TWEE RIGLYNE VIR AFHANKLIKHEID VAN GOD

David Wilkerson (1931-2011)

Daar is geen formule om volkome afhanklik van die Here te lewe nie, maar daar is eenvoudige riglyne wat jy in ag kan neem. Eerstens, wees oortuig dat die Here gretig en gewillig is om sy wil aan jou te openbaar, selfs in die kleinste besonderhede van jou lewe. Die Heilige Gees wat in jou woon, ken God se wil vir jou en Hy sal jou lei en met jou praat.

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei ... Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:13-14). Jesus sê in wese vir ons dat die Heilige Gees vir ons die gedagtes en wil van God sal oordra. “Sodra Hy hoor, antwoord Hy jou ... jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê, wandel daarop!” (Jesaja 30:19,21).

Jy mag dalk in die middel van ‘n verdrukking of lyding wees as gevolg van ‘n oorhaastige besluit. Die Here het jou belowe, “Jou innerlike oor sal my Gees hoor praat met jou, ‘Gaan soontoe. Doen dit. Doen dat.”

Tweedens, ons moet bid met onwrikbare geloof vir krag om God se leiding te gehoorsaam. Die Skrif sê, “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7).

As God vir ons sê om iets te doen, het ons krag nodig om op koers te bly en Hom volkome te gehoorsaam. Satan en die vlees sal altyd twyfel en vrae plant en ons het krag uit die hemel nodig om nie “ja” te sê vir ‘n situasie wanneer Jesus “nee” gesê het nie.

Wanneer jy nie seker is jy herken die stem van God nie, reik uit na Hom met geloof. Bid, pleit en ween is nie genoeg as jy nie glo dat die Heilige Gees jou sal lei nie. God mislei nie sy kinders nie en Hy sal sy wil duidelik maak as jy Hom soek.