Tuis Verwelkom deur die Vader se Liefde

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo dat die verlore seun in Lukas 15:11-32 huis toe gekom het as gevolg van sy geskiedenis met sy vader. Hierdie jongman het sy vader se karakter geken, en hy moes baie liefde van hom ontvang het. Waarom sou hy terugkeer na 'n man wat dalk kwaad en wraakgierig was, wat hom dalk kon slaan en hom elke sent wat hy vermors het, sou laat terugbetaal het?

Die verlore seun het beslis geweet dat hy nie vir sy sondes veroordeel sou word nie. Hy het waarskynlik gedink: “Ek weet my pa is lief vir my. Hy sal my nie aan my sonde herinner nie. Hy sal my terugneem.”  As jy so 'n geskiedenis het, kan jy altyd teruggaan huis toe.

Die jongman was van plan om sy pa 'n innige belydenis te gee omdat hy dit tot by die huis geoefen het. Toe hy egter voor sy vader staan, het hy nie eens kans gekry om ten volle te bely nie. “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen” (Lukas 15:20, AFR53). Die vader was so bly dat sy seun terug was dat hy hom met soene bedek en in wese gesê het: “Ek is lief vir jou, seun. Kom huis toe en word herstel.”

Die vader het dit alles gedoen voordat sy seun sy belydenis kon voltooi. Die jongman kon die begin van sy toespraak uitkry, maar sy pa het nie gewag dat hy klaar was nie. Vir hom was die sonde van die jongman reeds besleg.

Let op hoe die verlore se vader hom met die seën van goedheid "gekeer" het om homself te straf of homself te verkleineer. Die vader se reaksie was om sy diensknegte te beveel: “Bring die beste kleed uit en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind” (Lukas 15:22-24). Sonde was nie die kwessie vir hierdie vader nie. Die enigste saak in sy gedagtes was liefde. Hy wou hê dat sy seun moes weet dat hy aanvaar is voordat hy selfs 'n belydenis kon uiter.

Dit is die punt wat God teenoor ons almal wil maak. “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4). God se liefde verwelkom ons tuis.