TUIMELENDE MURE

Gary Wilkerson

“Ek wil hê niks in my lewe moet verhinder wat God in my wil doen nie.”

God bring altyd Sy mense op hierdie punt, omdat Hy, voor Hy Sy beste in ons kan laat plaasvind, iets diep binne-in ons moet doen. Hy wil ons Sy oorwinning gee, maar Hy wil ook ons algehele toewyding hê.

Die eerste ses hoofstukke van Josua beskryf die wonderlike werk wat God onder sy mense gedoen het. Israel was bevry van 400 jaar se slawerny. Hulle het pas uit die woestyn gekom nadat hulle veertig jaar daar rondgedwaal het en nou was hulle op die grens van Kanaän, die land wat Hy jare tevore aan hulle belowe het. Hulle het deurgetrek – en wat het toe gebeur? Dadelik het Josua na die jonger geslag mans gedraai en hulle voor God geheilig. Die Skrif gebruik die woord besny om hulle voorbereiding te beskryf, maar die dieper betekenis daarvan is, “Hulle is gereed gemaak.”

Josua het hierdie daad verrig omdat, nou dat hulle deurgetrek het, het hulle te staan gekom teen die dik, ondeurdringbare mure van Jerigo. Om hierdie vyand aan te vat sou onmoontlik wees vir die ongeorganiseerde Israeliete. Tog het God vir hulle gesê, “Die afgelope jare het Ek julle geseën en julle het my ontsaglike rykdom beleef. Maar julle werk is nie klaar nie.”

Hoe het die Israeliete vir hierdie stryd voorberei? Hulle het nie hulle swaarde skerpgemaak of hulle harnasse blink gevryf nie. In plaas daarvan, het die voorbereiding in hulle harte plaasgevind. God het hulle beveel om om die stad te loop terwyl hulle sing, bid en op Hom wag. Laastens het Hy hulle beveel om die trompette op te lig en ‘n enkele blaas te gee. Binne ‘n oomblik het daardie magtige mure neergetuimel.

Josua en sy manskappe het groot heldedade gedoen, hulle vyande verslaan, beter lande beërwe en het groter oorwinnings behaal as ooit tevore. Op dieselfde manier, glo ek die Here wil sy Gees op ‘n verstommende manier uitstort. Hy wil hê ons moet glo dat Hy dit alles wil doen; kortliks, Hy wil hê ons moet ‘n onwrikbare geloof besit.