Toegang tot die Vader deur Jesus

David Wilkerson (1931-2011)

“Omdat Ek lewe en julle sal lewe. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (Johannes 14:19-20). Ons leef nou in “dié dag” waarvan Jesus praat; kortliks, ons moet ons hemelse posisie in Christus verstaan. Natuurlik ken die meeste van ons ons posisie in Christus – dat ons met Hom in hemelse plekke sit – maar net as ‘n teologiese feit. Ons ken dit nie as ‘n belewenis nie.

Wat bedoel ek met hierdie uitdrukking, “ons posisie in Christus”? Posisie is eenvoudig waar iemand geplaas is, waar iemand is. God het ons geplaas waar ons is en dit is in Christus. Op sy beurt, is Christus in die Vader en sit aan sy die regterhand. Daarom, as ons in Christus is, dan sit ons werklik saam met Jesus in die troonkamer, waar Hy is. Dit beteken ons sit in die teenwoordigheid van die Almagtige.

Dit is waarna Paulus verwys as Hy sê dat ons gemaak is om “saam ... [te] sit in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:6). Dit is nie iets wat ons kan bereik nie, dit is iets wat God van jou sê. As jy in Christus is, dan sit jy in die Vader se oë, naby Hom, aan sy regterhand.

Die oomblik wanneer jy jou vertroue in Jesus stel, dan word jy in Christus opgeneem deur geloof. God erken jou in sy Seun, en plaas jou saam met Hom in die hemele. Dit is nie een of ander teologiese punt nie, maar ‘n waarheid en ‘n feitelike posisie. Om “in Christus” te wees, beteken natuurlik nie dat jy hierdie aarde verlaat nie. Jy kan nie een of ander emosie of gevoel wat jou in ‘n letterlike hemel opneem fabriseer nie. Nee, die hemel moet afkom na jou toe. Christus die Seun en God die Vader het jou hart binnegekom en hulle woning daar gemaak: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).

Ja, Jesus is in die paradys, en ja, sy Gees beweeg oor die hele aarde. Maar die Here woon ook spesifiek in jou en my. Hy het ons sy tempel op aarde gemaak, sy woonplek,wat beteken dat ons onverhinderde toegang tot die hemelse Vader het. “Want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader” (Efésiërs 2:18). “In wie ons die vrymoedigheid eh die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom” (Efésiërs 3:12).

Jou hemelse Vader juig oor jou, so laat staan jou wêreldse strewes en neem jou posisie in Christus in vandag!