TOTALE AFHANKLIKHEID VAN GOD

David Wilkerson (1931-2011)

Ons weet almal dat God Israel bonatuurlik sou red. By die brandende bos, was Moses gereed om God te vertrou om daardie glorieryke werk te volbring. Hy sou iets van God se natuur leer wat hom later sou help om die Here te vertrou om alles in vervulling te bring. Wat was daardie aspek van God se natuur? Sy heiligheid!

Dieselfde is waar vir elke Christen vandag. Ons mag moontlik probeer om in die vlees te verrig wat ons dink God wil hê. Maar die Here sê vir ons, net soos Hy vir Moses gesê het, “Daar is net een grond waarop jy My kan nader en dit is heilige grond. Jy kan geen vertroue in jou vlees plaas nie, omdat geen vlees in my teenwoordigheid staande sal bly nie. My doelwitte word nooit bereik deur dit wat jy in jouself tot stand kan bring nie.”

Waarom het God vir Moses beveel om sy skoene uit te trek? (Sien Exodus 3:5.) Die Here het ‘n alledaagse, gewone voorwerp gebruik om ‘n geestelike waarheid te oor te dra, net soos Jesus geldstukke, pêrels, kamele en mostertsade sou gebruik. God het in wese gesê, “Moses, jy moet beskermende drag dra om jou voete teen beserings te beskerm. Maar geen mate van vleeslike beskerming kan jou bewaar op die sending waarop Ek jou stuur nie. Jy sal ‘n wonderwerk van verlossing nodig hê.

“Ek stuur jou na Egipte, om ‘n geharde diktator aan te vat. Jy sal in ‘n situasie wees waaruit net Ek jou kan verlos. So, skuif alle vertroue op jou vlees eenkant toe, selfs jou sagmoedigheid en nederigheid. Anders sal jy nie kan verrig wat Ek jou roep om te doen nie. Al jou vermoëns sal nutteloos wees as Ek dit nie heilig nie. Plaas jou algehele vertroue in my Naam en mag.”

Niemand kan heiligheid bereik in God se oë deur sy eie krag of wilskrag nie. Ons kan nie eens die Here behoorlik dien sonder om die benadering te gebruik wat vir Moses uiteengesit is nie. Ons moet na God kom terwyl ons sê, “Here, ek het niks om U te bied nie. U moet alles doen.”