TWEE PILARE VAN VREDE

David Wilkerson (1931-2011)

“U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U ... Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit” (Jesaja 26:3,8).

As jy uitdagende dae beleef, wil Satan jou van alle hoop beroof deur jou met onheilspellende gedagtes te oorval. Jy kan vreesbevange raak as jy obsesseer oor onseker tye, of tyd mors om die toekoms te probeer uitpluis.

Jesaja was oorweldig deur dit wat hy in die wêreld rondom hom gesien het, maar die Skrif openbaar dat hy om twee redes groot vrede geniet het:

  • Jesaja was in voortdurende gemeenskap met God in gebed. “Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit” (26:8). Jesaja was voorbereid vir enigiets omdat hy reeds “sonder ophou gebid het”.
  •  Hy het homself oorgegee aan eenvoudige vertroue in die Here, sy Rots. “Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is ’n ewige rots” (26:4). “Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die Here HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword” (12:2).

Dieselfde wonderlike vooruitsig wat Jesaja in die gevaarlike tye van sy dag gehad het, is vandag vir ons beskikbaar. Die beloftes van rus is van toepassing op “almal  wie se gedagtes op Hom gerig is.”

“En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp” (Jesaja 25:9).

As die storm rondom jou woed, gaan jy na die Here in gebed, soos Jesaja gedoen het? Indien wel, kry jy krag. Rig jou gedagtes op jou soewereine hemelse Vader se liefde en Hy sal sy krag voortdurend aan jou openbaar en jou aanmoedig om dit te maak.