nie.” God het saam met my geloop deur daardie vreesaanjaende vuurproef van kanker en elke ander een wat gevolg het.

Ja, die Here wil nie oorwinning vir ons hê as ‘n eenmalige belewenis nie. Sy doel is nie vir ons om uit ons krisis te kom en te sê, “Dankie God, ek het my geloof daardeur behou” nie. “Ja, jy mag dit deur daardie een gemaak het. Maar, soos triomferende Israel by die Rooisee, sal daar uiteindelik nog ‘n beproewing kom. En dit mag ‘n heeltemal ander soort toets wees.

Om in God se rus te lewe, is ‘n manier van lewe. Hy wil hê dat ons in stand gehou word deur sy vrede en vertroue in al ons beproewings met die wete ons Hoëpriester word aangeraak deur ons gevoel van swakhede.

Moenie verkeerd verstaan nie: Ek praat nie daarvan om een of ander toestand van nirvana te bereik nie. Baie New Age meesters maak daarop aanspraak dat die enigste manier om toekomstige krisisse te deurstaan, is om nou jou hart te verhard en al jou liefde dood te maak. Kortliks, as jy eenvoudig ophou om vir mense om te gee, dan sal jy nie seerkry nie. Daarom moet jy jouself staal teen die lewe se rampe.

God word egter nooit verheerlik wanneer sy dienaars hulleself verdoof tot by ‘n punt van bedwelming nie. Dit is nie waaroor sy rus gaan nie. Dit gaan daaroor om te leer om sy belofte te vertrou om aan ons getrou te wees in alle dinge.

Ek is ‘n vader van vier en ‘n oupa van elf. En ek kan jou eerlikwaar sê, daar was nog nooit ‘n oomblik waarin ek kon bystaan en sien hoe my nageslag ly, sonder om nie ook saam met hulle te ly nie. Tydens sulke tye, het ek alles in my vermoë gedoen om hulle te genees en te verlos. Ek vra jou: hoeveel te meer het ons hemelse Vader ons lief, wandel met ons in ons beproewings en begeer Hy om ons seerkry te genees?

Om in God se rus in te gaan, moet ons ons eie pogings en sweet laat vaar. Geloof alleen gee ons toegang tot hierdie volmaakte rus: “Want ons wat geglo het, gaan die rus in” (Hebreërs 4:3). Eenvoudig gestel, ons moet ons harte daarop instel om te glo, dat God getrou is om ons uit elke omstandigheid te verlos, maak nie saak hoe onmoontlik dit mag lyk nie.

“Want wie sy rus ingegaan het, rus ook self van werke soos God van syne” (Hebreërs 4:10). Wanneer ons in Christus rus, probeer ons nie meer om ‘n dapper gesig op te sit in tye van swaarkry nie. Ons pomp nie een of ander nagemaakte aanvaarding van ons krisis op nie. En ons is nie bekommerd dat ons moontlik kan ingee vir een of ander vrees en God se liefde bevraagteken nie. Kortliks, ons “werke mentaliteit” het opgehou om ons te dryf. Nou het ons geleer om doodeenvoudig die Here te vertrou.

Hoe ontwikkel ons so ‘n vertroue? Ons soek die Here in gebed, bepeins sy Woord en wandel in gehoorsaamheid. Jy mag beswaar maak, “Maar daardie dinge is alles werke.” Ek stem nie saam nie. Dit is alles handelinge van geloof. As ons hierdie dissiplines onderhou, vertrou ons dat die Heilige Gees in ons werk en ‘n reservoir van sterkte opbou vir ons tyd van nood. Ons mag dalk nie God se versterking binne-in ons of sy krag wat in ons opbou, voel nie. Maar wanneer ons volgende beproewing kom, sal daardie hemelse bronne in ons geopenbaar word.

Dit is die grootste rede waarom ek die Here ywerig soek — vas, gebed, studeer, soekend om sy gebooie te gehoorsaam deur die krag van die Heilige Gees. Dit is nie omdat ek ‘n bedienaar is wat ‘n voorbeeld wil stel nie. Ek doen hierdie dinge omdat ek weet ek het steeds baie beproewings wat voor my lê. So lank as wat ek die Here dien, sal die duiwel my nooit met rus laat nie. Ek gaan te staan kom teen intense oorlogvoering en verrassingsaanvalle. En ten spyte van al die oorwinnings en vrede wat ek reeds beleef het, sal ek altyd die hemelse bronne nodig hê om my te help om te verdra.

Ek wil ‘n soldaat wees wat ten volle voorbereid is vir die oorlogsveld. En ek weet dat die oorwinning gewen is lank voor die oorlog begin. Dit is gewen in die opleidingskamp, met opleiding en oriëntering. Wanneer die vyand skielik teen my kom, gaan ek alle beskikbare ammunisie nodig hê. En daardie ammunisie word voorsien deur die kragtige Woord van God, soos ek dit in my hart gebêre het. So, die volgende keer as die duiwel aanval, is ek vol vertroue dat ek die reserwes sal hê om te gebruik. Ek sal die oorlog saam met God gewen hê voor die oorlogsveld.

Is jy ‘n toegewyde krygsman en glo jy God rus jou selfs nou ook toe? Indien dit so is, dan vervul jy hierdie drie vereistes:

1. Jy is ‘n ywerige leser van God se Woord.

Soos jy die Skrif bestudeer, begin jy beter verstaan hoe diep God jou liefhet. As jy nie oortuig is van sy absolute liefde vir jou nie, sal jy nie in staat weet om enige krisis wat kom, te hanteer nie. En jy sal oortuig word van sy liefde slegs deur sy Woord te verslind.

2. Jy kweek daagliks intimiteit met God deur kwaliteit gebedstyd.

Ons Here wil hê ons moet tot Hom uitroep in ons tye van krisis. Maar gebed gedurende ons swaarkry is nie genoeg nie. Ons moet ons Vader ook in die goeie tye soek. Ons geloof is nie bedoel om bloot net vir sekere situasies te wees nie. Dit moet kom uit ‘n ontwikkelende verhouding met die Here.

3. Jy vertrou dat God nie sal toelaat dat jy enige beproewing beleef sonder om vir jou ‘n weg te maak waarop jy dit kan hanteer nie.

Sou ‘n groot beproewing oor jou kom, hoef jy nie bekommerd te wees of jy sterk sal wees of flou sal val nie. Ons Vader gee genade wanneer dit nodig is. En as jy ‘n noue, intieme verhouding met Hom gekweek het, sal Hy sy blywende genade in jou uitstort wanneer jy dit nodig het.

God nooi jou uit om in sy rus in te gaan — vandag.